Die Pioneer Voedselgroep het 20 dae om sy saak te stel nadat 'n klagverwysing van beweerde deelname aan 'n broodkartel vroeg in Mei deur die Mededingingskommissie aan hom oorhandig is.
Mnr. Johannes van Niekerk van die skakelmaatskappy College Hill sê die klagverwysing is basies die bevindinge van die kommissie se ondersoek tot dusver en gee aan Pioneer 'n geleentheid om daarop te reageer. "Dit is nog vroeg en geen bedrag is al genoem nie."
Van Niekerk sê 'n verhoor deur 'n tribunaal is nie 'n uitgemaakte saak nie, aangesien só 'n besluit geneem word nadat die kommissie Pioneer se betoë aangehoor het.
Mnr. André Hanekom, besturende direkteur van Pioneer, sê die volgende stap is 'n verhoor deur 'n tribunaal, maar wou nie oor die uitkoms daarvan bespiegel nie. Die aangeleentheid is nou in die maatskappy se regspan se hande.
Teen druktyd was die verwikkeling nog nie in die maatskappy se aandeelprys weerspieël nie; moontlik omdat die inligting nog nie wyd bekend was, of omdat die kwessie reeds grootliks in die aandeelprys verdiskonteer is, sê Hanekom.
Landbouweekblad, 16 Mei 2008