Landbou
Kaasfees lok derduisende
Deur LUCILLE BOTHA

Bykans 33 500 mense het die afgelope naweek verkeersknope en trietsige weer trotseer om die jaarlike SA Kaasfees op Bien Donné naby Franschhoek by te woon.

Luidens 'n verklaring wat deur Agri-Expo uitgereik is is die 33 466 bywoners 'n rekordgetal besoekers vir die fees. (Verlede jaar het 27 000 mense die fees besoek.)

"Dit was in meer as een opsig die grootste fees in die sewe jaar sedert die aangebied word. Dit geld vir die aantal besoekers, die aantal uitstallers en die benutting van die groter ruimte by die feesterrien," het mnr. Johan Ehlers, hoof-uitvoerende beampte van Agri-Expo, gesê.

Volgens hom het besoekers meer as 17 ton kaas gekoop of geproe. Besoekers wat eers teen die einde van die fees opgedaag het, het uitgemis op die kans om nuut-vrygestelde kaas te proe. Sommige hiervan is binne 'n oogwenk uitverkoop.

Mnr. Nico Janse van Rensburg, 'n besoeker uit Namibië, sê voor hy die fees bygewoon het, het hy net bier en gewone versnaperinge geken, maar die kaasfees het 'n hele nuwe wêreld vir hom oopgemaak.

6 Mei 2008