Landbou
Operasie Rachel sprei vlerke
ANDRIES GROENEWALD

Die twaalfde Operasie Rachel in Mosambiek waar opgebergde oorlogswapens vernietig word, slaan nie net 'n bres vir veiligheid in dié buurland en in Suid-Afrika nie, maar kring nou ook uit na ander lande in Suider-Afrika.

Die paar ton opgebergde oorlogswapens wat onlangs met plofstof in Mosambiek vernietig is, bevoordeel nie slegs dié land nie, maar dra ook by tot die beveiliging van strate in Johannesburg, Pretoria en Kaapstad, sê mnr. Paul Boateng, die Britse gesant (konsul) in Suid-Afrika. En wat méér is, sê hy, is die blye nuus dat hierdie vernietiging van vuurwapens nou uitkring na ander lande in Suider-Afrika, soos Angola en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).

Operasie Rachel is in 1995 van stapel gestuur kort nadat 'n ooreenkoms tussen die destydse presidente Nelson Mandela van Suid-Afrika en Joachim Chissano van Mosambiek gesluit is. Albei het besef hoe belangrik dit is om die groot voorraad wapens wat tydens die burgeroorlog in Mosambiek opgebou is, te vernietig om stabiliteit in die streek te verseker.

Tydens die destydse burgeroorlog het verskeie lande vragte wapens na Mosambiek gestuur. Daar is destyds nie boekgehou van hierdie wapens nie en omdat daar hopeloos te veel was, is baie daarvan in opslagplekke begrawe.

Toe vrede verklaar is, was hierdie wapenopslagplekke 'n ware uitkoms vir mense wat ná die oorlog se teistering erg honger gely het. Vir misdadigers in Suid-Afrika was dit weer 'n ideale bron van onwettige vuurwapens wat tot 'n lewendige handel oor die grens ontwikkel het.

Die logiese optrede was om die vloei van hierdie wapens by die beginpunt kort te knip ten einde beheer oor die situasie te bewerkstellig. Daarvoor moes staatgemaak word op die welwillendheid van die plaas-like gemeenskappe om inligting oor opslagplekke te voorsien.

Die eerste gesamentlike optrede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Spesiale Taakmag en sy eweknie in Mosambiek het in 1995 plaasgevind. Dit is "Operasie Rachel" genoem en in die beginjare was uiters swak paaie, duisende landmyne en 'n gebrek aan infrastruktuur van die grootste struikelblokke. Vir die eerste vyf jaar is die werk met spesiale beskerming en mynbestande voertuie gedoen. Sedert mynvelde skoongemaak en die paaie verbeter is, het General Motors Suid-Afrika (GMSA) elke jaar 'n vloot Isuzu 4x4-bakkies beskikbaar gestel om die wapens bymekaar te maak en na 'n vernietigingsterrein te vervoer. Die afgelope drie jaar word dieselfde terrein naby Bilene in die Gaza-provinsie gebruik. Waar wapens, ammunisie, landmyne en plofstof egter té onstabiel is om vervoer te word, word dit daar en dan in die opslagplek met plofstof vernietig.

Volgens kommissaris Lorenco Katanduca van Mosambiek se polisiediens, speel Operasie Rachel 'n geweldige groot rol in die herstel en opbou van dié land na die? verwoestende burgeroorlog wat 16 jaar geduur het. Dit lewer 'n reuse-bydrae tot stabiliteit in Suider-Afrika in die algemeen en ook tot die veiligheid en vooruitgang in Mosambiek. Die samewerking van die plaaslike gemeenskappe strek tot hul eie voordeel, want deur die verwydering van wapens uit die opslagplekke en die vernietiging daarvan raak die grond weer beskikbaar vir ander volhoubare gebruike.

Assistent-kommissaris Mike Fryer, hoof van spesiale operasies by die SAPD se operasionele reaksiedienste, sê Operasie Rachel het sedert 1995 van krag tot krag? gegaan. Die welslae van Operasie Rachel is te danke aan internasionale skenkings, borgskappe van die private sektor en die goeie samewerking tussen die verskillende afdelings van die SAPD en hul eweknieë in Mosambiek.

Die grootste ondersteuning kom deesdae van die regerings van Brittanje en België asook van nie-regeringsorganisasies, soos Safer South Africa. GMSA het die afgelope klompie jare 'n reuse-bydrae gelewer deur 4x4-Isuzu-bakkies beskikbaar te stel. Vanjaar is hierdie bakkies egter vir die eerste keer deur die polisie gekoop omdat dit later in soortgelyke oorgrensoperasies in ander Suider-Afrikalande gebruik gaan word.

Elke vuurwapen wat in Mosambiek vernietig word, het die potensiaal om vir misdaad in Suid-Afrika gebruik te word. "Indien die vernietiging van hierdie vuurwapens slegs een mens se lewe spaar, is dit die moeite werd," sê Fryer.

Maar dit is eers wanneer 'n mens na die statistiek van vernietigde vuurwapens, ammunisie en ploftoestelle kyk dat die koue werklikheid tot jou deurdring: Dink net aan die misdaad, moord en doodslag wat met 2 390 handwapens, 5 516 sub-masjiengewere, 32 378 gewere en 2 327 masjiengewere, 34 727 magasyne en meer as 24 miljoen patrone in die verkeerde hande gepleeg kon word. Daarby moet 'n mens nog die tienduisende mortierbomme, vuurpyle en vuurpylrigters, landmyne en ploftoestelle asook plofstof tel.

Dit is die statistiek van wapentuig wat tot einde 2005 in Mosambiek vernietig is. Tydens die jongste operasie is onder meer 'n verdere 3 004 vuurwapens (handwapens ingesluit), 75 000 magasyne en 300 000 patrone naby Bilene met plofstof die lug in geblaas. Onder hierdie 3 004 vuurwapens was 1 180 AK47?s wat beslis nie meer vir transitorooftogte en plaasaanvalle bruikbaar is nie.

Intussen het die SAPD begin om 'n spesiale Suider-Afrikaanse taakmageenheid op te lei wat bestaan uit polisielede van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeen-skap (SAOG), met die doel om oorgrensoperasies uit te voer, soos die vernietiging van wapenopslagplekke. Die eerste groep van 25 polisielede is reeds in 2005 in Limpopo opgelei en Operasie Rachel word gebruik as 'n praktiese deel van dié opleiding. Die tweede groep Suider-Afrikaanse polisielede word tans opgelei.

In 1995, met die begin van Operasie Rachel, was die paaie nie toeganklik vir konvensionele voertuie nie en daar was weinig sprake van enige vorm van infrastruktuur. Daarby was die operasie onbekend vir die plaaslike gemeenskappe en hulle het die polisie se motiewe bevraagteken. "In 1995 het ek met oorfone op my kop binne-in 'n Kaspir-mynbestande voertuig in die dorpie Manhica na die Wêreldbeker-rugbywed-stryd geluister.

"Vandag kan jy soort van met 'n gewone kar tot reg in die noorde van Mosambiek ry sonder enige vrese, daar is selfs nie meer landmyne naby die hoofpad nie, " vertel kaptein Wattie Watson, een van die Operasie Rachel-veterane wat aan die SAPD se spesiale taakmag verbonde is.

Dit is waarskynlik onmoontlik om die presiese invloed van Operasie Rachel op misdaad in Suid-Afrika te bepaal.

As egter gekyk word na die getalle vuurwapens wat sedert 1995 vernietig is, is dit eenvoudig skrikwekkend om te dink wat die plaaslike misdaad-scenario kon wees sonder Operasie Rachel.