Landbou
Nóg dieselprysskokke in sig
Nico van Burick

Ná drie opeenvolgende prysskokke wat boere op 'n jaargrondslag al 'n bykomende R3 miljard aan dieselkoste uit die sak jaag, is die einde steeds nie in sig nie.

Mnr. Tony Twine, ekonoom van Econometrix, sê teen die 8ste van die maand, toe die ru-olieprys 'n nuwe rekordhoogte van VSA$125 bereik het, was die onderverhaling op diesel reeds tussen 20c en 23c.

Hierdie onderverhaling kan aanhou toeneem en tot nog 'n beduidende verhoging lei. Twine sê normaalweg neem die vraag na diesel in die begin van die somer in die Noordelike Halfrond af, maar dit het nog nie gebeur nie.

In drie maande het die prys reeds met 78c, R1,30 en 72c gestyg. Daarmee saam styg kunsmispryse ook en saam met brandstof vorm dit 70% van mielieboere se insetkoste.

In die lig van die ingrypende verhogings het die vakbond Solidariteit opnuut 'n dringende beroep op die Regering gedoen om brandstofbelasting tydelik te verlaag. Mnr. Jaco Kleynhans, woordvoerder, sê die staat behoort in te gryp om die land van 'n ekonomiese krisis te red.

"Die staat verhoog jaarliks die heffing op brandstof terwyl die aantal brandstofverbruikers ook deurlopend toeneem. Die staat se inkomste uit heffings neem dus aanhoudend toe. Die begroting vir 2007/08 toon 'n surplus van meer as R20,3 miljard terwyl verbruikers onder die prysverhogings gebuk gaan."

Kleynhans sê verbruikers het aan die begin van Mei net 31c/l vir petrol en 47c/l vir diesel meer betaal. Die ander 24c was vir heffings. 'n Verhoging van 20c/l in die balansheffing, 2,5c vir verspreidingskoste en 1,5c vir die vervoer van brandstof na die binneland, was by die verhoging ingereken.

Landbouweekblad, 13 Mei 2008