Landbou
SA wolvag presteer oorsee
Deur ONA VILJOEN

'n Wolvag wat deur mnr. Bruce Dewing en sy seun Stuart van Cathcart ingeskryf is, het die tweede plek verower in 'n internasionale fynwolkompetisie wat deur die bekende Italiaanse vervaardiger van ekslusiewe mansdrag en liggewig-wolstowwe, Ermenegildo Zegna, geborg is.

Die wenners is op 'n gala-onthaal in Sydney, Australië, bekend gemaak. Die geleentheid is deur die wêreld se voorste fynwoltelers bygewoon.

Die kompetisie bestaan uit twee afdelings: die Zegna Vellus Aureum vir ultrafynwol (fyner as 13,9 mikron), en die Zegna VA Challenge vir vagte van 14 tot 17,9 mikron. Die punte word volgens 'n glyskaal toegeken vir veseldikte, massa, treksterkte en eenvormigheid in die stapel. Veseldeursnee tel die meeste punte, nl. 65 uit 100, terwyl vaggewig 15 punte tel.

Alle wolproduserende lande kan vir die eersgenoemde afdeling inskryf, maar net Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Argentinië mag aan die VA-Challenge deelneem. Elke land se wenvag word na Australië gestuur waar die finale beoordeling plaasvind. Die kompetisie word tweejaarliks gehou en hierdie was die vierde keer dat dit aangebied is.

Die Dewings se vag, met 'n veseldeurnsee van 16,6 mikron, was vir die kompetisie vir vagte van 14 mikron tot 17,9 mikron ingeskryf.

Die wenvag is deur Nieu-Seeland ingeskryf en het 14,5 mikron gemeet, terwyl die derde plek aan 'n vag van 16,8 mikron uit Chebut, Argentinië, toegeken is.

Nieu-Seeland was ook die wenner in die afdeling vir ultrafynwol. Die wenvag het 'n veseldeursnee van 10,8 mikron gehad en 1,47 kg geweeg. Die prys vir dié afdeling was die vag se gewig in goud, wat beteken dat die wenner sowat R316 000 (A$45 000) wat daardie dag se goudprys was, verdien het.

Australië se bekende fynwolmaatskappy, The Wool Factory van Horsham, Victoria, was in die tweede plek met 'n vag van 10,7 mikron wat 0,73 kg geweeg het. Volgens die beoordelaars het die Nieu-Seelandse vag gewen omdat dit heelwat meer geweeg het.

Zegna is een van die grootste verwerkers van ultrafyn-Merinowol. Die maatskappy is in 1910 gestig en word steeds deur die Zegna-familie besit. Hulle het tans meer as 5 000 werknemers wêreldwyd in diens.

7 Mei 2008