Landbou
Pynloos van kommando na reservistemag
ANDRIES GOUWS (agouwss@landbou.com)

'n Groep wakker boere van Mpumalanga was hul tyd met die kommandostelsel eintlik vooruit en het dit maklik gemaak om pynloos na die reserviste-sektorpolisiëringstelsel oor te skakel.

Wakkerstroom se boere is wakker. Reeds met die kommandostelsel het hulle hul plaaswerkers en die dorpsgemeenskap betrek in die stryd teen misdaad om só hul dorp en omgewing een van die veiligste plekke in die land te maak.

Onlangs het die eerste 82 reserviste hul sertifikate ontvang ná hulle 'n basiese opleidingsprogram voltooi het en as polisiereserviste aangestel is. In dié groep is sowat 30 boere en 15 vroue wat neffens die mans hul plek gaan volstaan.

Op die oorhandigingsplegtigheid het elke spreker dit benadruk dat die nuwe Suid-Afrika nuwe eise stel aan die hele gemeenskap om saam met die polisie verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te aanvaar.

Die oogmerk is om 'n blou (die kleur van die polisie-uniform) gemeenskap te skep, wat saam 'n skild sal vorm wat die misdadigers sal afweer sodat die hele gemeenskap, maar veral vroue en kinders, in 'n veilige omgewing kan woon en werk.

Mpumalanga se kommissaris van polisie, O.S. Khumalo, het gesê elke Suid-Afrikaner het die reg om beskerm te word, maar terselfdertyd is dit almal se plig om misdaad te beveg.

In die berge en vlaktes om Wakker-stroom is 'n nuwe stelsel nou gevestig wat die belange van die hele landelike gemeenskap moet dien.

In die meeste dele van die land het die ou kommandostelsel net 'n gedeelte van die bevolking gedien, maar die nuwe stelsel wat nou sy beslag in dié gebied gekry het, dien almal, daarom salueer hy die reserviste wat 'n voorbeeld aan die res van die land stel.

Die kloof wat nog op plekke bestaan, moet vernou word en die hele bevolking moet besef almal het 'n verantwoordelikheid om een reënboognasie te hê.

Hy het 'n beroep op die hele landbougemeenskap gedoen om hande te vat en saam verenig teen misdaad op te tree om 'n veilige omgewing vir boere, hul gesinne en werkers te skep.

Dié beroep is onderskryf deur mnr. G.O. Ngweny van die Pixley Ka Seme-munisipaliteit, wat ook gewaarsku het dat die publiek te maklik kla oor swak diens. Pleks daarvan behoort hulle te vra wat hulle kan doen om te help.

Sr. Superintendent A. Redman, provinsiale hoof van opleiding, het die toewyding van die reserviste geloof en gesê die oud-kommandolede en nuwe vrywilligers is saam as polisiereserviste opgelei in die ware gees van ubuntu en dat dit die verbeterde diens deur die SAPD weerspieël.

Wakkerstroom is 'n vername toeristebestemming wat vir die hele omgewing groot voordeel inhou. Dit is noodsaaklik dat dit vir toeriste veilig gemaak word.

Mnr. Pieter Bruwer, veiligheidsverteenwoordiger van Agri Mpumalanga in die Wakkerstroomgebied, was een van die nuwe reserviste wat sy sertifikaat ontvang het. Hy was onder kol. Koot van Niekerk, tweede in bevel van die Wakkerstroom-kommando.

Die kommando het uitstekend gewerk. Die plaaswerkers en die gemeenskap is oor baie jare heen betrek om almal se veiligheid te probeer verseker. Die plaaswerkers kon al die opleiding ondergaan en talle was aktief by die kommando en sy werksaamhede betrokke.

Wanneer dit nodig was, het al die kommandolede ook in die dorpsgebiede diens gedoen en die polisie gehelp. Daar was deurentyd 'n uitstekende verhouding tussen die kommando en die polisie wat die samewerking in die huidige stelsel net soveel makliker maak.

Hoewel die kommando eers in 2007 ontbind, het die lede besluit om nou al by die nuwe stelsel betrokke te raak en hul gewig in te gooi om te verseker daar ontstaan nie 'n leemte wanneer die kommando ontbind nie.

Hy skryf die sukses van die hele poging toe aan die dryfkrag van die bevelvoerder van die plaaslike polisiekantoor, kapt. Alf Ueckermann, wat die leiding geneem en die nodige aansporing gedoen het. Die meeste oud-kommandolede is nou polisiereserviste en daar het heelwat nuwelinge bygekom, sê hy. Die polisiereserviste bestaan uit boere, plaaswerkers, dorpsmense en in baie gevalle het egpare aangesluit.

"In ander streke veg baie boere om die kommandostelsel te behou. Ons het besluit ons gaan eerder ons energie gebruik om saam te werk en die polisie se vermoë te probeer versterk," sê Bruwer.

Die reservistediens is heeltemal vrywillig. Hulle het die basiese opleiding voltooi wat hulle in staat stel om die polisie in die meeste van hul take volledig by te staan, hoewel hul eerste doelwit die beveiliging van huis en haard in hul streek is.

Daarby voorsien hulle dat hulle op eie inisiatief, maar met die volle wete van die polisie, voortydig sal optree om misdaad te voorkom en te help met die aktiewe bestryding en ondersoek daarvan.

Dit sluit patrollering, die oprigting van voertuigbeheerpunte en die insameling en deurgee van inligting aan die polisie in. Dit sal alles met die samewerking van die SAPD geskied. Die reserviste in die dorpsgebiede sal waarskynlik dieselfde werkspatroon volg.

"Ons gaan al ons energie aanwend om te probeer verseker dat ons dorp en omgewing een van die veiligste plekke in die land bly," sê Bruwer.

Twee polisiereserviste het hulle ook by die veediefstaleenheid aangesluit. Dié eenheid maak met perde, motorfietse en voertuie die afgelope klompie jare 'n beduidende duik in misdaad in die omgewing van Wakkerstroom.

Kaptein Lou Schoombee, bevelvoerder van die eenheid wat sedert 1988 in die gebied werk, sê die eenheid bestaan uit nege lede en twee reserviste en het die afgelope paar jaar gesorg dat veediefstal met gemiddeld sowat 9 % afgeneem het.

Daar is baie vee in dié hoëveldstreke wat veediewe lok en veediefstal 'n wesenlike probleem maak. Sy eenheid doen baie ondersoeke, pak werksaamhede aan waardeur vee bymekaargemaak word en klaers die geleentheid kry om gesteelde vee te identifiseer. Daarby word veediefstalvergaderings in die verskillende inligtingsentrums in die streke gehou waarop inligting van boere en hul veewagters na die polisie gekanaliseer word.

Hy meen die polisie se werk sal vergemaklik word as boere hul vee nougeset volgens die voorskrifte merk en veediefstal so gou moontlik aanmeld. Daar is feitlik elke dag veilings in die gebied en elke dag wat ná 'n diefstal verloop, maak dit moeiliker om die vee op te spoor, sê hy.

Landbouweekblad, 24 November 2006.