AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deur die unie Solidariteit gestig is, gaan regstappe neem om die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Onteiening [B 16 - 2008] ongrondwetlik te laat verklaar, sou die wetsontwerp in sy huidige vorm gepromulgeer word.
Dié waarskuwing is gerig in AfriForum se skriftelike kommentaar op die wetsontwerp, wat vandag aan die parlementêre portefeuljekomitee van openbare werke gestuur is. Organisasies en lede van die publiek het nog net tot Vrydag, 16 Mei 2008, tyd om skriftelik kommentaar op die wetsontwerp aan die parlement te stuur.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, ondermyn die wetsontwerp die bepalings van die Suid-Afrikaanse Grondwet rakende onder meer eiendomsreg, die reg op toegang tot die howe, die reg op billike administratiewe handelinge en die gesag en onafhanklikheid van die howe.
"Die feit dat die staat volgens die wetsontwerp énige eiendom sal kan onteien teen ʼn bedrag wat die staat self sal bepaal, terwyl die howe slegs die onteieningsproses wat gevolg is, sal kan hersien, maar nie die bedrag waarop die owerheid besluit het nie, sal niks anders as gewettigde diefstal van eiendom deur die staat wees nie," het Kriel bygevoeg.
Enige eiendom?
Die absurditeit hiervan is dat die staat, volgens Kriel, enige item of eiendom (soos ʼn huis of motor) sal kan onteien om dit aan iemand te gee wat nie oor so ʼn item beskik nie en dan boonop self die prys sal kan bepaal, solank die "regte prosedures" net gevolg word.
Die wysigingswetsontwerp se bepaling dat die onteieningsbedrag laer as die markwaarde van die eiendom mag wees en dat markwaarde nie die bepalende faktor sal wees nie, sal volgens Kriel binnelandse, sowel as buitelandse beleggers afskrik.
"Waarom sal iemand belê in eiendom - roerend of onroerend - indien die persoon weet dat die staat by magte is om sodanige eiendom enige tyd teen ʼn verlaagde en eensydig-bepaalde bedrag te onteien?," wou Kriel weet.
Kriel het daarop gewys dat die wetsontwerp se poging om die howe van die bevoegdheid om oor die onteieningsbedrag te besluit, te ontneem, met Artikel 25(2)(b) van die Grondwet bots. Die artikel bepaal uitdruklik dat eiendom, by gebrek aan konsensus oor die koopprys, slegs onteien kan word teen ʼn koopbedrag wat deur die howe goedgekeur of bepaal is. Eienaars wat nadelig deur ʼn lae onteieningsbedrag geraak sal word, se grondwetlike reg van toegang tot die howe - soos vervat in Artikel 34 van die Grondwet - sal volgens Kriel ook hierdeur ondermyn word.
Eerder vrywillig
"Die uitlewering van eienaars van eiendom aan die buitensporige magte wat aan die staat gegee word, bring mee dat daar geen sprake van die reg op billike administratiewe handelings, soos vervat in Artikel 33 van die Grondwet, sal wees nie," het Kriel gesê.
In AfriForum se kommentaar aan die portefeuljekomitee word volgens Kriel voorgestel dat die beginsel van vrywillige koper/verkoper, eerder as onteiening, vir beleidsrigtings soos grondhervorming gebruik moet word. Kriel voer aan dat daar genoeg grond in die ope mark ter uitvoering van grondhervorming beskikbaar is, en dat die onbeholpenheid van staatsdepartemente direk verantwoordelik is vir wat die staat as "te stadige vordering" in die verband beskou.
"Dit is onbillik om te verwag dat grondeienaars nou weens onteiening die prys vir die staat se onbekwaamheid sal moet betaal," het Kriel gesê.
15 Mei 2008