Landbou
Plaaswag is goedkoop, maar werk
MARITHA DU PLESSIS-SWART

'n Eenvoudige, goedkoop plaaswagstelsel wat deur die lede daarvan gefinansier word, het veediefstal die afgelope twee jaar dramaties laat afneem en duur elektroniese valhekke onnodig gemaak. Daarby het plaasveiligheid in die betrokke omgewing verbeter en ander misdaad ook verminder.

Boere in die omgewing van Barkly-Oos, Elliot en Rhodes behoort nie onkant betrap te word wanneer die kommandostelsel in 2009 deur sektorpolisiëring vervang word nie. Daarvoor sorg 'n plaaswagstelsel wat reeds só goed werk dat voornememde veediewe en ander misdadigers deesdae twee keer dink voordat hulle dit in hierdie deel van die land waag.

"Mense wat die gebied binnekom, ook leeglêers, meld hulle al as 't ware self aan om deurgesoek te word wanneer hulle die plaaswagte sien naderkom en voornemende misdadigers loop wye draaie om die gebied," sê die voorsitter (en stigterslid) van die projek, mnr. Skillie du Randt, van die plaas Welgelegen tussen Barkly-Oos en Elliot.

"Verliese weens veediefstal in die plaaswaggebied het die afgelope twee jaar met byna R200 000 afgeneem, heelwat daggasmokkelaars, onwettige immigrante en ander oortreders is vasgetrek en plaasaanvalle het 'n seldsaamheid geword. Dit het gebeur te midde van veediefstal en misdaad wat hoogty vier in aangrensende gebiede wat nie onder ons plaaswag se jurisdiksie val nie. Ons doen al ons eie sektorpolisiëring."

Die Cullenswood-plaaswag, 'n artikel 21-maatskappy wat in November 1997 in die lewe geroep is, het 26 boere en die hotel Mountain Shadows as lede. Die plaaswaggebied is ongeveer 34 000 ha groot en strek vanaf die Bottelnekgebied, naby Barkly-Oos, tot by die Barkly-pas op pad na Elliot en verderaan vanaf die Bastervoetpad tot naby Rhodes.

Du Randt sê probleme is veral tydens die vakansiesiesoen (veral Kersfees en Paastyd) op die Maloti-hoofpad naby die Barkly-pas ondervind. Voertuie het eenvoudig langs die teerpad stilgehou en bakkievragte vee is opgelaai.

In ander gevalle is vee verder weg van die pad af gesteel en te voet aangejaag na die aangrensende Transkei of Lesotho, sowat 90 km daarvandaan. Ugie se eie "vallei van duisend heuwels" het veral probleme veroorsaak.

Elliot se veediefstaleenheid het nie sake ondersoek nie, en waar hulle dit wel gedoen het min welslae behaal. Die boere se eie patrollies was ook nie suksesvol nie. "Boere moet boer, hulle kan nie heeldag na voornemende misdadigers of gesteelde vee in die omringende onherbergsame gebiede soek nie."

Die groot finansiële verliese het boere gedwing om planne te maak. 'n Komitee is in 1997 gestig om die moontlikheid van 'n plaaswagstelsel te ondersoek en die plan in werking te stel.

'n Valhek-stelsel is oorweeg, maar elders was die ervaring dat dit baie kos — ook die instandhouding daarvan. Dit kos R40 000 en meer om een op te rig en dit sluit nie die deurlopende koste in nie. Dit is ook moeilik beheerbaar. Iemand moet aangestel word om die skerm dop te hou — en as hy nie betroubaar is nie, help die valhek niks nie.

As só 'n stelsel se elektroniese komponente probleme gee, help die kameras nie veel nie.

"Ons het gehoor van 'n plek by Tarkastad waar diewe met 'n gesteelde voertuig dwarsdeur 'n elektroniese valhek gejaag het. Ondanks die vinnige reaksie van die polisie kon hulle nie gevang word nie."

Hulle het besluit dat 'n plaaswag met twee plaaswaglede wat die hele gebied deurlopend patrolleer heelwat goedkoper en beheerbaarder sou wees.

"Die welslae van die plaaswag het die verkeer in die gebied só laat afneem dat dit reeds 'n bykomende valhek onnodig gemaak het. Die nuus het vinnig versprei dat ons 'n geen-nonsens-benadering volg. Nadat 'n hele aantal mense in hegtenis geneem is, het taxis, vreemde voertuie, leeglêers en ongemagtigde mense al hoe minder begin word."

Geld vir die Cullenswood-plaaswag word deur die lede op 'n glyskaal-basis per hektaar betaal. Dit werk soos volg:

  • 0 ha tot 1 000 ha — R255 per maand.
  • 1 001 ha tot 1 500 ha — R325 per maand.
  • 1 501 ha tot 2 000 ha — R395 per maand.
  • 2 001 ha tot 2 500 ha — R465 per maand.
  • 2 502 ha en meer — R555 per maand.

    Geld word ook op ander maniere verkry. Die plaaswaglede het byvoorbeeld al 'n padwerkagentskap in die gebied se toerusting oor die Kerstyd opgepas.

    Met die uitsondering van twee boere is die betalingstelsel algemeen aanvaar en boere skroom nie om te betaal nie, sê Du Randt.

    "Die boere het besluit dat, indien een van hulle 15 skape per maand verloor (een bakkievrag vol), is sy verlies teen R500 per skaap dieselfde as die bydrae van die boer wat die meeste betaal (R555 per maand). Die gemiddelde boer hier het 2 000 tot 5 000 skape en sommige boere het voor die totstandkoming van die plaaswag meer as een keer per maand 'n bakkievrag skape verloor.

    "Dit is jammer van die twee boere wat ons nie wil ondersteun nie. Hulle betaal nie, maar trek voordeel uit die plaaswag. As almal só optree, sal die stelsel in duie stort," sê Du Randt.

    Die Cullenswood-plaaswag het die eerste paar jaar groeipyne ondervind en die slaagsyfer was aanvanklik nie so hoog soos in die afgelope twee jaar nie. Sedert 2001 het verliese weens veediefstal met gemiddeld
    R100 000 per jaar afgeneem. Dit sluit in diefstalle wat voorkom word én gesteelde vee wat deur die plaaswaglede teruggevind word. "Die wagte, mnre. André Venter en Xolani Solibanzi, se kennis en ervaring is van onskatbare waarde."

    Boere van die omgewing sê hulle kan nie meer sonder die plaaswag boer nie. Mnr. Pierre Roodt, wat 'n veepos sowat 8 km van die teerpad het, sê sedert hy die veepos gekoop het, het hy nog nie vee weens diefstal verloor nie. In dieselfde tyd het hy egter 20 verse en 13 skape verloor op 'n aangrensende plaas, maar wat buite die Cullenswood-plaaswaggebied val.

    Mnr. Johan Erasmus, plaasbestuurder van mnr. Selby Vorster, wat op ses plase in die omgewing boer, sê danksy die plaaswag is daar 'n groot afname in veediefstal, terwyl veediefstal steeds hoogty vier in gebiede sonder plaaswagstelsels, soos by Indwe, Elliot en Dordrecht.

  • Navrae: Mnr. Skillie du Randt, tel 045 9312287.

    Stelsel is fyn beplan
    Die missie van die plaaswag is die voorkoming van vee- en ander diefstal in die Cullenswood-gebied en die daarstelling van 'n stabiele boerdery-omgewing met die samewerking van die boere.

    Die plaaswag bestaan uit twee lede wat heeltyds (24 uur per dag) werk en gereeld aan 'n komitee van vyf boere verslag doen. Boere help net in noodtoestande wanneer paaie versper moet word of verdagtes ontsnap het.

    Hoewel die polisie, die kommando en die plaaswag gereeld saam optree en saam strategieë op vergaderings van die omgewing se operasionele koördineringskomitee beplan, werk die plaaswag onafhanklik.

    Die hoofplaaswag, mnr. André Venter, het 20 jaar ervaring in verskeie polisie-eenhede in die ou Transvaal en in Kwazulu-Natal. Hy was ook bevelvoerder van verskeie eenhede en het in Julie 1999 by die plaaswag ingeval. Mnr. Xolani Solibanzi, wat sedert die ontstaan van Cullenswood diens doen, het jare ondervinding van kommandowerk.

    Die plaaswag word streng volgens die voorskrifte van artikels 24 en 42 van die Strafproseswet bedryf. Dié artikels verleen die nodige toestemming om mense in hegtenis te neem en gee die reëls vir 'n private inhegtenisneming.

    Mnr. Skillie du Randt, voorsitter van die projek, sê voordat die plaaswag in die lewe geroep is, is met die regsafdeling van die polisie oorleg gepleeg en die nodige toestemming en voorskrifte verkry. "Die lede is gewapen, maar gehoorsaam altyd die wet tydens operasies. Samewerking met die SA Polisiediens en die SA Nasionale Weermag is besonder goed."

    Die plaaswag werk volgens 'n fyn uitgewerkte misdaadbestuurstrategie. Misdade word in volgorde van belangrikheid geplaas (hoofsaaklik veediefstal, ekonomiese misdade en plaasaanvalle) en probleemgebiede op 'n "misdaadkaart" aangeteken. Optrede word daarby aangepas. Optrede word in feestye verskerp.

    Kennisgewingborde wat aandui dat daar 'n plaaswag is, baken die gebied af. Voet-, voertuig- en perdepatrollies geskied deurlopend, maar nie op vasgestelde tye nie sodat 'n patroon nie deur misdadigers geïdentifiseer kan word nie.

    Verdagte besoekers aan die gebied word voorgekeer, hul identiteitsdokumente en paspoorte nagegaan en besonderhede aangeteken. Onwettige immigrante (meestal Lesotho-burgers sonder die nodige werkpermitte) word in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig vir deportasie. Leeglêers op plase word vir betreding in hegtenis geneem en ook aan die polisie oorhandig.

    Verdagte voertuie wat die gebied verlaat, word voorgekeer en deursoek en diegene sonder die nodige vervoerpermitte vir vee of ander goedere in hul besit, word in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig.

    'n Netwerk van informante (gewoonlik plaaswerkers) verskaf inligting oor verdagte mense of voertuie. Lei dié inligting tot inhegtenisneming en skuldigbevinding, word die betrokke informante uit die inligtingsfonds vergoed.

    Boere word twee tot drie keer per maand deur plaaswaglede op die plaas besoek (plaaswagte teken dan 'n besoekersregister). Boere het deurentyd toegang tot die plaaswag of komiteelede via landlyne, selfone en Marnet-radio's.

    Plaaswaglede tree op as skakelpersone tussen die boere en die polisie. Hulle neem mense in hegtenis, woon hofsake namens boere by en getuig nadat verdagtes aangekeer is. Volgens Venter kwyt hulle hul al só goed van hul taak dat verdagtes al met die eerste hofverskyning skuldig bevind en gevonnis word. “Dit verhoed lang uitgerekte hofsake en ure in die hof.

    "Ons het ook 'n ooreenkoms met die polisie om, in die enkele gevalle wanneer ons moet gaan getuig, ons vooraf te bel en te laat weet hoe laat ons moet gaan getuig. Dit verhoed dat ons die plaaswaggebied onbeman laat."

    Venter sê hy steun sterk op die strategieë van mnr. Lukas Swart, plaasveiligheids- en veediefstalkonsultant om voorgenome veediewe en plaasaanvallers se strategieë vroegtydig vas te stel en te ontlont.

    Swart is 'n spesialis op die gebied van die voorkoming van plaasmoord en veediefstal. Hy het 14 jaar intensiewe navorsing hieroor gedoen en sy unieke metodes is deur die Weermag as geloofwaardig bevind. Talle plaasaanvalle, -moorde en veediefstalle is al voorkom deur boere wat sy taktieke beproef het. Hy werk ook nou saam met die SA Polisiediens.

    Volgens Du Randt maak die weermag boere touwys in die verskerping van veiligheid op plase. "Boere word aangeraai om voornemende werkers se volle besonderhede te verkry en op lêer te hou. Boere en hul gesinne word geleer hoe om vuurwapens te hanteer, hul wonings te beveilig en altyd paraat te wees. Werkers se besoekers moet besoekersboeke teken sodat hulle maklik opgespoor kan word indien daar later moeilikheid is."

  • Navrae: Lukas Swart, tel. 0722 495 196.

    16 Januarie 2004