Landbou
Swak infrastruktuur kos Suid-Afrika miljarde
SUSAN BOTES

Suid-Afrika het in die verlede nie genoeg in infrastruktuur belê nie. Dit kom die land nou duur te staan. Dít is telkens gesê op 'n agrologistieke werksessie wat deur die Landboubesigheidskamer (LBK) aangebied is. Eskom én Transnet Spoorvrag het baie werk om te doen as hulle die agterstand in infrastruktuur wil inhaal.

Op onlangse samesprekings tussen betrokkenes in die landbou en Cosatu het dit aan die lig gekom dat boere slegs 15 % van die verbruikersrand vir brood kry. Sowat 37 % van die prys word aan logistieke aspekte bestee. "Dit wys net hoe belangrik infrastruktuur geword het in die stryd om bekostigbare kos aan die land te verskaf," het dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die LBK, gesê.

Hy het 'n beroep op die Regering gedoen om spesifiek in die landbou se infrastruktuur te belê. "Suid-Afrika was voorheen bederf met goedkoop kos. Daardie dae is verby."

Volgens mnr. Andrew Lillie, 'n senior amptenaar vir graanrekeninge by Transnet Spoorvrag, is Transnet tans besig met 'n strategie wat oor vyf jaar met R34,8 miljard in werking gestel gaan word. (Die artikel daaroor, "Verhoogde vervoertarief: 'n Transnet-perspektief", was inLandbouweekblad, 22 Februarie 2008.)

Mnr. Nick Tselentis, regs- en regulatoriese bestuurder by die Raad op Verbruiksgoedere, sê dit is skokkend om te weet dat Suid-Afrika in 2007/'08 vir die eerste keer 'n netto invoerder van landbouprodukte geword het.

Hy het Transnet oor die kole gehaal omdat "daar nooit iemand is om mee te praat nie". Hy sê dat Transnet Spoorvrag van groot belang vir ondernemings is. "Ons het julle nodig om dapper te wees, maar tot nou was julle dit nie." Hy sê daar is ernstige tekorte in Transnet Spoorvrag se dienslewering en dink nie dat Transnet sy geld op die regte plekke wil bestee nie.

'n Swak padnetwerk kos Suid-Afrika jaarliks sowat R10 miljard omdat dit instandhouding op voertuie opjaag, sê mnr. Andrew Crickmay van Crickmay en Vennote.

Me. Lindie Botha, 'n ekonoom by die LBK, sê Suid-Afrika is nie meer so mededingend as in die verlede nie. In 2004 was infrastruktuur nie ingesluit by die redes daarvoor nie, maar die land se elektrisiteitsvermoë is nou op drie ná die skuldigste. 'n Gebrekkige vervoernetwerk het die twyfelagtige eer van 'n sesde plek. Die koste om sake in Suid-Afrika te doen, is 15de.

Purchase sê dat die landbou op sy eie nie veel van 'n verskil ten opsigte van die kragprobleme sal kan maak nie. Besigheidseenheid SA (Busa) is die dryfveer waardeur die LBK en ander lede van die georganiseerde landbou dus nou hul stem dik maak. "Mensie moenie dink die kragkrisis is iets van die verlede nie," het hy gewaarsku. "Hierdie is 'n reuseprobleem en sal waarskynlik een bly tot ná 2012."

Purchase sê ook die antwoord lê nie in 'n monopolistiese maatskappy, soos Eskom, nie. Alternatiewe moet ondersoek word. "Ons moet 'n gewoonte daarvan maak om herwinbare energie in te benut."

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het ook onder skoot gekom. Volgens Purchase moes hy jare gelede reeds die gevaarligte sien flikker het. Landbouweekblad, 16 Mei 2008