Die rentekoers kan met nóg 2% styg. Dit is ook nie meer lank voor dit 'n werklikheid is dat die brandstofprys R10 per liter en méér kan beloop nie.
Dié swart prentjie is deur mnr. Ernst Janovsky van Absa AgriBesigheid op die SA Plantverbeteringsorganisasie se inligtingsdag op Stellenbosch geskilder.
Janovsky het oor groei in die landbou in Suid-Afrika gepraat. Hy sê onomwonde daar wag moeilike tye op die ekonomie. Die plaaslike boer het geen beheer oor internasionale subsidiëring van die landbou nie, ook nie oor in- en uitvoertariewe, die wisselkoers en produksieneigings nie. Dit is waarom die mielieprys byvoorbeeld met tot soveel as R1 500 per ton in een seisoen kan wissel.
"Om nie deur die kosteknyptang vermorsel te word nie, is dit belangrik dat 'n boerdery jaarliks minstens 2% meer produktief moet word en groei. Aan die kern daarvan lê insette teenoor uitsette.
Volgens hom sal die olieprys waarskynlik eers teen sowat $130 per vat begin stabiliseer. Dan raak dit lonend om groot olievelde in die Arktiese deel van die wêreld te ontgin.
Landbouweekblad, 9 Mei 2008