Besluitnemers uit landbou- en arbeidsgeledere het verlede week byeen gekom om te besin oor die vervaardiging van biobrandstof in Suid-Afrika. "Almal is weg met 'n beter begrip van die uitdagings", het dr. Kobus Laubscher, hoofbestuurder van Graan SA, gesê.
Die vergadering tussen onder meer verteenwoordigers van Graan SA, die georganiseerde landbou, die vakverbond Cosatu en die Food and Allied Workers Union (Fawu), die Landbounavorsingsraad, die Suider-Afrikaanse Biobrandstofvereniging en die Departement van Landbou was gemik op die grondstowwe vir biobrandstof en die voor- en nadele daarvan.
"Van Graan SA se kant af het ons verduidelik hoe biobrandstof tot die verruiming van die mark kan bydra. Ons het dit duidelik gestel dat ons geensins voedselsekuriteit wil benadeel nie, maar dat 'n biobrandstofbedryf tot groter voedselstabiliteit kan bydra. Deur mielies uit te sluit word daar 'n plafon geplaas. Ons het gesê ons eerbiedig die Regering se besluit en arbeid het gesê hulle verwelkom dit.
Meer as mielies
"Ons het dit duidelik gestel dat ons nie net na mielies kyk nie, maar 'n hele mandjie van somergewasse. Graansorghum kan byvoorbeeld 'n belangrike rol as plaasvervangende gewas speel," het Laubscher gesê.
"Ons het kennis geneem van mekaar se kwellinge en daar is eintlik nie grondliggende verskille nie. Die gesprek sal binnekort voortgesit word."
Laubscher sê mielies verhandel reeds op uitvoerpariteit omdat die mark 'n groot oes verwag. Daar is genoeg mielies maar die prys anderkant die plaashek is te hoog.
Boere is egter prysnemers en kan nie die prys bepaal nie.
Die besluit om met Cosatu en ander belanghebbendes gesprek te voer, ten einde onderlinge begrip van mekaar se kwellinge te bevorder, is by Graan SA se kongres vroeër vanjaar bekragtig.
Landbouweekblad, 16 Mei 2008