'n "Plaag" bosvarke het mielieboere op die Mapochsgronde in Mpumalanga en Limpopo hande in die hare oor die verwoesting wat hulle in die mielielande saai.
Bosvarke in troppe van tot 15 "stroop" teen só 'n tempo mielies dat van die boere reeds na ander gewasse oorgeslaan het omdat dit nie langer vir hulle ekonomies is om mielies te plant nie.
Van mnr. Lappies Labuschagne, naby Roossenekal, se mielies is niks oor nie. Hy sê teen huidige produksiekoste kan hy nie bekostig om weer mielies te plant nie, want hy maak geen oes nie.
Boere sê dié probleem is ongehoord in die omgewing. Wilde varke was skaars totdat eers vlakvarke en later die bosvarke inbeweeg het en daar skynbaar 'n "bevolkingsontploffing" onder die bosvarke plaasgevind het. Veral in die laaste twee jaar het probleme dramaties toegeneem.
Volgens mnr. Bobby Curlewis kon hy op vier hektaar slegs 'n halwe ton mielies afhaal pleks van die gewone vier ton per hektaar nadat die varke "geoes" het. Varke wat geskiet en oopgesny word, het gemiddeld tot 2 kg mielies in die pens.
Mnr. Robert Curlewis, Bobby se pa, boer al bykans 30 jaar op die plaas. Hy sê die varkprobleem het skielik sowat vyf jaar gelede begin en algaande so vererger dat boere nou 'n "varkwag" op die been gebring het en patrollies ry om landerye dop te hou.
Die varke word veral ná strooptyd geskiet omdat dit dan makliker is om hulle op te spoor en getalle in bedwang te probeer hou.
"Ons plant altyd ekstra vir die wild, maar die bosvarkbedreiging is besig om handuit te ruk. Dit is so erg dat verlede jaar al tot 52 bosvarke in 27 dae oor 'n tydperk van 5 maande geskiet is. In 2005 is agt geskiet en in 2006 is 27 van kant gemaak."
Sowat 3 000 hektaar mielie-aanplantings net in dié gebied word deur die varke bedreig. Die varke beweeg rond in 'n omtrek van sowat 50 vierkante kilometer en boere tot by Middelburg en so ver soos Lydenburg loop deur.
Landbouweekblad, 9 Mei 2008