Landbou
Nóg basiese kos dalk taksvry
Deur JOYLENE VAN WYK

Die Regering oorweeg dit om méér basiese kossoorte van belasting vry te stel om veral arm mense teen die stygende voedselpryse te beskerm. Om verligting vir die hoë voedselpryse te bied, word onder meer gekyk om sorghumprodukte, hoender en babaprodukte van belasting vry te stel.

Die Kabinet het verlede maand 'n interministeriële komitee aangestel om voedselsekuriteit te ondersoek.

Dr. Kgabi Mogajane, waarnemende direkteur-generaal van Landbou, het in die Parlement gesê op die kort termyn sal op inisiatiewe gefokus word wat 'n regstreekse impak op huishoudelike inkomste sal hê en op die lang duur op produksie.

Die DA sê egter inmengende beleidsverandering, soos die regulering van kospryse of 'n verbod op die uitvoer van kos, sal ongetwyfeld voedselproduksie benadeel. Mnr. Kobus Marais, DA-LP, sê 'n omgewing moet geskep word sodat die landbou meer kan produseer.

Landbouweekblad, 16 Mei 2008