Landbou
'Spekulante jaag graanprys op'
Deur CHARL VAN ROOYEN

Graanhandelaars het definitief 'n aandeel in die huidige hoë graanpryse. Die skuld moet nie langer slegs op biobrandstof geplaas word as rede vir die styging in kommoditeitspryse nie, sê mnr. Paul Marais, voorsitter van die SA Nasionale Saadorganisasie (Sansor).

Hy het op sy organisasie se kongres in Benoni gesê in Amerika het verhandeling in graan deur graanspekulante die afgelope jaar met 29% gestyg. Hulle verkies deesdae om graankontrakte as belegging te koop, eerder as aandele.

Dit is dus moontlik dat graanhandelaars in Suid-Afrika ook 'n invloed op graanpryse op Safex het.

Landbouweekblad het in gesprekke met kongresgangers vasgestel die hoeveelheid mielies van die vorige oes wat op Safex verhandel is, was 7,5 keer groter as die werklike oes. Dit toon aan op watter groot skaal met mielies gespekuleer word.

Landbouweekblad, 16 Mei 2008