Landbou
Vrae oor Zim-mielies in SA
Deur ISABEL STOLTZ

Verskeie vragte vermoedelik gesteelde saadmielies het sedert Julie vanjaar die land uit Zimbabwe binnegekom.

Dit terwyl daar 'n moratorium is op die uitvoer van mieliesaad uit Zimbabwe omdat dié land 'n ernstige tekort aan saad het vir die huidige plantseisoen en die grootste voedseltekorte in dekades beleef. Só sê mnr. Joe Hanekom, uitvoerende hoof van Afri Compliance, wat invoere in belang van die landbousektor monitor.

Dié invoere is tydens 'n roetine-ondersoek ontdek.

"Ons kyk na invoere wat nie normaal is nie en mielies uit Zimbabwe is nie normaal nie." Meer as 500 ton mieliesaad is reeds oor die grens teen 'n verklaarde waarde van R2,70/kg, wat ver onder die randwaarde is. Oop bestuifde kultivers se verklaarde waarde is sowat R10/kg en GMO-basters s'n tot R78/kg, sê Hanekom.

Die voorval is by die owerhede aangemeld.

Volgens Hanekom het 'n amper soortgelyke voorval ses jaar gelede gebeur toe mielies van die USAid se voedselprogram wat van Suid-Afrika na Zimbabwe vervoer moes word, hier gesteel en versprei is.

20 November 2008



Naam
E-pos
Onderwerp
Kommentaar