Landbou
Praat bring gouer genesing
MARITHA DU PLESSIS-SWART

Moenie huiwer om slagoffers van plaasaanvalle en hul naasbestaandes te ondersteun nie - hulle het dit broodnodig. Lees hier hoe 'n mens hulle kan bystaan - wat jy kan doen en wat jy nie moet doen nie.

Dit is 'n uitdaging om die slagoffers van plaasaanvalle korrek te hanteer. Dit geld nie net vir volwassenes nie, maar ook vir kinders, wat dikwels oor die hoof gesien word.

Verkeerde beradingstegnieke het al menige slagoffer tot selfmoord, drank- en dwelmmisbruik gedryf of tot gevolg gehad dat hulle hul aan die samelewing onttrek, sê me. Lita Fourie (46) van Letsitele, naby Tzaneen, wat sulke slagoffers vrywillig onderskraag deur berading.

Haar kernraad is: Slagoffers herstel nooit van die trauma - berading moet dus binne hierdie konteks geskied. ''ná uiters wrede verminking van en moord op my ouers (meer daaroor in die volgende aflewering in dié reeks) het ek baie verander. Ek het meer deernis met mense se hartseer, maar ek is ook 'n veel ernstiger mens as voorheen," sê sy.

Slagoffers moet dadelik ná die aanval berading kry en oorreed word om oor die gebeure - hoe wreed ook al - te praat. "Hoe langer hulle wag, hoe groter is die sielkundige en ander skade, soos die vrou wat nie berading ontvang het nie en toe ek by haar kom, was dit te laat om te voorkom dat sy selfmoord pleeg.''

Fourie en haar kinders het ondervind hoe meer hulle oor die moord gepraat het, hoe meer het genesing plaasgevind. Ongelukkig blyk dit uit die meer as 100 slagoffers wat sy al bygestaan het, dat dit nie gebeur nie. Die slagoffers wil dikwels nie oor die voorval praat nie, omdat van die aanvalle so uiters wreed is.

In baie gevalle moet die boerdery ook voortgaan en is daar nie tyd nie, of in elk geval niemand om mee te praat nie. Daar is dikwels ook nie geld om mense vir berading te laat gaan nie. Fourie probeer hier 'n rol vervul deur onder meer 'n skouer te gee om op te huil.

Nog 'n probleem - volgens haar ervaring - is die "skokkend" swak ondersteuning wat slagoffers en hul naasbestaandes van die kerk, familie en vriende kry. "Soveel getraumatiseerdes het al vir my gesê dat hul predikant, familie en vriende vir hulle sê om te berus omdat dit die Here se wil is dat hul familie so barbaars vermoor is. Hulle moet vergeet en met hul lewe voortgaan. Dit maak die slagoffers só verbitterd dat hulle die kerk en God begin haat.

"Dit is snert. Plaasaanvalle is die werk van Satan. God kan nie daarvoor geblameer word nie en dit moet duidelik aan slagoffers gesê word. Ook dat die aanvallers aan God sal moet antwoord. Al kom hulle op aarde weg (ligte vonnisse) sal hulle nie by God verby kom nie."

Nog iets om te vermy, is om vir die slagoffer te sê "ek verstaan of weet hoe jy voel". As jy nog nie presies dieselfde ervaring as die slagoffer gehad het nie, maak só 'n stelling die slagoffer eerder kwaad as iets anders. Hierby is die harteloosheid van sommige mense werklik hartverskeurend. Terwyl sommiges die naasbestaandes en slagoffers vermy, veroordeel ander mense die slagoffers wat nie daarin slaag om die moorde op hul geliefdes te verwerk nie.

"Die vrou (hierbo genoem) wat selfmoord gepleeg het, het aan dwelms en drank verslaaf geraak omdat sy nie die wrede moord op haar ma kon verwerk nie. Toe ek van haar uitvind en met haar kontak gemaak het, het sy begin huil. Ek was volgens haar die eerste en enigste een wat, ná die begrafnis, nie vinnig padgegee het as sy in die straat afgestap kom nie. Nog hartseerder was die groot aantal mense wat haar agterna veroordeel het toe sy 'n alkoholis geword en selfmoord gepleeg het.

"Ek glo nie dat mense die slagoffers uit gevoelloosheid vermy nie, eerder omdat hulle verleë voel en nie weet wat om vir die getraumatiseerde te sê nie. Soveel slagoffers het al vir my gesê hoe hulle begeer dat iemand - enigiemand - net met hulle wou kom praat oor die gebeure sodat hulle dit kan verwerk. Moenie wegskram van die moordonderwerp nie. Wees daar vir die slagoffers en begin uit jou eie oor die moord praat as die slagoffers nie wil praat nie. Dalk is jy môre self in daardie posisie en dan het jy mense nodig wat na jou uitreik."

Dit is verkeerd om vir slagoffers te sê die vermoordes het daarna gesoek om vermoor te word omdat hulle glo nie die nodige diefwering en alarmstelsels gehad het nie, of swak verhoudings met hul werkers gehad het. Vir sulke mense wil ek sê: "Baie boere is produktief, maar het net nie geld om hulself goed te beveilig nie."

Daar is wel diegene wat onbetrokke is, weier om opgelei te word om plaasaanvalle te voorsien en te voorkom en dan vermoor word, maar baie ander boere word by plaashekke of ver van die opstal waar hulle weerloos is, aangeval. "Een van my ouers se betroubare, geliefde werkers het die hele moord op hulle gereël.

"'n Mens kan dus nie met gesag veroordeel nie, want jy kan nie met sekerheid sê dat jyself nooit 'n slagoffer van 'n plaasaanval kan word nie. Gebeur dit, sal jy en jou familie nie veroordeel wil word nie. Begin eerder ander mense se seer raaksien, raak betrokke, woon hofsake by en gaan gee slagoffers 'n drukkie en bemoedigende woord - en tel jou woorde."

Om die slagoffer na 'n polisie-sielkundige wat van dieselfde ras is as die aanvallers te stuur, werk nie. In aansluiting hierby is dit fataal om vir naasbestaandes (en slagoffers) kort ná die plaasaanval te preek omdat hulle die aanvallers met 'n passie haat.

"Net ná my ouers se moord sou ek self, sonder aarseling, kon moor. Niemand moes dit waag om vir my te sê ek mag nie haat nie. Ek het besef dit is nie nodig om voor te gee asof niks my raak nie. Ek mag maar huil. Ek en my kinders het op ons knieë gegaan om die gebeure te probeer verwerk, maar jy haat met 'n passie. Dit word vererger deurdat plaasmoorde nie 'n voorrangsaak in ons land is nie.

"Ek het onlangs verneem een van my ouers se moordenaars is al vrygelaat - ná net drie jaar. Dit is vir ons baie erg. Die feit dat min aanvallers enige emosie of berou tydens hofsake toon, maak dit nie juis makliker nie. Ek sal nooit die moordenaar se woorde ná vonnisoplegging vergeet nie. Hy het my in die oë gekyk en gesê: 'At least I am still alive.'

"Veral die eerste hofsitting is baie traumaties en hier wil ek vir mense sê: Jy mag in daardie stadium nog maar haat. Om nie jou emosies weg te steek nie, maar daarmee te worstel, is die enigste manier om dit te verwerk.'' Dit is die onderdrukking van emosies wat veroorsaak dat mense ineenstort - soos die vrou wat 'n jaar ná haar man se moord eendag in 'n lesing oor die voorkoming van plaasaanvalle soos 'n besetene begin gil en baklei het.

"Glo my, dit duur lank voordat vergifnis intree. Dit is 'n lang proses van skok, woede, smart en vergeldingsdrang voordat berusting en volkome vergifnis intree."

In die volgende artikel vertel Fourie hoe sy uiteindelik haar ouers se moordenaars vergewe het. Navrae kan aan haar gerig word by 083 648 9952.

Ondersteuning broodnodig Die slagoffers van plaasaanvalle asook hul naasbestaandes is die mense wat die meeste afgeskeep word ná 'n plaasaanval. Terwyl sommige hulle aan die samelewing onttrek, raak ander gewelddadig of gee hulle oor aan dwelms en drank. Sommige pleeg selfmoord, sê me. Lita Fourie (46) van Letsitele, naby Tzaneen, wat vrywillig berading verskaf aan slagoffers van plaasaanvalle.

Fourie se ouers is vyf jaar gelede grusaam vermoor. Sy het die afgelope vyf jaar al meer as 100 slagoffers en hul naasbestaandes bygestaan om die trauma te verwerk.

Sy verduidelik in 'n kort reeks van drie artikels hoe hierdie getraumatiseerdes bygestaan moet word, watter optredes vermy moet word en hoe boere meer betrokke kan raak by die voorkoming van plaasaanvalle. In hierdie uitgawe verduidelik sy waardeur slagoffers en hul naasbestaandes gaan en hoe hulle gehelp kan word om hul lewe weer sinvol te hervat.

Die tweede artikel gaan oor die belangrikheid daarvan dat slagoffers die hofsake van die aanvallers bywoon en gee 'n kykie in die grusaamheid van plaasaanvalle ter verduideliking van die geweldige trauma wat slagoffers en veral kinders beleef.

Die laaste artikel handel oor die impak van boere se onbetrokkenheid by plaasaanvalle. Metodes hoe 'n mens jouself in 'n plaasaanval met alternatiewe wapens (nie vuurwapens nie) kan verdedig en presies hoe aanvallers hul moses kan teëkom danksy 'n unieke steunkring en plaasaanvalnoodplan, word ook in die artikel bespreek.

Thabita gee hoop aan slagoffers 'nMa van vier, me. Lita Fourie (46) van Letsitele, het haar werk prysgegee om die nie-winsgewende organisasie Thabita - dit beteken "staan op" - te stig. Dié organisasie ondersteun slagoffers van plaasaanvalle geldelik en emosioneel. Sy ontvang geen vergoeding vir haar selfoplegde liefdestaak nie. Sy word bygestaan deur haar vriend, mnr. Herman Roodt. Saam het hulle al honderde mense gehelp.

Fourie het die organisasie 'n jaar ná haar ouers se moord tot stand gebring nadat baie ander slagoffers haar gebel het nadat hulle van haar in die koerant gelees het. "Ek het begin besef dat die Here my geroep het om 'n verskil te maak. Mense het my in die middel van die nag gebel vir ondersteuning. Ek het toe deur Thabita begin steun werf vir boere en hul beveiliging en selfs in die buiteland begin soek na borge vir slagoffers en naasbestaandes van plaasaanvalle."

Afgesien van emosionele ondersteuning, help Thabita slagoffers ook met begrafnisreëlings en geldelike hulp om vir sielkundige berading te gaan. "Die publiek het geen idee van die enorme mediese rekenings waarmee slagoffers ná die tyd sit nie. Soos die vrou wie se ken in 'n aanval weggeskiet is en ander slagoffers wie se lewer, niere en longe só beskadig is dat hulle vir die res van hul lewe van mediese toestelle afhanklik is. Om nie te praat van die trauma van verkragtings nie."

Sy het verlede jaar ses weke lank van Pietersburg af deur Noordwes na Potchefstroom en oor Parys na Pretoria gestap om mense se aandag op plaasaanvalle te vestig en om geld in te samel vir die mediese, begrafnis-, beradings- en regskoste van slagoffers. "Ongelukkig sukkel ons om borge te kry. Mense sê reguit vir ons ons moenie ons probleme hulle s'n maak nie!"

Thabita het deesdae begin uitbrei na stede. Roodt, wat saam met Fourie werk, vertel dat veral jong mense met geliefdes op plase, belang stel in lesings oor hoe om plaasaanvalle te voorkom. Hulle is bekommer oor hul geliefdes se traak-my-nie-agtigheid en wil hulle dan gaan oplei.

"Dit ontstel my elke keer as ek van 'n plaasaanval of moord hoor, maar ek weet ek beteken iets omdat ek werk met die seer wat mense ná die aanvalle oorhou. Ek het al baie deur die nag saam met mense gehuil oor die verwoesting ná 'n aanval, maar dit is só bevredigend as dieselfde mens jou maande later weer bel en dankie sê dat ek daar was vir hom of vir haar."

16 September 2005