Landbou
'Bosluisboere' nie welkom
Deur SUSAN BOTES

Boere wat nie by die georganiseerde landbou betrokke raak nie, is "bosluise" wat "eenvoudig voordeel trek uit die harde werk van diegene wat wel hard vir boere se regte baklei".

Mnr. André Botha, voorsitter van Agri Gauteng, het op 'n inligtingsdag van Agri SA op Heidelberg gesê as boere nie by die georganiseerde landbou gaan inskakel nie, gaan hulle alleen staan.

Hy het grondhervorming, eiendomsbelasting en gemeenskapspolisiëring as voorbeelde genoem en gesê boere sal daarby móét betrokke raak. "Boereverenigings moet vroegtydig optree en eienaarskap neem vir dit wat plaaslik gebeur," het hy gesê.

Die Regering beoog 'n afwenteling van gesag na 'n voetsoolvlak, wat beteken dat hierdie sake deur boereverenigings gehanteer sal moet word.

Volgens Botha is die beste manier om voorkomend op te tree, deur op munisipale forums te dien. Lede van boereverenigings sal ingevolge die ordonnansies die enigstes kan wees wat boere op sulke forums mag verteenwoordig.

Die nuwe wetgewing rondom eiendomsbelasting is nog 'n rede waarom boere op munisipale vlak betrokke moet raak. Volgens Botha stem Agri SA, die TLU SA én die National African Farmers' Union ooreen dat die boer so min as moontlik grondbelasting moet betaal. "Die benadering van die georganiseerde landbou gaan die uitkoms bepaal."

Botha sê dat gemeenskapspolisiëring die beste vaar in gebiede waar boere besluit het om met mening daarby betrokke te raak. "Plekke waar boere gesê het: 'Ons sal dit laat werk en julle sal ons nie kan terughou nie' is waar sake deesdae die rooskleurigste lyk."

Landbouweekblad, 9 Mei 2008