'n Aantal Bosveldboere het vir hulle 'n wagtoring gebou en beman dit dag en nag om veldbrande betyds op te spoor en wilddiefstal hok te slaan. Hulle behaal uitstekende resultate met hierdie beleid van saamstaan.
'n Veldbrand is slegte nuus vir enige wild- en veeboer, veral ná 'n somer met baie reën wat die gras geil laat groei het en die gevaar van 'n wegholbrand soveel groter maak.
Dít is dan ook die geval tussen Bela-Bela (Warmbad) en Thabazimbi in die provinsie Limpopo, wat goeie bosveldwêreld vir wildboerdery is. Sporadiese veldbrande het deur die jare heelwat suur by die soet van wildboerdery gevoeg, want dit gebeur dikwels dat 'n veldbrand eers opgemerk word wanneer dit al buite beheer is. Veral snags wanneer die boere slaap, kan 'n veldbrand maklik hand uitruk. Selfs bedags kan 'n brand ongemerk groot afmetings aanneem voordat iemand die rook sien.
Die oplossing is om 'n brand op te spoor sodra dit begin. Dikwels kan 'n boer dit sommer alleen met sy span plaaswerkers baasraak en is dit nie eens nodig dat die bure gaan help nie.
Die ander nagmerrie is wilddiewe, wat lief is vir wildsvleis en biltong, maar nie bereid is om daarvoor te betaal nie. Hierdie rampokkers dwaal snags rond en skiet die boere se wild.
'n Klompie boere wat naby aan mekaar boer, het besluit dit is tyd om voorkomend op te tree. Een van die boere, mnr. Fanie Mostert, van die plaas Redoeko, het nege van hulle bymekaar gebring en die boere het hul probleme met veldbrande en wilddiewe bespreek. Sy een buurman, mnr. Piet Cronjé, van die plaas Etosha, het met goeie raad vorendag gekom. "Kom ons bou 'n wagtoring", het hy voorgestel. Die ander boere was baie ingenome met hierdie plan. Cronjé het selfs aangebied om die toring op sy koste op sy plaas te bou. Só het die Tooyspruit-brandwag ontstaan, genoem na die spruit wat deur die gebied vloei.
Die ander sewe boere is mnre. Gerhard Kotzé van die plaas Grootfontein, Brian Atwill (Ditholo), Herman Piater (Ubundo Lodge), wat saam met Cronjé as brand-koördineerder optree, Johan Klopper (Haakdoornfontein), Hein Geyser (ook Grootfontein), Jacques Malan (Lumarie) en Ludwig Smit (Morgenzon).
Cronjé sê sulke torings word al sedert die Bybelse tyd vir militêre doeleindes gebou en in die bosboubedryf is dit 'n algemene gebruik om wagte in torings te plaas om op die uitkyk vir brande te wees.
Hierdie boere se wagtoring is 'n stewige paalkonstruksie met 'n grasdak teenaan die teerpad, sodat dit maklik bereik kan word. Dit het R70 000 gekos, wat die koste insluit vir twee tweerigtingradio's, 'n selfoon en 'n kragopwekker om elektrisiteit aan die toring te voorsien.
'n Sekuriteitsmaatskappy op Bela-Bela verskaf die wagte, wat in spanne van twee vir 'n week op 'n slag diens doen. Die een is altyd bo in die toring en die ander een rus in die waghuis neffens die toring, 'n ou plaashuis wat vir die wagte ingerig is. 'n Mens kan 20 km tot 40 km ver vanuit die toring sien, wat ver genoeg is om ál nege boere se plase onder oog te hou.
Daar is 'n groot kaart op 'n skaal van 1:50 000 van die distrik op 'n tafel in die middel van die wagpos bo in die toring, wat met 'n kompas volgens magnetiese noord georiënteer is. Op die kaart is daar 'n geweerteleskoop, wat op 'n geweer se inskietyster gemonteer is. Dit is in die middel op die tafel vasgesit, sodat dit in enige rigting gedraai kan word, met die anker presies op die plek op die kaart waar die wagtoring is.
Die wagtoring se vier sye is in vier sones verdeel, naamlik Alpha-sig, Bravo-sig, Charlie-sig en Delta-sig. Elke sy of sone is verder in segmente verdeel.
Wanneer die wag rook sien, draai hy die teleskoop in daardie rigting, kyk deur die teleskoop en draai die anker vas om dit in een posisie te hou. Hy kyk dan bo-oor die teleskoop om die presiese ligging te bepaal, byvoorbeeld Bravo-sig segment 7. Die plase en hul eienaars se name is ook op die kaart gemerk.
In die toring is 'n tweerigtingradio en twee selfone. Een selfoon is om Cronjé mee te bel (of sy plaasbestuurder, mnr. Poen Els) as die wag alarm maak, en die ander om sy sekuriteitsmaatskappy mee te skakel. Ál die boere het ook selfone om die wag te bel as dit nodig is. Hulle het ook tweerigtingradio's in hul voertuie en huise, en kan ook hoor as die wag alarm maak.
Die boer in die betrokke omgewing van die brand gaan stel dan dadelik ondersoek in saam met sy werkers en die toerusting waarmee hulle brande blus. As dit 'n klein brand is, kan hulle dit dadelik blus. As die brand groter afmetings aanneem, ontbied hulle hulp en die ander boere gaan sit hand by. Elke boer se brandbestrydingstoerusting bestaan basies uit 'n waterspuit op 'n bakkie of trekker, rugsakspuite, vuurplakke en ekstra watertenks om water in die veld aan te vul. Hulle kan ook op die bystand van die nabygeleë Mabalingwe-natuurreservaat staatmaak, wat groot brandspanne met goeie toerusting het. Elkeen van die nege boere kan ook die wag bel as hulle rook sien sodat hy van-uit sy hoër posisie kan vasstel waar die gevaar is.
Dieselfde prosedures word gevolg wanneer die wag in die nag 'n voertuig met ligte op 'n plaas sien ry. Cronjé of Els kan dan vasstel of dit die boer self is wat daar ry, of 'n wilddief.
Nóg 'n voordeel van die diens deur die sekuriteitsmaatskappy is dat hierdie nege boere nou ook toegang het tot ander hulp in gevalle van nood, soos 'n mediese ongeval, 'n plaasaanval, 'n ongeluk, 'n rooftog of 'n kaping. Die maatskappy se basis op die dorp ontbied in sulke gevalle die polisie en paramedici.
Sedert die wagtoring die afgelope somer gebou is, het die boere nog elke keer 'n brand betyds opgespoor en dit geblus voordat groot stukke veld kon afbrand.
Die boere sê hulle is gretig dat ander boere en gemeenskappe ook van hul boereplan kennis neem, want dan kan daardie mense hul paraatheid teen brande, wilddiewe en booswigte verhoog. Dit is nie eens altyd nodig om 'n sekuriteitsmaatskappy se wagte te huur nie, maar die boere kan sélf wagbeurte waarneem. Hierdie nege boere betaal tans elkeen R1 000 per maand. Hulle beman die toring net gedurende die winter, wanneer die gras droog en die brandgevaar groot is. Die moontlikheid is nie uitgesluit dat hulle later kan besluit om die wagtoring dalk selfs die hele jaar deur te beman nie.
Cronjé sê 'n vinnige reaksietyd is die wagwoord. As 'n brand of 'n wilddief blitsvinnig opgespoor word, kan die boere net so vinnig optree om hul eiendom, wild en vee te beskerm.
27 Augustus 2004