Die Land Bank gaan aansienlik tot grondhervorming bydra deur 80% van sy teruggeneemde plase aan die Departement van Grondsake en aan sy opkomende kliënte aan te bied.
Die bank het teruggeneemde plase van altesame 21 940 hektaar waarvan hy 18 908 hektaar aan die departement en ontwikkelingsboere wil oordra.
Verteenwoordigers van die bank en die departement het reeds ooreengekom dat alle teruggeneemde plase in die toekoms na die departement en ontwikkelingsboere oorgedra sal word.
Om sy doelwit te bereik om landbou-ontwikkeling te bevorder en te ondersteun, wil die bank R1 miljard in die huidige boekjaar en R2 miljard in die volgende boekjaar aan ontwikkelingsboere uitbetaal.
Intussen het die Grondeisekommissie aan die parlementêre portefeuljekomitee vir landbou en grondsake gesê dat hy met regeringsdepartemente sukkel om grond in die Wes-Kaap vir grondhervorming vrygestel te kry.
Vertragings
Mnr. Blessing Mphela, waarnemende grondeisekommissaris, sê 600 eise in die Wes-Kaap word vertraag deur amptenare van die provinsiale departement van openbare werke en die departement van behuising se gesloerdery.
"Hoewel die politieke wil daar is om die grond beskikbaar te stel, is daar nie veel aksie van die amptenare om die proses glad te laat verloop vir die afhandeling van restitusie-eise nie."
Mphela sê daar word beoog om vanjaar 2 585 eise (sowat 'n miljoen hektaar grond) af te handel. Mnr. Narend Singh, IVP-LP, het die kommissie op die vergadering geroskam oor die stadige pas waarteen die eise afgehandel word. Volgens hom het hulle nie bevoegde en ook nie genoeg personeel nie.
Hy sê die voorstel deur Mphela dat die Grondeisekommissie soos die Jeugkommissie onafhanklik moet funksioneer, is 'n goeie een.
Hoewel die indien van grondeise reeds 31 Desember 1998 gesluit het, word eise steeds in die Staatskoerant gepubliseer. Dit is bekend dat 1 400 eise in KwaZulu-Natal nog nie in die Staatskoerant gepubliseer is nie. 'n Spesiale eenheid is nou op die been gebring om dit te hanteer.
Landbouweekblad, 16 Mei 2008