Landbou
Daadwerklike optrede nodig
NICO VAN BURICK (nvburick@landbou.com)

In Maart 2001 het pres. Thabo Mbeki opdrag gegee dat 'n strategiese plan vir die landbou opgestel moet word en in November dieselfde jaar is dit met groot gejuig aangekondig. Sedertdien is dit die een groot samebindende faktor binne die landbou. Maar het dit enigsins gevorder?

Daar was vordering op alle terreine van die landbouplan, maar die hele plan sal 'n klug wees as daar nie toegesien word dat bestaande kommersiële boere eers suksesvol is voor nuwe boere gevestig word nie.

Dit was die kern van Agri SA se boodskap vir die nuwe jaar en siening oor vordering met die plan wat in 2001 in opdrag van pres. Thabo Mbeki deur die nasionale Departement van Landbou, Agri SA en Nafu saamgestel is.

Mnr. Japie Grobler, voorsitter van Agri SA, het gesê een van die bene waarop die landbouplan staan, is die uitdaging van Mbeki om nuwe boere volhoubaar te vestig. "Om dit te kan doen, moet bestaande boere se situasie eers omgedraai word sodat hulle suksesvol kan boer."

"Die afname in die aantal bestaande kommersiële boere moet gekeer word, die staat moet sy kant bring sodat dié boere op 'n meer gelyke speelveld kan meeding en hulle moet gehelp word om winsgewend te boer. Eers dan is dit moontlik om nuwe boere te vestig."

Hy sê Suid-Afrikaanse boere is die beste in die wêreld. “As hulle dit nie kan maak nie, sal geen ontwikkelende boer dit kan maak nie."

Grobler sê by die onlangse presidensiële werkgroepvergadering het die Regering sy mislukkings met die grondhervorming en boervestiging erken. Daadwerklike optrede is nou nodig om die situasie te verander. “Die landbouplan se voortbestaan hang nou daarvan af".

Hy sê nog 'n been waarop die plan staan is volhoubare ontwikkeling. "Daar moet verseker word dat nuwe boere volhoubaar gevestig word, anders roof ons van ons kinders."

Om dit reg te kry is daar 'n derde belangrike been en dit is investering in die landbou. Daar moet belê word in landbounavorsing, nuwe tegnologie, opleiding, voorligtingsdienste en geldelike hulp — anders gaan die nuwe boere geen kans op sukses hê nie.

Grobler sê hy het die president gevra om vanjaar Agri SA se kongres by te woon en self aan boere te sê wat bereik is en wat in die volgende fases bereik moet word.

"Die president moet self kom sê wat die risiko's is en hoe dit aangepak moet word. Hy moet sê wat daadwerklik gedoen gaan word om die agteruitgang in landelike gebiede te keer, hoe misdaad daadwerklik bekamp gaan word en hoe die begroting daarvoor gaan lyk. Ons wil hom ook vra om sy planne met grondhervorming op die tafel te sit. Hy moet duidelik uitspel waar die 30 % landbougrond vir boerevestiging vandaan moet kom, watter grond in die gedrang is en ook wanneer en hoeveel geld daarvoor beskikbaar gestel gaan word."

Grobler het nog geensins moed verloor met die plan nie. "Ons moet onsself afvra waar ons sou gestaan het as dit nie daar was nie, as Agri SA nie met die Regering hieroor gesprek gevoer het en 'n belangrike bydrae tot die plan gelewer het nie".

"Ten minste is ons nog nie op 'n landbou-afgrond met belangrike kwessies soos plaasbesettings en misdaad nie. Ja, besettings kom voor en die misdaad is hoog, maar ten minste wil dit voorkom of iets, soos plaasmoorde, afneem. Ten minste is daar stelsels in plek en daar is redelike ordelike vordering. As ons nie met die Regering gesprek gevoer het nie, kon alles baie erger gewees het".

Hy sê die implementering van die plan is Agri SA se erns en hy het gevra boere moet opgewonde daaroor raak. Die kommersiële landbougemeenskap moet sy kant bring om dit te laat slaag, maar die staat moet ook voortdurend op sy verantwoordelikhede gewys word.

Mnr. Motsepe Matlala, nuwe president van die National African Farmers' Union (Nafu), sê met die strategiese plan het pres. Mbeki en die Minister van Landbou, me. Thoko Didiza, 'n stewige grondslag gelê waardeur die landbousektor van die verlede in 'n landbousektor van die toekoms omskep kan word.

"Dit is 'n fondament wat ondersteun moet word en, net soos die Grondwet, jaarliks hersien moet word om vir veranderende omstandighede voorsiening te maak," sê Matlala.

"Dit verbaas my dat dit soms lyk of vennote binne die sektorplan nie werklik waardering het vir die groot sukses wat reeds op landbougebied behaal is nie. Deur die sektorplan is een van die grootste potensiële konflikte, dié oor grond, onder meer geskik. Dit het die potensiaal gehad om die Palestynse en Israelse konflik na 'n vulletjie te laat lyk. Iemand wat dus met die strategiese plan wil rondspeel, speel met vuur."

Matlala sê daarom is Nafu gekant teen kommoditeitsgroepe wat soms met nadelige uitsprake na vore kom. “Kritiek doen skade aan die sektorplan en selfs al is daar geldige kritiek, behoort die vennote hul struwelinge binnenshuis uit te sorteer en só vertroue in mekaar te bou."

Nafu beoog om in die nuwe jaar al die implementeringstrategieë en uitdagings binne die plan in oënskou te neem.

By die presidensiële werkgroepvergadering in November is daar amptelik aan Mbeki verslag gedoen oor die vordering met sekere belangrike kwessies binne die plan.

Opgesom was dit as volg:
Die onafhanklike ondersoek na plaasmoorde is in September afgehandel en misdaad is as die belangrikste oorsaak van plaasaanvalle uitgesonder. Daar is aanbeveel dat die stelsel om reg en orde in landelike gebiede af te dwing, versterk moet word en dit geniet aandag.

Van die funksionele werkgroepe wat reeds bestaan, is een oor grondhervorming, navorsing, inligtingsvloei en bestuur, voedselsekuriteit en landelike veiligheid. Daar word ook beoog om 'n werkgroep oor mededingendheid te stig om na swart bemagtiging, risiko-bestuur, handel en kwessies oor sake-ontwikkeling om te sien.

Sowat 450 000 ha landbougrond is reeds aan swart boere beskikbaar gestel. Weens probleme met die oordrag van grond en 'n gebrek aan geld vir ondersteuningsdienste word daar in die meeste gevalle nog niks geproduseer nie. Die Departement van Landbou het 'n kabinetsmemorandum oor 'n omvattende ondersteuningsprogram (CASP) saamgestel wat binnekort deur die kabinet bespreek sal word. Dit is bedoel om as basis vir ondersteuningsprogramme vir grondhervorming te dien.

Die Departement van Grondsake werk ook aan strategieë vir die verkryging van bykomende grond.

'n Konsepstrategie vir biotegnologie word nog bespreek en sal later voor die kabinet dien. 'n Parlementêre debat oor geneties gemodifiseerde (GM) organismes moet ook nog plaasvind, maar intussen gaan werk in dié verband voort.

Die departement is besig met die ontwikkeling van 'n geïntegreerde markinligting-stelsel wat daarop gemik is om boere, veral nuwe boere, van inligting te voorsien om hulle te help met produksie en bemarking. Die stelsel, wat in die Oos-Kaap getoets sal word, sal bestaande inligting saamvat sodat dit maklik verstaanbaar en toeganklik is.

Wetgewing oor risiko-versekering in die landbou kon nog nie voor die parlement dien nie en sal vroeg in die nuwe jaar verder gevoer word. 'n Bedrag van R250 miljoen is beskikbaar gestel vir ramptoestande in die land. Die mislukking van die Wêreldhandelsorganisasie se onderhandelings in Cancun het twyfel laat ontstaan of die huidige ronde samesprekings oor handelsbevryding voor einde 2004 afgehandel sal word. Die Regering sal bly druk toepas om die ontwikkelingsdoelwitte deur te voer.

Intussen het die Voedselprysmoniteringskomitee gesê daar is stabiliteit in die voedselpryse, maar dat die uitvoerbedryf skade ly weens die wisselkoers.

'n Besprekingsdokument oor swart bemagtiging in die landbou is voltooi en sal deur rolspelers en kommoditeitsgroepe bespreek word. Die departement van landbou en sy vennote is voorstanders van 'n kommoditeitsbenadering vir die bemagtiging binne die landbousektor.

Werkgroepe van die landbouplan moet op nasionale en provinsiale vlakke oor kwessies rakend die plan kommunikeer. Die belangrikheid om kommunikasiekanale oop te hou, is beklemtoon sodat spanning vermy kan word wanneer kwellings in die media bespreek word voordat dit tussen die vennote aangespreek word. Die vennootskap tussen die Regering en georganiseerde landbou moet nog versterk word.

Kwessies waaroor geen vordering gerapporteer is nie, is die visie oor arbeid en grond, beleggings en die verlaging van produksiekoste.

9 Januarie 2004