Wolpryse het gister teruggesak en Cape Wools se Merino-aanwyser het 5% laer as die vorige veiling twee weke gelede op R61,53/kg (skoon) gesluit. Dit is steeds 11% hoër as dieselfde veiling verlede seisoen.
Die huidige pryvlak bring plaaslike pryse nader aan die Australiese vlakke. Die Australiese mark het die afgelope paar weke reeds afwaarts begin beweeg nadat die vraag vanuit sekere sektore van die verwerkingsketting begin verswak het.
Die pryse van alle tipes langwol het teruggesak, maar die swakker tipes het aanmerklik groter dalings aangeteken.
Dit was 'n redelike groot veiling van 13 538 bale waarvan 96% verkoop is. Die twee vetwoluitvoerders Modiano en Standard Wool het die meeste wol gekoop. Modiano het 32% van die totale aanbieding gekoop en Standard Wool 17,6%.
Gemiddelde prysbewegings van AWEX-tipes MF4 en MF5 van 70 mm en 80 mm was soos volg: 19 mikron daal met 3,4% tot R81,87/kg; 20 mikron was 3,1% goedkoper op R69,18/kg; 21 mikron verswak met 3% tot R63,66/kg; 22 mikron daal met 4,7% tot R60,56/kg, en 23 mikron verswak met 5,1% tot R58,91/kg. Daar was geen kwotasies vir 24 mikron en 25 mikron weens die beperkte aanbod in dié kategorieë.
Die volgende veiling, wat ook die voorlaaste veiling van die seisoen is, vind op 26 Mei plaas wanneer sowat 11 000 bale aangebied sal word.
15 Mei 2008