Landbou
SA mik na Midde-Ooste
Deur JOYLENE VAN WYK

Suid-Afrikaanse sakelui, insluitende dié in die landbousektor, wil 'n kantoor in Saoedi-Arabië open vanweë die groot hoeveelheid besigheid wat hulle van dié land kry.

'n Groep afgevaardigdes van die regering en die sakesektor het Saoedië-Arabië besoek om te kyk watter beleggingsgeleenthede daar vir beide van die lande is.

Me. Shadow Twala, woordvoerder van die Wes-Kaapse premier, sê sakelui van die Midde-Oosterse land stel baie belang daarin om Suid-Afrikaanse plase vir beleggingsdoeleindes te bekom.

Die afvaardiging het gevind dat veral landbou en toerisme die sektore is wat die meeste uit 'n toekomstige samewerkingsooreekoms sal baat vind.

Twala sê so 'n ooreenkoms is op die tafel maar niks is nog geteken nie.

Mnr. Cobus Dowry, die Wes-Kaapse LUR vir landbou, sê met die besoek is 'n goeie voet in die deur gekry om marke vir boere, onder meer in die sitrus-, appel-, druiwe-, en vrugtesapbedryf oop te maak.

Skakels

Dowry sê hy sal met die bedryf skakel en hulle kan dan die sakegeleentheid verder neem.

Een van die prinse, wie 'n plaas het, het selfs aangedui dat hy belangstel om 'n plaas in Suid-Afrika te koop. Hy wil groente en vrugte verbou en dit dan na sy land uitvoer, sê Dowry.

"Indien hy 'n 100 hektaar plaas koop kan hy baie mense daarmee voed."

Hy wil ook hê Suid-Afrikaanse kundiges moet help met grondontledings op sy plaas om te bepaal watter gewasse aangeplant kan word.

Daar is ook sprake van 'n lugredery wat moontlik direkte vlugte tussen Kaapstad en Saoedië-Arabië sal onderneem en ook dat die land moontlik 'n ambassade in Kaapstad sal vestig.

15 Mei 2008