Landbou
Grondloses eis meentgrond
Deur LUCILLE BOTHA

Waar meentgrond vir ontwikkeling verkoop word eerder as om tot voordeel van opkomende boere aangewend word, moet dit onder sy aandag gebring word, sê die burgemeester van die Breederivier Wynland-distriksmunisipaliteit, mnr. John Ngonyama.

Dit volg nadat ongeveer 600 mense - almal lede van die Mawubuye Land Rights Forum (MLRF) - op Maandag, 28 April aan 'n protesoptog in Robertson deelgeneem het. In 'n memorandum wat hulle aan Ngonyama oorhandig het, het hulle onder meer geëis dat meentgrond aan opkomende boere beskikbaar gestel word. Die groep het ook 'n ultimatum gestel waarvolgens die munisipaliteit binne 31 dae ná hulle moet terugkeer met 'n datum waarop die MLRF met die munisipaliteit kan vergader sodat hulle "gesamentlik die probleme kan oplos".

Die MLRF verteenwoordig sowat 3 000 grondlose mense en kleinboere in die Breërivier en Overberg-distrikte. Volgens mnr. Henry Michaels, voorsitter van dié organisasie, wil hulle toegang tot grond vir voedselproduksie kry.

Volgens Ngonyama geld daar al twee jaar lank 'n moratorium op die verkoop van meentgrond. "Die mandaat om grond uit te deel is nie ons s'n nie, maar ons probeer hulle (aansoekers om grond) saam met die provinsiale en nasionale Departement van Landbou bystaan. Ons verleen hulp waar mense grond nodig het vir weiding of om gewasse te plant. Ek is dus nie seker waar al hierdie klagte vandaan kom nie," het hy gesê.

30 April 2008