Die saadbedryf moet oop kaarte met boere oor die beskikbaarheid van saad vir die komende someraanplantings speel sodat hulle nie onder 'n wanindruk verkeer nie.
Dr. Jos de Kock van die Proteïennavorsingstigting het op die kongres van die SA Nasionale Saadorganisasie (Sansor) in Benoni gesê boere kla hulle kry nie sojasaad in die hande nie. "As daar 'n tekort is, moet Sansor dit reguit vir die boere sê om misverstande uit die weg te ruim."
Niemand op die kongres het op De Kock se aanbeveling geantwoord nie en geen verdere bespreking is oor die aangeleentheid gevoer nie.
Hy het gereageer nadat mnr. Corné Louw van Graan SA gesê het hulle is bekommerd oor sojasaad, want talle boere sê hulle sukkel nou al om saad te kry. Volgens hul inligting is saad wat geneties gemodifiseer is glad nie meer verkrygbaar nie.
Louw het Sansor se syfers oor die grootte van die sojaboonoes wat boere terughou om die volgende seisoen as saad te gebruik, ook bevraagteken.
Mnr. Douw Steyn, voorsitter van Sansor se akkerbou-afdeling, het hom egter verseker die syfers is reg en dat boere dit op groot skaal doen.
Landbouweekblad, 16 Mei 2008