Landbou
Land Bank: Forensiese verslag gou bekend
Deur JOYLENE VAN WYK

Die lang verwagte forensiese ouditverslag van die Land Bank sal op 19 Mei bekend wees.

Mnr. Themba Langa, voorsitter van die bank se direksie, het op die bekendmaking van die bank se voorlopige korporatiewe plan aan die parlementêre portefeuljekomitee vir landbou en grondsake gesê dat die verslag een van die groot kwessies was wat die direksie moes aanpak.

Die direksie is aangestel nadat die vorige direksie vroeër weens die voorlopige bevindinge van die forensiese ouditverslag ontbind is. Talle amptenare is ook afgedank.

In die twee maande sedert die direksie se aanstelling is drie raadsvergaderings, drie operasionele komiteevergaderings, twee vergaderings van die menslike hulpbronnekomitee, drie van die ouditkomitee, twee krediet- en risiko-vergaderings en 'n raadsvergadering van die bank se versekeringsmaatskappy reeds gehou.

Me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, het ook aangekondig dat 'n volledige bestuurspan vir die bank so gou as vroeg volgende maand aangestel sal wees.

Landbouweekblad, 16 Mei 2008