Die stilswye van die owerheid oor die barbaarse moord op 'n Oos-Vrystaatse boer kom neer op die goedkeuring daarvan.
Dit van die reaksie van mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se veiligheidskomitee, nadat mnr. Jacques Moll, bekende Jerseyboer van Ficksburg, doodgeskiet, sy vrou ernstig gewond en nog 'n boer gewond is.
Breytenbach sê sulke voorvalle lei tot rassespanning en rassehaat. "Daarmee saam is onverantwoordelike uitsprake van sommige politieke figure nie bevorderlik vir 'n harmonieuse samelewing nie. Ná 14 jaar van demokrasie faal die staat nog steeds om aanvalle te voorkom."
Hy sê die lafhartige aanval is baie duidelik 'n vingerwysing na die landelike gemeenskap om altyd paraat te wees.
VL het 'n gebeurlikheidsplan opgestel en die verantwoordelikheid berus by sy lede om die plan ten minste twee maal per jaar in te oefen en sodoende die landelike gebiede te domineer en 'n veiliger omgewing daar te skep.
Breytenbach sê daar bestaan 'n wanpersepsie by misdadigers dat landbouers groot bedrae geld en baie vuurwapens aan huis het. Hierdie wanpersepsie lei dikwels tot misdaad op plase.
"Dit het onder ons aandag gekom dat Mosambiekers by twee misdaadvoorvalle die afgelope maand op plase in die Vrystaat betrokke was. VL doen 'n beroep op sy lede om nie ongedokumenteerde werkers in diens te neem nie. Dit hou beslis 'n veiligheidsrisiko in."
Die 64-jarige Moll is doodgeskiet nadat hy en sy gesin deur 'n bende gewapende aanvallers in hul plaashuis ingewag en oorval is. Moll se vrou, Genene (58), is in die mond en been geskiet. 'n Buurman, mnr. Nic van den Berg, wat hulle te hulp gesnel het, is ook gewond.
Komm. Amon Mashigo, Vrystaatse polisiehoof, het gesê alles sal in die stryd gewerp word om die moordenaars vas te trek. "Plaasaanvalle sal nie in die provinsie geduld word nie."
Landbouweekblad, 13 Mei 2008