Landbou
Grondverslag sê niks nuut
Isabel Stoltz

Die Departement van Grondsake het self 'n paar klappe om uit te deel in reaksie op die ietwat striemende verslag oor die stand van grondhervorming wat op 6 Mei bekend gestel is.

Hy beskuldig die CDE van na-pratery en die private sektor dat hy sy betrokkenheid by grondhervorming oordryf.

Die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE) het in die verslag onomwonde gesê grondhervorming soos dit tans in die land gedoen word, stuur op 'n ramp af.

"Die CDE stel in sy verslag oor grondhervorming niks voor wat die regering en die private sektor nie alreeds gedoen het of besig is om te doen nie," sê die Departement van Grondsake in 'n verklaring.

Volgens die departement is van die CDE-navorsers se bevindinge onder verdenking omdat dit klaarblyklik nie alle relevante feite in ag neem nie.

Samewerking

Verskeie strukture vir samewerking tussen die private en openbare sektor bestaan reeds geruime tyd en CDE "behoort daarvan bewus te wees tensy hulle meen dit is nie doeltreffend genoeg nie".

Die departement se beroep op vennote in die private sektor om kundigheid, vermoë, hulpbronne en risiko's met die regering te deel om 'n sukses van volhoubare grondhervorming te maak, het 'n "oorweldigende reaksie" uitgelok.

'n Akkreditasieproses is aan die gang waarna spesifieke bestuursooreenkomste met individuele organisasies in die sektor beding sal word.

Die departement sê hy werk al vir jare saam met vennote in die private sektor en is bewus van sommige inisiatiewe (vir volhoubare grondhervorming) van hul kant. "Die probleem is, hulle kan die beweringe oor hul bydrae nie wys of kwantifiseer nie.

"En vir solank as wat daar nie duidelikheid is oor hektare wat oorgedra is nie, kan so ?n bydrae nie erken word nie."

Banke sloer

"Die departement wag al sedert 2006 vir die Bankvereniging van Suid-Afrika om op 'n skriftelike versoek te reageer met besonderhede van grond wat deur die vier hoof kommersiële banke oorgedra is.

"Banke beweer hulle het meer as R700 miljoen van die R1,5 miljard ingevolge die Finansiële Dienste-handves op grondhervorming en AgriSEB gespandeer maar hulle kon tot dusver nie sê hoe die geld gespandeer is en wie die begunstigdes was nie."

Volgens die departement wil hy met dié vingerwysing nie bloot kritiseer nie, maar daarop wys dat inligting wat nie geredelik beskikbaar is nie dit moeilik maak om te besluit hoe suksesvol grondhervorming is.

Die Departement van Landbou is besig om die suksesse van LRAD-projekte te hersien en "die voorlopige resultate verskil van die prentjie van mislukking wat die CDE skets". Die finale verslag sal binne sowat 'n maand vrygestel word, sê die departement.

Volgens die departement is die grondhervorming-, sowel as die restitusieproses nou ook onder die vergrootglas en die finale verslag hieroor sal bepaal of grondhervorming die lewe van begunstigdes verbeter of versleg het.

Kontrakteur?

Vennootskappe met agribesighede in die bosbou-, vrugte- en suikerbedryf het ook sy uitdagings. "Daar is altyd 'n geneigdheid om die suksesse van dié modelle te oordryf," sê die departement.

Die CDE kon tot ander gevolgtrekkings gekom het as hulle met begunstigdes van 'n skema van suikermeulenaars in KwaDukuza gepraat het, waar "nie Inkezo of die meulenaars ondersteuning ná vestiging gee soos beweer word nie. Begunstigdes baat nie by die waardeketting nie en hul deelname is beperk tot die plaashek."

Volgens die departement is 'n voorstel om restitusie uit te kontrakteer geruime tyd onder bespreking. "Die probleem is dat dieselfde mense wie se grond geëis word, wil besluit of 'n eis geldig is en die ooreenkoms bepaal. Dit sal onwettig wees en kan nie toegelaat word nie."

Oor beskikbare staatsgrond, sê die departement 'n oudit is "onlangs" gefinaliseer wat dui op 228 000 stukke grond van sowat 23 miljoen hektaar wat aan die staat behoort. Daar is vasgestel aan watter departement dié grond op al drie vlakke van regering behoort en tans word die inligting geanaliseer om te bepaal hoe bruikbaar die grond vir hervorming is.

"Die volgende fase van die oudit sal weer vanjaar begin totdat 'n omvattende bateregister van staatsgrond beskikbaar is."

Om bloot nuwe inisiatiewe voor te stel sonder om die doeltreffendheid van bestaandes te evalueer, kan nie deel wees van 'n "waagmoedige nuwe plan" nie, soos die CDE sy idees noem, sê die departement.

Landbouweekblad, 14 Mei 2008