Landbou
Mdladlana breek lansie vir Afrikaans
Deur LUCILLE BOTHA

Die Minister van Arbeid, mnr. Membathisi Mdladlana, was só skaam daaroor dat sy departement onlangs nie dokumente in Afrikaans by 'n Wes-Kaapse imbizo kon versprei nie, dat hy aangebied het om dit sélf te vertaal.

Volgens hom is dit 'n verleentheid dat dokumente en promosiemateriaal nie in Afrikaans beskikbaar is nie. Hy is deur iemand daarop gewys dat hulle nie Afrikaanse inligtingsbladsye by die imbizo het nie. Al die vlae en baniere was ook in Engels. Porterville is 'n hoofsaaklik Afrikaanssprekende gemeenskap.

"Ek is verleë daaroor dat die dokumente nie in Afrikaans beskikbaar is nie. Dit is een van die elf amptelike tale. Ons móét dit in Afrikaans hê en beskikbaar stel, want ons wil elke Suid-Afrikaner akkomodeer. Hoe moet mense hul regte ken as dit nie in hul taal is nie?" het hy onlangs by 'n gemeenskapsvergadering op Porterville gesê.

"As niemand weet hoe om die dokumente te vertaal nie, sal ek dit doen. Selfs al gaan dit nie goed wees nie, sal dit beter wees as hierdie Engels," het Mdladlana gesê en 'n inligtingids oor regte in die werkplek rondgeswaai.

Volgens hom moet elke dokument, vlag, inligtingsbrosjure en ander materiaal in elke landstaal beskikbaar wees. Hy het aan die skare vertel hoe belangrik Afrikaans is en dat nie eksklusief aan een segment van die samelewing behoort nie.

30 April 2008