Landbou
Dieresensus in Mosambiek
Deur ANDRIES GROENEWALD

Die eerste volledige dieresensus oor die totale lengte en breedte van Mosambiek begin op 1 Junie vanjaar in 'n poging om die konfik tussen wilde diere en die mens hok te slaan.

Hierdie lugopname, wat Mosambiek se regering sowat $800 000 (R6 miljoen) uit die sak sal jaag, sal met twee Cessna 182-vliegtuie gedoen word wat in stroke van vyftien km breed oor die hele land sal vlieg. Die opname sal waarskynlik 'n jaar neem om te voltooi en die doel is om uiteindelik die land se diererykdom só te bestuur dat dit nie gevaar vir mense inhou nie.

Mnr. Soares Nhaca, Mosambiek se minister van Landbou, het aan Radio Mosambiek gesê 'n gebrek aan behoorlike beplanning in die gebruik van die land se natuurlike hulpbronne vererger die konflik tussen mens en dier. "Die resultate van die lugopname sal die owerheid in staat stel om voldoende grond vir die bewaring van die land se diererykdom af te sonder en om sodoende die voorkoms van aanvalle op mense te verminder," het Nhaca gesê.

Die meeste aanvalle deur wilde diere op mense kom voor in sentraal-Mosambiek waar krokodille by Chemba gedurende Januarie vanjaar drie mense doogemaak en twee ernstig beseer het. In 2007 is meer as 13 000 krokodileiers in die gebied versamel voordat dit uitgebroei het in 'n poging om die konflik tussen die mense en krokodille te beperk.

In dieselfde jaar, berig Sapa, het Mosambiek se regering die weermag toestemming gegee om probleemdiere van kant te maak. Sewentien korkodille, twee seekoeie en 'n olifant, wat 'n bedreiging vir beamptes ingehou het, is doodgeskiet.

9 Mei 2008