Landbou
'Saamstaan teen Onteieningswet'
Deur ISABEL STOLTZ

Daar is 'n groeiende dringendheid vir boere om saam te staan om wetgewing, soos die voorgestelde Onteieningswet, teen te staan, sê mnr. Paul van der Walt, voorsitter van die TLU SA.

Hy het op 'n bespreking oor grondsake buite Middelburg in Mpumalanga gesê dit is nie net boere wie se eiendomsreg in dié wetgewing ter sprake kom nie. Stedelinge en dorpenaars het net so baie om te verloor.

"Hierdie wet gaan verder as eiendom wat in grond gevestig is. Dit kan beteken dat 'n tweede huis of voertuig, selfs beeste en werktuie op 'n plaas, as regstellende aksie deel word van onteiening ingevolge die wet.

"Die vorige regering het grond gevat, maar dan meer gegee. Die ANC vat en gee niks. Hoe word bepaal watter grond word gevat? Hierdie wetgewing het geen norme nie. Dit het net een ding ten doel, naamlik dat die eienaarskap van grond die demografie van die land moet weerspieël.

"Dit is nie uitbreiding op die herstel van grondregte nie. Dit is 'n ander dimensie van die herverdeling van landbougrond. Maatskaplike ingenieurs wat bloot 'n ideologie wil najaag, moet in gedagte hou dat onteieningsgrond grond is wat uit produksie gehaal word, soos reeds die geval is met 90 % van grond wat oorgedra is. Dit bring voedselsekerheid in gedrang," het hy gesê.

Die TLU SA gaan kommer oor die wetgewing aan die ANC se uitvoerende komitee oordra.

Landbouweekblad, 9 Mei 2008