Landbou
Grondhervoming kan nog werk
ISABEL STOLTZ

Sowat 40 % van transaksies waarin grond van wit hande na swart eienaarskap verwissel, gebeur in die ope mark. Dit bring die werklike herverdeling aan swart boere nader aan 7% van kommersiële landbougrond, sê navorsers van die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE) in 'n verslag oor grondhervorming. Die verslag is verlede Dinsdag in Johannesburg bekend gestel.

In sommige gebiede besit swart mense veel meer as 7% van die kommersiële landbougrond. Volgens die CDE se navorsing, besit swart boere 32% van grond in KwaDukuza, KwaZulu-Natal, bykans 30% van grond in die Elliot- en Ugie-distrik in die Oos-Kaap en tot sowat 20% van die kommersiële landbougrond in sommige distrikte in die Vrystaat.

Volgens die navorsing is daar geen bewyse vir aantygings dat grondpryse vir herverdeling deur kommersiële boere gemanipuleer word óf buitensporig is nie. Navorsing van rekords van die Akteskantoor oor twee gebiede in Mpumalanga en twee in Limpopo waar groot gebiede aan grondeise onderhewig is, het getoon dat pryse daar nie vinniger as in die res van die land gestyg het nie.

Pryse van restitusie-transaksies het in die algemeen met slegs 1,1 % per jaar gestyg, lui die verslag.

"Die beskuldigings wat teen wit boere en landbou-ondernemings geslinger word dat hulle grondhervorming wil pootjie, is sonder enige feite, gevaarlik en berokken die land skade.

"Restitusie sukkel, maar die mark is nie die probleem nie. Die impak van grondeise is besig om alle ander inisiatiewe vir grondhervorming te vertraag," het me. Ann Bernstein, uitvoerende direkteur van CDE, op die bekendstelling gesê.

In 'n tyd wat wêreldwye kommer oor voedselsekerheid heers, is restitusie in Suid-Afrika besig om groot lappe produktiewe landbougrond vir jare buite aksie te stel. Dit dui op 'n botsing tussen grondhervorming en internasionale mededingendheid, sê sy.

Dit is die CDE se tweede verslag in drie jaar oor die kwessie en " 'n aanduiding van die ernstige kommer oor hoe grondhervorming aangepak word", sê Bernstein.

Grondhervorming in Suid-Afrika is by 'n kruispad. As sonder sterk leierskap op dieselfde trant voortgeploeter word "gaan die een pad na 'n ramp en die ander na 'n groter ramp lei. Die vraag is net, hoe vinnig", het sy gesê.

Die toekoms van Suid-Afrika se kommersiële landbou is op die spel. Dit beteken dat die ekonomiese lewensvatbaarheid van landelike gebiede bedreig word en ernstige ongunstige rimpelings in die breë ekonomie en gemeenskap kan uitkring.

"Dit kan gekeer word. Suid-Afrika het die hulpbronne om volhoubare grondhervorming te verseker. 'n Land wat sy totale politieke struktuur 14 jaar gelede kon onderhandel, kan 'n nuwe bedeling vir grondhervorming onderhandel."

Die navorsers sê die Regering het reeds baie vermag met grondverdeling en kry dikwels nie genoeg erkenning daarvoor nie.

Die proses het egter nou vasgeval en kort sterk leierskap van senior ANC-leiers om dit weer op dreef te kry en suksesvol af te handel tot voordeel van die land.

Sukses sal plaaslike en internasionale vertroue 'n hupstoot gee, belegging verhoog en werkverskaffing aanmoedig. Die prys van mislukking is hoog.

'n Nasionale konsensus oor grondhervorming kan nog bereik word. Die vraag is net of leierskap in die openbare en private sektor die wil het, lui die verslag.

Landbouweekblad, 16 Mei 2008