Dit gaan skynbaar klop-disselboom met Suidwes van Leeudoringstad in die Noordwes-provinsie se sake te oordeel aan die gesonde styging van die tussentydse dividend wat aangekondig is.
Volgens Suidwes se webwerf het die direksie 'n tussentydse dividend van tien sent per aandeel in Suidwes Beherend Beperk en Suidwes Beleggings Beperk goedgekeur, wat 'n styging van 42,8% verteenwoordig as dit met 2007 se tussentydse dividend van sewe sent per aandeel vergelyk word.
Hierdie tussentydse dividend word betaal aan aandeelhouers wat op 23 April 2008 in die aandeleregisters geregistreer was.
Mnr. Schalk Pienaar, Suidwes se besturende direkteur, sê die dividend weerspieël die maatskappy se haljaarsyfers en die verwagting vir die jaareindsyfers.
Suidwes se finansiele resultate vir die 2008-finansiele jaar sal aan die einde van Julie 2008 gepubliseer word en die algemene jaarvergadering is op 18 September.
Aandele in die ongenoteerde Suidwes Beherend Beperk en Suidwes Beleggings Beperk verhandel tans op 125 sent per aandeel en 155 sent per aandeel onderskeidelik
6 Mei 2008