Hy het met sy hande in sy hare en op moedverloor se vlakte gesit toe boosdoeners uit 'n vlugtelingkamp sy plaas verinneweer het. Toe koop hy 'n mikrovliegtuig, boender die boosdoeners van die plaas af en pak innoverende nuwe planne aan.
Jare lank het mnr. Hans-Peter Visher se ouers rustig op die plaas Burgkeller by Osire in die noorde van Namibië met beeste geboer. In 1990 het die Namibiese regering 'n vlugtelingkamp 'n hanetreetjie van die plaas af opgerig waar daar op 'n tydstip 25 000 mense saamgehok was. Die kamp huisves nou sowat 8 000 mense.
Toe Visher en sy gesin hulle in 1997 op die plaas gaan vestig het om ook met beeste te boer, het hulle nie dadelik geweet waarvoor hulle hulself inlaat nie.
Om vir hulself te probeer sorg, het die mense van die kamp Visher se beeste geslag, wild in strikke gevang en duiwelsklou in sy veld uitgegrawe. Die uitgrou van duiwelsklou het gate gelaat waarin van sy kalwers geval het. Die klomp vreemde mense het sy werkers en vee ontwrig.
Hy het onsuksesvol probeer om die kamp se inwoners te laat vervolg en uiteindelik besluit om die familieplaas te verkoop.
Voor hy gaan boer het, was hy 'n lugvaarttegnikus wat onderhoudswerk aan stralers en ander groot vliegtuie gedoen het en die wêreld oor gevlieg het. Hy was dol daaroor, maar moes altyd net saamgaan en kon nooit self agter die stokke inklim nie.
Op 'n dag het hy saam met 'n vriend in 'n mikrovliegtuig gaan vlieg en net daar besef: "Dit is vir my!" Maar sy vrou, Anka, het haar voet dwars gesit. Nie voor sy afhanklikes onafhanklik is nie.
Toe sy egter gesien het hoe moedverlore hy is, het sy voorgestel dat 'n mikrovliegtuig dalk kan help om die probleem op te los.
Hy het toe 'n Windless Trike gekoop met 'n enjin van 37 kW wat teen 10 liter petrol per uur vlieg. Hy het sy lisensie gekry en begin vlieg met 'n tweerigtingradio waarmee hy met sy werkers in 'n bakkie op die grond in verbinding gebly het.
Sommer gou het hulle op hierdie manier 'n klompie manne betrap wat duiwelsklou op 'n buurman se plaas uitgegrawe het. Hulle het hulle verwilder en op die duiwelsklou beslag gelê. Die duiwelsklou wat só herwin is, was vir die buurman R40 000 werd - byna wat die vliegtuig gekos het.
"As ek só oor die plaas gevlieg het, kon hulle nie vir my wegkruip nie. Ek het hulle gesien, my manne geroep en hulle was gou by om die boosdoeners te skraap en te verwilder. Nie te lank nie of die probleem was opgelos. Nou boer ons weer rustig," sê hy.
Vandag is die vliegtuig onmisbaar in die bestuur van die plaas. Hy vlieg sowat drie maal per week vir sowat 45 minute oor die plaas, inspekteer die heinings, evalueer die weidings, tel die beeste en die wild en kyk of die damme en krippe in orde is.
"As ek oor 'n kamp vlieg en sien die beeste begin net op sekere plekke wei, weet ek dit is tyd om hulle te verskuif omdat hulle net die lekker klimaksgrasse begin vreet en oorbewei.
"Op 'n dag kort voor Kersfees het ek 'n klompie kalwers by 'n pos sien staan in 'n kraal wat toe was. Ons kon nie bepaal hoe die hek toe gekom het nie, maar toe die werkers daar aankom, was die krip leeg weens 'n verstopte pyp.
"Ek sou in daardie tyd beslis nie met die bakkie daarheen gery het nie en 90 speenkalwers en 50 koeie sou van die dors gevrek het," vertel hy.
Só het die vliegtuig sy koste al oor en oor betaal.
Met nuwe moed om geslaag te boer, het hy besluit om te diversifiseer. Maar, soos met alles, het hy eers deeglik besin. Eers het hulle jag en ekotoerisme probeer, maar dit het nie gewerk nie. Toe besluit hy akkerbou is wat hy graag wil probeer.
Grondwater is betreklik volop en sy pa het jare gelede al sowat 'n kwart hektaar om die huis besproei. Hy het onthou dat dit gewerk het.
Nadat hy twee jaar lank die saak deeglik oorweeg en goed beplan het, het hy teen drupbesproeiing besluit en 'n spilpunt opgerig wat 7,5 hektaar kan besproei. Die spilpunt trek water uit die dam in die huistuin. Dié dam word uit boorgate volgehou.
Hy plant mielies teen die middel van Desember, stroop dit teen April en plant dan dadelik hawer vir eie gebruik. Hy verkoop van die strooi as hooi.
Met die mielies het hy verskeie opsies. As die prys reg is, verkoop hy die graan of anders benut hy dit vir sy beeste.
Die stuk grond is met die hand skoongemaak en gelyk geploeg. Van daar af het hy baie nou saamgewerk met 'n raadgewer in Suid-Afrika, want self het hy min van mielies en koring geweet.
Hy het grondmonsters geneem en dit na sy raadgewer gestuur. Die bemestingsvoorskrifte het hy tot op die letter uitgevoer. Voor planttyd is 50 kg stikstof per hektaar en 99 kg fosfaat plus sink per hektaar uitgestrooi en tydens planttyd nog 22 kg stikstof per hektaar, 22 kg fosfaat per hektaar en 22 kg kalium per hektaar. Deur die seisoen is nog bemesting deur die spilpunt toegedien totdat in totaal 271 kg stikstof per hektaar, 121 kg fosfaat per hektaar en 47 kg kalium per hektaar gegee is.
In totaal is sowat 800 mm water deur die seisoen toegedien met 'n hoogtepunt van sowat 80 mm per week tydens pluimstoot. Elke voorskrif ten opsigte van onkruiddoders en bespuitings teen siektes en plae is noulettend nagevolg om die 80 000 mielieplante per hektaar reg te versorg.
En wanneer daar vreemde kolle op die gewasse se blare verskyn het, het hy dit afgeneem en die foto's per e-pos na sy raadgewer gestuur vir hulp.
Visher se moeite is beloon. Op die helfte van die oppervlakte wat nodig is vir een bees om op te wei, het hy 101,7 ton mielies geoes teen gemiddeld 13,56 ton per hektaar.
Hy wil verder uitbrei, maar gaan jaloers waak oor die grondwater omdat hy besef dit is sy vernaamste bate. Op die verdere grond wat hy skoonmaak, wil hy aangeplante weidings vestig, dit in klein kampies verdeel en intensief met skape daarop boer om nog verder te diversifiseer.
Dit is nie die einde van sy planne nie. Hy boer met 640 beeste op 8 000 hektaar en met nog 400 beeste wat hy huur op 'n plaas wat hy huur. Laasgenoemde beeste en grond behoort aan 'n buur-weduwee wat nie kans gesien het om alleen met die boerdery aan te gaan nie, maar dit ook nie wou tot niet maak nie.
Hy huur die beeste by haar teen 'n bedrag gelykstaande aan die rente wat sy sou kry op 'n bedrag gelykstaande aan die waarde van die beeste. Dié huur betaal hy maandeliks sodat sy 'n vaste inkomste het. Die grond huur hy teen die heersende prys van huurgrond in die omgewing.
Hy versorg die kudde ten volle en ál die aangeteelde diere is syne. Op hierdie manier het hulle 'n wen-wen-situasie geskep wat vir hom die voordeel inhou dat hy nie kapitaalbesteding hoef te doen om beeste te koop nie, terwyl sy nie haar eiendom hoef te vervreem nie.
Die ooreenkoms word jaarliks hersien en die huurgeld aangepas soos wat die waarde van die diere wissel en die huurprys vir grond verander.
Só het 'n mikrovliegtuig vir Visher en sy gesin van moedverloor se vlakte gered sodat hulle hul familieplaas weer optimaal kan benut.
16 September 2005