Afrika se geheime tekentaal wat aanvanklik net vir sosiale doeleindes gebruik is, word vandag op groot skaal vir misdaad ingespan - ook by talle plaasaanvalle wat in Suid-Afrika plaasvind.
Die Afrika-tekentaal is 'n unieke vorm van kommunikasiemiddel en bestaan al sedert die vroegste tye. Instede daarvan om deur skrif, die gesproke woord of gebaretaal te kommunikeer, maak die Afrika-tekentaal gebruik van voorwerpe in die natuur of enige ander beskikbare voorwerp. Die voorwerpe wissel van blare, takke en klippe tot lappe, plastieksakke en koeldrankblikke. Dit word op die grond uitgepak sodat die verbygangers kan "lees" wat, waar en hoe daar van hulle verwag word om op die boodskap te reageer.
Die Afrika-tekentaal is aanvanklik vir sosiale doeleindes gebruik. Afrikane het dit gebruik om met andere te kommunikeer oor waarheen die wild getrek het, om vir ander te wys waar watergate of dooie bokke, jagplekke of medisinale plante was. Deesdae word dit meestal ingespan vir enigiets vanaf partytjies en sokkerwedstryde tot geboortes, sterftes, of dagga- of drankop-laai-plekke (sien kassie), maar ongelukkig ook vir misdaad.
Dit is te danke aan 'n misdaadleier wat in 1836 na vore getree het en besluit het dat die taal ingespan moet word om wit mense uit Afrika te verdryf en om misdaad te pleeg - waaronder ook plaasaanvalle. Hierdie leier, bekend as Pomabaza, het ook aanbeveel dat enigiemand wat die taal aan wit mense leer, summier vermoor moet word. Daarom dat die taal sedertdien vir wit mense geheim gehou is. Meer hieroor in die volgende artikel.
Dié taal word tydens inisiasieskole en spesiale misdaadskole van een geslag Afrikane na 'n ander oorgedra. Die gebruik van die Afrika-tekentaal is nie beperk tot Afrika of net swart mense nie. Die Afrika-tekentaal word - danksy slawehandel - ook in Suid-Amerika, Amerika en Europa gebruik. Ons voorvaders het die taal ook nie so vreemd gevind as ons nie. Tydens die Anglo-Boereoorlog was die boere goed bekend met die taal.
So ook die Engelsman Robert Baden-Powell wat in die laat 1800's in Mafikeng van die taal te hore gekom het. Powell was so gefassineerd daardeur dat hy met sy terugkeer na Brittanje die Boy Scouts gestig het en beperkte fasette daarvan deel gemaak het van die Scouts se opleiding. Hoewel Powell se kennis van die taal beperk was, is daar vandag nog baie ooreenkomste tussen sommige tekens wat die Scouts gebruik en aspekte van Afrika se "tekentaal".
Die Rhodesiërs het tydens die Rhodesiese oorlog ook dikwels die tekentaal gebruik om vyandelike basisse en hinderlae op te spoor of om die vyand op 'n dwaalspoor te lei.
In Mosambiek was 'n Portugees, ene kaptein Rocha, so behendig met die taal dat hy vreesloos met sy Land Rover rondgery het. Met die kennis was dit vir hom maklik om die taal te gebruik om landmyne (sonder moderne toerusting) op te spoor en te lig.
Ek het die eerste keer van die taal gehoor toe ek in die destydse Angola-oorlog geveg het. Ek en my makkers was bewus van die feit dat die vyand van sekere tekens gebruik maak wanneer hulle die plaaslike inwoners wou waarsku waar hulle landmyne geplant het. Ons het ons ongelukkig nie veel daaraan gesteur nie. Die polisie het tydens dié oorlog baie meer aandag daaraan gegee as ons. Dit was trouens deel van hul bosopleiding. My belangstelling in die Afrika-tekentaal is geprikkel toe ek in 1990 spesiale take vir die Weermag se inligtingsbeen moes doen.
Van my swart troepe het 'n gebied langs 'n teerpad "gevee" op soek na versteekte wapens. Een het met 'n geskokte uitroep vasgesteek en ongeveer 'n meter hoog in die lug gespring nadat hy ses klippies en 'n bloekomtakkie van ongeveer 150 mm op die grond sien lê het. Hy het geweier om vir my te sê wat fout is. Bloot gesê: "Hierdie ding op die grond - hier is iets nie reg nie. Daar is nie bloekombome in die omgewing nie."
Ek het met 'n stokkie tussen die klippe en op die grond begin krap en afgekom op 'n groot koffieblik wat begrawe was. Die blik was as 'n tipe van "poskantoor" gebruik waarin pistole afgelewer was. Die klippies het aangedui waar die poskantoor is en die stokkie dat daar "pos" was vir wie ook al dit daar moes afhaal.
'n Paar weke later het ons springstof wat in 'n oop stuk veld versteek was, op dieselfde manier opgespoor. Steeds wou nie een van my swart troepe my vertel wat hulle sien of wat dit beteken nie. Ek moes my eie afleidings maak.
Ek het mettertyd, namate ek hulle dopgehou het, al hoe meer daarin geslaag om die korrekte afleidings te maak. Hulle het my egter later begin tegemoetkom. Wanneer ek iets reg ontsyfer het, het hulle dit vir my gesê.
Wanneer ek egter 'n teken verkeerd geïnterpreteer het en hulle daaroor uitgevra het, het hulle voorgegee asof hulle nie weet nie, omdat hulle bang was dat hulle vermoor sou word.
Dit het my uiteindelik nege jaar gekos om die taal só te ontsyfer dat swart mense al vrylik met my daaroor gesels en my soms selfs by die SA Polisie as 'n sogenaamde kenner aanbeveel. Ek moet sê, al verstaan ek die taal vandag redelik goed, beskou ek myself steeds nie as volleerd nie. Die taal is te gevorderd en uitgebreid.
Hoe tekens werk
Die Afrika-tekentaal is baie gevorderd en uitgebreid. Daar is letterlik honderde verskillende tekens waarvan sommige so ingewikkeld is om te lees dat dit 'n mens ure kan kos om 'n reeks tekens te ontsyfer. Met 'n reeks word bedoel dat net soos die verskillende letters van die alfabet saamgevoeg word om woorde en sinne te vorm, word verskillende tekens in 'n bepaalde volgorde aangebring om betekenis daaraan te gee.
In die Afrika-tekentaal word die tekens ook in spesifieke afstande van mekaar af aangetref sodat die leser kan weet dat dit een spesifieke reeks tekens en nie net sommer vuilgoed langs die pad nie.
Die eerste teken, genoem 'n aandagtrekker (byvoorbeeld 'n plastieksak sowat een meter hoog bo die grond) dui byvoorbeeld, aan verbygangers aan dat dit die beginpunt van die reeks is, oftewel dat hulle van daardie punt af op die uitkyk moet wees vir verdere tekens.
Daarna volg die res van die tekens totdat die laaste teken aangetref word wat gewoonlik ook finaal aandui wat en waar 'n aksie gaan plaasvind en of dit nog veilig is om voort te gaan met die bepaalde aksie. Gestel die laaste teken (ook die aktiveerder genoem), is 'n klip op 'n paal. As die sokkerwedstryd nog voortgaan sal die klip bo-op die paal wees. Indien die wedstryd afgestel is, sal die klip op die grond lê.
Dit is egter belangrik om te onthou dat een voorwerp nie altyd dieselfde betekenis het nie. Dit hang af van waar die teken in die reeks aangetref word. In die geval van 'n laaste teken, kan 'n klip op die grond beteken dat die aksie afgelas is, maar as dit elders in die reeks aangetref word, kan dit heeltemal 'n ander betekenis hê.
Die taal is ook baie gedetailleerd. Dit kan in die fynste besonderhede presies beskryf wat, waar, wanneer en hoe iets moet gebeur, gaan gebeur of reeds gebeur het. Daar kan byvoorbeeld aandui waar mense woon, waar en wanneer die volgende sokkerwedstryd of sosiale gebeurtenis gaan plaasvind en watter optrede daar van die "lesers" verwag kan word. Selfs die maand, dag, datum en tyd kan in die fynste besonderhede aangedui word. Dit kan byvoorbeeld aandui dat die sokkerwedstryd op 'n Woensdag oor agt weke om 15:00 op 'n vasgestelde plek gaan plaasvind. Die tekens kan sê of daar geld te maak is by die sokker en of dit net vriendskaplik gaan wees.
Bykans enigiets kan met die taal gekommunikeer word, soos waar mense dood is, waar kinders gebore is, waar gejag moet word, watter jagmetode toegepas moet word (byvoorbeeld, moet die prooi met geweld doodgemaak word, kan dit in 'n strik gevang en verwurg word of moet dit lewend gevang word) en waar "dak natgemaak gaan word" (na nuwe aanbouings aan 'n huis of in die geval van nuwe intrekkers). Selfs telefoonnommers kan deur tekens aan iemand anders gekommunikeer word.
Ongelukkig word die tekens nie net vir sosiale doeleindes ingespan nie. Wanneer iemand byvoorbeeld vir die polisie vlug, kan sy vriende deur tekens vir die man op vlug wys waar veilige huise is waar hy kan wegkruip. Met ander woorde waar 'n herberg is waar niemand vrae vra nie. Aflaaiplekke vir dagga en drank word ook so aangedui, asook waar die geld vir die dagga of drank versteek is. Dit word ook vir plaasaanvalle ingespan (lees volgende artikel in LBW van 17 Junie).
Hoe professioneler die tekens gebruik word, soos in die geval van beoogde rooftogte of plaasaanvalle, hoe gevorderder raak die tekens en hoe langer kan dit duur om een reeks tekens te ontsyfer. Die doel daarvan verskil ook. Die doel van die tekens is nie soseer om die werklike aanvallers ("hit squad") na die teiken te lei nie. Die aanvallers is dikwels reeds geruime tyd in die gebied voordat hulle aanval en weet presies wie en wat die teiken is en wat gedoen moet word.
Hulle stel meer belang in die laaste teken (wat hierbo bespreek is), wat van so 'n aard sal wees dat hulle sal kan bepaal of dit nog veilig is om met 'n misdaad voor te gaan of nie. In hierdie geval sal die tekens baie doelgerig gespasieer wees (met presiese afstande van mekaar) en in die rigting van die teiken lei. Die laaste teken sal die aktiveerder wees, wat aandui of die aanval nog voortgaan of afgelas is).
Die aard van die roof, of dit met moord of verkragting gepaard moet gaan, en ook die dag en die tyd vir die aksie word in die voorafgaande tekens in die reeks aangedui. Die aktiveerder word opgepas deur wagte wat buite sig van die teken sit en wag om te sien of dit veilig vir die "hit squad" sal wees om toe te slaan of nie. Indien dit nie veilig is nie, verwyder die wagte die laaste teken self en die aanvallers ry eenvoudig verby sonder om aan te val.
3 Junie 2005