Belegging in en ondersteuning aan die landbou sal dié sektor bly ontwyk solank as wat die Regering meen dit is 'n sektor wat nie die deelname van swart mense verwelkom nie.
Mnr. Andrew Makenete, hoofbestuurer van Absa Agribesigheid, het verlede week op die Vereniging vir Veevoervervaardigers (Afma) se forum op Sun City in Noordwes gesê swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is 'n sakevereiste as iemand wil hê sy onderneming moet oorleef.
Hy sê pres. Thabo Mbeki het verlede jaar 'n baie duidelike sein aan die landbou gestuur met die aanstelling van me. Lulu Xingwana as Minister van Landbou en Grondsake. "Die minister het die mandaat van die Regering om vinnige en onmiddellike veranderings in dié sektor teweeg te bring. In 'n opname verlede jaar is bevind 40 % van landbou-ondernemings het nog geen inisiatief ten opsigte van SEB onderneem nie. Daar word nie eens voorstelle vir groter deelname op direksievlak ter tafel gelê nie."
Makenete sê dit is waarskynlik die rede waarom die minister die grense vir bemagtiging wil verskuif. Hy het as voorbeeld gesê waar die telkaart verwys na eienaarskap van 25,1 %, steun Xingwana 'n swart eienaarskap-aandeel van 30 % in boerderye.
Volgens hom is daar 'n siening by die Regering dat die landbou traag is met transformasie. "Dit kan een van die redes wees waarom Xingwana ook kleiner boerdery-ondernemings teiken om aan swart bemagtiging deel te neem. "Sy meen dié boerderye wil nie verander nie. Maar sy meen ook die vermenigvuldigingseffek kan die grootste wees as dié ondernemings aan SEB deelneem. "Daar is 'n siening by die Regering dat die landbou rassisties is en nie vatbaar is vir transformasie nie," het Makenete gesê.
Makenete se advies aan verteenwoordigers van die veevoermaatskappye is om hul werknemers se vaardighede te ontwikkel. Hy sê dit sal nie voldoening aan die telkaarte meebring nie, maar eintlik die onderneming tot groot voordeel wees omdat die werkers se vaardighede uitgebrei word.
Landbouweekblad, 23 Maart 2007