Landbou
Rooivleisboere verder van pryse


Die Noordwes Rooivleisprodusentevereniging (NWRPO) se jaarkongres het die tema "In voeling met die rooivleisbedryf" vir dié afgelope byeenkoms gekies.

Die hoofbestuurder van die nasionale RPO, mnr. Gerhard Schutte, het 'n lesing oor die funksionering van strukture en funksies (werksaamhede) in die rooivleisbedryf gelewer. Hy meen dat die RPO se bydrae onmisbaar is in hierdie omvangryke en belangrike bedryf.

Mnr. Pieter Taljaard, landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat, het die kongres oor vleisneigings en produsente se aandeel in die verbruikersprys toegespreek. Hierdie navorsing is op versoek van die RPO gedoen en dui op 'n kommerwekkende gaping en afname in produsente-aandeel op hierdie gebied.

Volgens die NWRPO se voorsitter, mnr. Jaco Maré, is die taak van die organisasie om as spreekbuis te funksioneer en sodoende te help om die toekoms van rooivleisprodusente op grondvlak te verseker. Die stabiliserende en belangrike rol van rooivleisprodusente in die landelike ekonomie van die Noordwes-provinsie is ook tydens die kongres belig.

Verskeie toekennings is ook gemaak en voormalige NWRPO voorsitter Giel Theron en ondervoorsitter Tertius du Toit en Lardus van Zyl, voormalige voorsitter wat nou as visevoorsitter van die Nasionale RPO dien, is vereer.

Meriete sertifikate is ook aan verskeie veilingshuise en abattoirs toegeken vir hul bydrae tot die invordering van vrywillige heffingsbydraes van die NWRPO.

Beide Maré en Eric van Wyk is herverkies as voorsitter en ondervoorsitter van die organisasie.

14 Mei 2008