Plaasaanvalle neem toe ná uitsprake wat 'n boodskap uitstuur dat boere kwesbaar is en nie beskerming van die staat kan verwag nie. Aan die ander kant kan beriggewing oor suksesvolle optredes - 96 % van alle plaasaanvallers word gevang - as 'n afskrikmiddel dien.
Talle van Suid-Afrika se leiers en verslaggewers besef nie die moontlike impak van hul uitsprake en beriggewing op die voorkoms van plaasaanvalle en die land se ekonomie nie.
Wanneer hulle hulle oor die grusaamheid en hoë voorkoms van plaasmoorde uitlaat of daaroor berig en die Regering daarvoor die skuld gee, maak hulle onwetend en waarskynlik onbedoeld die volgende gedagtes by voornemende plaasaanvallers wakker:
Navorsing het bewys plaasaanvalle vermeerder skerp wanneer die media ondeurdagte en kritiese uitsprake van landbou- en ander leiers gebruik. Dieselfde navorsing het bevind dat die Regering en intimidasie rondom verkiesingstyd nié die oorsaak is vir die drie of vier plaasaanvalle wat daagliks in die land plaasvind nie, sê mnr. Lukas Swart, een van Suid-Afrika se voorste kenners op die gebied van die voorkoming en ontlonting van plaasaanvalle.
Swart het 14 jaar lank oor hierdie kwessie navorsing gedoen. Die ondervinding wat hy daardeur opgedoen het, word nou gebruik om ander mense op te lei in die voorkoming van aanvalle. Diegene wat deur hom opgelei is, het in 99 % van alle gevalle daarin geslaag om aanvalle te voorkom en het in ál die gevalle daarin geslaag om beoogde aanvalle te ontlont. Net een van dié mense is in dié tyd aangeval, maar sy het ongeskonde daarvan afgekom. Swart se navorsing word deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersteun.
Volgens hom is die finansiële impak van 'n plaasaanval só groot dat enige regering met 'n mate van verantwoordelikheid, insluitende die Suid-Afrikaanse Regering, nie anders kan as om dit 'n voorrangsaak te maak nie.
"Een boer onderhou regstreeks of onregstreeks gemiddeld sowat 24 families, oftewel 118 mense. Word hy aangeval, duur dit tot 18 maande voordat normale produksie hervat kan word. Word hy vermoor, duur dit vyf jaar tot agt jaar voordat volle produksie weer op die plaas bereik word. Dit duur met ander woorde vyf tot agt jaar voordat 118 mense finansieel kan herstel tot waar hulle vantevore was."
Swart twyfel nie daaraan dat die Regering wel ernstig oor die voorkoming van aanvalle is nie.
"Anders as wat geglo word, is die Regering skynbaar werklik besorg oor die hoë voorkoms van plaasaanvalle. Die Regering het reeds voor die wapenskandaal aangekondig dat hy beplan om vier bykomde helikopters te koop in die stryd teen plaasaanvalle. Ongelukkig het daar tot op hede nie veel van hierdie beloftes gekom nie.
"Die Regering het al in Maart 2000 besluit dat die SANW voorkeur moet gee aan die voorkoming van plaasaanvalle, oftewel landelike beveiliging. Daar is besluit dat die polisie die volle verantwoordelikheid vir binnelandse veiligheid moet aanvaar. Teen 2007 moet die SAPD die nodige strategieë daarvoor hê. "Die weermag is aangesê om oor dieselfde tydperk binnelands af te skaal. Ongelukkig het hy dit te vinnig gedoen en het die polisie te stadig gegroei. Dit het veral op die Lesotho-grens leemtes veroorsaak, wat gelukkig nou weer gedeeltelik herstel is."
Swart sê kolonel Barry Schoeman van die SANW se afdeling vir gesamentlike operasies het die Regering se houding teenoor plaasaanvalle wetenskaplik ondersoek. Hy het bevind dat die Regering verplig voel om daaraan aandag te gee weens die uiters nadelige ekonomiese impak daarvan.
Volgens bronne wat hy geraadpleeg het, beloop 'n boer se jaarlikse omset gemiddeld ongeveer R2 miljoen. Sommige boere verdien minder, maar suiker-, vrugte- en mielieboere en sommige groenteboere stoot die gemiddelde op.
Volgens Swart kan verkiesingsintimidasie ook nie die skuld vir plaasaanvalle kry nie. "In Afrika gaan verkiesings dikwels gepaard met intimidasie. Die party wat die grootste mag en vrees op die bevolking kan uitoefen, is gewoonlik die wenner. In Suid-Afrika word jeugorganisasies gebruik om op kiesers se gevoelens te speel om vir sekere partye te stem."
Navorsingstatistiek van die SANW oor plaasaanvalle van 1998 tot 2000 (grafiek op bl. 44) wys tot welke mate politieke partye plaasaanvalle gebruik om steun onder hul kiesers te werf. Die kringe op die grafiek toon die nasionale verkiesing van 1999 en die munisipale verkiesings van 2000 aan. Hier-uit is dit duidelik dat verkiesings geen invloed op plaasaanvalle het nie. Volgens die studie was daar wel 'n toename in motordiefstal rondom verkiesingstyd. Miskien moes mense ver ry om te stem.
Swart het as deel van sy navorsing na die gevolge van leiersfigure van verskillende politieke organisasies se "onverantwoordelike" uitsprake in die media gekyk. Binne vier tot ses weke ná só 'n uitspraak was daar telkens landwyd 'n beduidende toename in plaasaanvalle.
Hy het ook die inhoud van dié uitsprake ontleed en gevind dat almal iets gemeen het. Die sprekers of skrywers het in elke geval daarop gesinspeel dat die huidige Regering onregstreeks vir plaasaanvalle verantwoordelik is en dit selfs steun en dat die polisie en weermag se hande afgekap is om iets aan die probleem te doen.
"Wat die sprekers en die media hierdeur bereik het, is om aan die misdadiger - wat 96 % van die tyd in swart woonbuurte bedrywig is - te sê dat plase ideale plekke is om misdaad te pleeg. Hoewel onbedoeld het joernaliste en leiers aan moontlike plaasaanvallers gesê dat daar baie geld op plase is, dat die Regering sulke aanvalle goedkeur en dat die polisie niks aan hulle gaan doen nie." Die teendeel is egter waar. Meer as 96 % van alle plaasaanvallers word in hegtenis geneem, waarvan 88 % binne die eerste ses ure ná die aanval. Sowat 75 % van die inhegtenisnemings word deur die landelike beveiligingstrukture gedoen en die res later deur die polisie.
"Leiers moet twee keer dink voordat hulle die media as mondstuk gebruik om die Regering te kritiseer oor plaasaanvalle. Dit het nie die gewenste uitwerking nie. Joernaliste kan help deur eerder te skryf oor die suksesse wat al behaal is, soos die talle kere wat aanvalle voorkom is en die polisie of die kommando's die aanvallers aangekeer het.
"Dit behoort voornemende aanvallers die skrik op die lyf te jaag en hulle te laat besef dat hulle nie daarmee gaan wegkom nie. Wanneer daar oor plaasaanvalle of -moorde berig word, is dit belangrik om nie te veel besonderhede te gee nie, omdat dit aan aanvallers wenke kan gee," sê Swart.
Raad kan lewens red
Die impak van plaasaanvalle op landelike gemeenskappe en die land se ekonomie is groter as wat die meeste mense besef. Min mense weet ook dat die politieke element in plaasaanvalle byna onmeetbaar klein is.
Plaasaanvalle word eerder aangemoedig deur faktore soos onverantwoordelike mediaberiggewing oor dié kwessie en sekere landbou- en politieke leiers wat die media as mondstuk gebruik om die Regering te kritiseer.
Dít is die mening van mnr. Lukas Swart, 'n kenner op die gebied van plaasveiligheid. In navorsing wat hy die afgelope 14 jaar oor plaasaanvalle gedoen het, het hy gekyk na wie agter die aanvalle sit. Hy het verder doeltreffende metodes geïdentifiseer waarmee plaasaanvalle afgeweer kan word.
Sy gevolgtrekkings en raad word in 'n kort reeks artikels in Landbouweekblad saamgevat. In die eerste artikel verduidelik hy die impak van plaasaanvalle op die land se ekonomie, die rol van die Regering en verkiesingsintimidasie in die voorkoms van plaasaanvalle en hoe die media kan help om plaasaanvalle te voorkom.
Die volgende artikels handel oor bendes se rol in plaasaanvalle, wie die aanvallers is en waarom hulle hulle op plase toespits, die profiel van aanvallers en slagoffers, hoe 'n mens tydens 'n aanval behoort op te tree en laastens oor die Afrika-tekentaal - wie dit gebruik en hoe dit in misdaad ingespan word.
Boere met kennis bemagtig
Sedert sy boek Oorwin Plaasaanvalle in 2003 gepubliseer is, het mnr. Lukas Swart duisende mense gehelp om hulself beter teen geweld op plase te beskerm.
In die boek leer hy boere hoe om vroegtydig agter te kom wanneer 'n aanval beplan word en hoe om dit te onlont. Hy bied ook seminare aan waarin hy boere oplei in die ontsyfering van die Afrika-tekentaal. Hierdie "taal", wat met onder meer klippe, blare en stokke "geskryf" word, word net voor 'n plaasaanval deur die aanvallers in die gebied aangebring.
Swart se kennis spruit uit sy meer as 14 jaar se navorsing oor plaasaanvalle in Suid-Afrika. Met die navorsing wou hy metodes vind waarmee plaasaanvalle - sonder om geweld te gebruik - suksesvol afgeweer kan word, ongeag die moontlike slagoffer se geslag of ouderdom. Hy wou ook vasstel of daar enige organisasie agter plaasaanvalle skuil en, indien wel, wie dit is en hoe dit bestuur of beheer word. Tot op hede is meer as 6 000 mense deur sy seminare bereik en is meer as 431 plaasaanvalle suksesvol voorkom. Slegs een persoon, 'n 74-jarige vrou wat nie die Afrika-tekentaal goedgenoeg kon ontsyfer nie, is aangeval. Sy het ongeskonde daarvan afgekom. Danksy die inligting in die boek het sy die aanvallers - wat haar wou verkrag - op die vlug laat slaan.
Swart sê hy het geen verskuilde politieke agenda nie en bevorder ook nie 'n bepaalde politieke denkrigting nie. Hy probeer juis om die inligting so wetenskaplik en objektief as moontlik te hou. Sy navorsing strek tot voordeel van alle boere, ongeag hul velkleur.
"Diegene wat agter plaasaanvalle sit, is nie noodwendig tot een ras beperk nie. Hulle vorm deel van 'n eiesoortige misdaadgroep wat eerder op misdadige elemente as ras gegrond is."
Ná hulle aanvanklik skepties was, onderskryf die SANW en die SAPD nou sy boek en seminare.
"Met die bekendstelling van die Afrika-tekentaal was die inligtingsgemeenskap van die weermag aanvanklik só skepties dat ek in sommige kringe as 'n vyand van die staat beskou is. Nadat ek in 1999 deel geword het van die generale staf, het ek diegene wat nie saamgestem het nie wetenskaplik verkeerd bewys. Vandag aanvaar die weermag en die polisie my navorsing."
25 Maart 2005