Landbou
Grondeis rede vir moord?


Mnre. Christo en George Spies, die seuns van mnr. Johannes (Hansie) Spies wat gister op sy plaas vermoor is, meen dat die rede vir die misdaad 'n eis teen hul grond by Little Switzerland in KwaZulu-Natal kan wees. Hulle staan die grondeis teen.

Spies is verskeie kere met 'n AK47 geskiet. Sy seuns sê dat hy bekend en geliefd was en goeie verhoudings met sy werkers gehad het. 'n Groot groep boere, polisiemanne met honde en te perd, speurders, 'n polisiehelikopter en twee private helikopters is in die soektog na die verdagtes ingespan.

Die SAPD het gistermiddag 'n motor wat vermoedelik in die misdaad gebruik is naby Bergville gevind. Soveel as vyf aanvallers kon betrokke gewees het.

Die Spies-familie boer al vir vyf geslagte op die plaas Gravelotte en Vrystaat Landbou, die Demokratiese Alliansie in Harrismith en me. Mamiki Ohabathe, die Vrystaatse LUR, het die aanval sterk veroordeel.

Me. Sybil Spies, sy weduwee, sê hulle het nog nooit onveilig op hul plaas gevoel nie. "Ons het al vee- en kabeldiefstalle gehad, maar vandag het hulle my man weggevat. Ons lewe het in 'n oogwink verander." Bron:
Beeld

10 Oktober 2008