Vir 'n groot deel van die afgelope dekade is te min aandag gegee aan beleid oor hoe landbouproduksie verhoog kan word. Dit is kommerwekkend dat Suid-Afrika 'n netto-invoerder van produkte, soos koring, rys en vleis, is.
Dié onverwagse bekentenis uit ANC-geledere kom van mnr. Trevor Manuel, Minister van Finansies, in 'n onlangse artikel in die ANC se nuusbrief, ANC Today. Hy sê dit geld grootskaalse kommersiële boerderye sowel as kleinskaalse bestaansboere.
Hy sê die Regering kan meer doen om kleinskaalse boere in landelike gebiede te ondersteun. "Aan die kommersiële kant is dit kommerwekkend dat belegging in dié sektor oor 'n lang tydperk afgeneem het, hoewel produksie hierdie seisoen toegeneem het. Dit is belangrik om beter te begryp hoekom boere nie belê om meer te produseer nie."
Hy sê in sy artikel oor hoë kospryse dat daar goeie lesse vir die land uit die mieliebedryf te leer is en dat dit die werking van die mark uitbeeld. As 'n land 'n netto-uitvoerder is, verminder dit die invloed van internasionale prysneigings. "Die les is eenvoudig dat indien ons meer produseer, pryse geneig is om te daal, of stadiger toe te neem as wanneer ons te min produseer."
Ware hulp
Manuel sê openbare beleidsreaksie op hoë voedselpryse moet gerig wees op twee belangrike gebiede inkomste-steun aan die mees kwesbare mense en pogings om landbouproduksie te verhoog. Twee beleidsopsies wat nie aanbeveel word nie, is prysbeheer en regstreekse subsidies.
Die artikel val saam met 'n kabinetsbespreking van maniere om die ongunstige uitwerking van hoë kospryse teen te werk en 'n aankondiging dat koskoepons of kontant aan armes onder meer oorweeg word. Volgens die nuusdiens Sapa het me. Kgobi Mogajane, waarnemende direkteur-generaal van landbou, gesê die afskaffing van BTW op sekere basiese voedselsoorte word ook oorweeg.
Die Demokratiese Alliansie (DA) het hierdie moontlik maatreëls verwelkom en gesê dit word verkies bo regulatoriese ingryping. Mnr. Kobus Marais, woordvoerder oor finansies, sê ingrypings soos die regulering van voedselpryse of die afskaffing van uitvoerbeperkings sal nadelig wees. Boere sal minder geneig wees om meer te plant.
Daar moet eerder na die uitdagings van voedselvoorsiening oor die langer termyn gekyk word. Stappe wat onder meer nodig is, is om die regte balans tussen grondhervorming en sekuriteit van voorsiening te verseker, om die afname in landbou-beleggings teen te werk, nie-mededingende gedrag en samespanning uit te roei en maniere te vind om die invloed van biobrandstof op voedselpryse teen te werk.
Landbouweekblad, 16 Mei 2008