
Koedoes het verwoesting gesaai in dié boer se landerye. Toe bou hy 'n toestel wat goed genoeg is om ook plaasaanvallers te verwilder of die huismense betyds wakker te maak.
Die koedoes het groot skade in mnr. Johan (Makataan) van den Heever se gesaaides op die plaas Kanariesfontein naby Swartwater in die provinsie Limpopo aangerig. Toe ontwerp hy 'n kontrepsie wat met 'n klapper werk om hulle te verwilder.
"Maar dié toestel kan ook goed werk om plaasaanvallers die skrik op die lyf te jaag of minstens die huismense wakker te maak," sê Van den Heever.
Die toestel werk met 'n struikeltou wat deur die koedoes afgetrap word en die meganisme aan die gang sit om die klapper aan die brand te steek, wat dan met 'n groot slag ontplof.
Die tou kan net so goed aan 'n deur se handvatsel geheg word om dit te laat afskiet sodra daarmee gepeuter word. Hy sê booswigte kry dikwels 'n huis se sleutels en kry só toegang om die mense te oorval. As die handvatsel gedraai word, kan dit die tou trek wat die klapper laat ontplof.
Die klapperskieter bestaan uit 'n staander van buismetaal met 'n skerp pen onderaan, wat in die grond gedruk word sodat die staander regop staan. 'n Metaalstaaf pas in die buis sodat dit op en af kan beweeg.
Onderaan die buis is 'n krom armpie vasgesweis met 'n plat yster daaraan wat regop langs die buis staan, sowat ses sentimeter weg.
Deur dié plat yster is twee gaatjies geboor, een horisontaal en so groot dat 'n vuurhoutjie stewig daarin pas.
'n Sentimeter of twee bokant dié gaatjie is nog 'n gaatjie wat skuins geboor is en waarin 'n klapper stewig pas. Die vuurhoutjie en die klapper word só deurgedruk dat die klapper se lont op die vuurhoutjie se kop rus.
Aan die staaf wat op en af in die buis naas die plat yster kan beweeg, is 'n houertjie vasgesweis waarin 'n vuurhoutjiedosie stewig pas met sy swaelkant vorentoe.
Aan die teenoorgestelde kant, weg van die dosie en armpie, is 'n kepie deur die buis tot in die staaf wat op en af gly gesaag. 'n Plat ystertjie word deur die gleuf gedruk om die staaf bo in die buis vas te hou.
Aan die ander kant van die platystertjie is 'n gaatjie deurgeboor waardeur die struikeltou vasgemaak word. Enige trekking aan dié tou sal die plaatjie uittrek.
Die staaf gly in die buis af, die vuurhoutjiedosie se swaelkant skuur oor die vuurhoutjiekop, wat dit laat ontvlam en die klapper se lont aan die brand steek. 'n Paar sekondes later gaan die skoot af.
'n Tweeliter-plastiekkoeldrankbottel word net onderkant die nek afgesny en oor die toestel geskuif sodat die wind of reën nie die vuurhoutjie kan doodwaai of laat nat word voordat dit die klapper aangesteek het nie.
Afgesien van die koedoes wat hy met die toestel verwilder, het hy ook al mense wat by sy skuur wou kom kwaad doen, die skrik op die lyf gejaag. Hy het ook een gemaak vir 'n vriend van hom wat in die Vrystaat boer. Dié het dit by sy skaapkraal gestel.
12 Mei 2006