Om vrae te beantwoord oor Suid-Afrika en die onmiddellike toekoms vorentoe is nie meer maklik nie. Dit gebeur so dikwels dat mense ná ’n toespraak uit die gehoor kom en aan my vrae vra soos: “Die beeste het laas jaar nie te sleg gedoen nie. Dink jy dit is reg om ’n bietjie grond by te koop?”
Of die vraag kom uit die buiteland van familie wat die een of ander tyd wil terugkom: “Dink jy dit is veilig? Ons sien die veiligheidswagte maak nou moeilikheid. Is daar ’n toekoms vir ons kinders?” Dan kyk jy straat-op na die hoë tuinmure met die elektriese drade bo-op, die veiligheidswag op ’n stoel voor die hek en die advertensies van twee sekuriteitsmaatskappye voor elke huis – en dan begin jy wonder: Wie lieg vir wie hier? Kan ek nog vir daardie mense in die buiteland laat weet “dit gaan goed hier met ons”? Is my begrip van “goed” en hulle begrip van “goed” nog dieselfde?
Of nóg erger: Kyk na die vinnige e-posse uit die buiteland. Vriende het gesien hoe die veiligheidswagte in die strate af storm en slaan en breek so ver hulle gaan. Mense wat in motors vasgekeer was, sê dit was ’n angswekkende ervaring. Hulle het vir hul lewe gevrees. Dan word gevra: “Ons het nog familie daar. Gaan ons nie een môre wakker word en sien dat ons mense se kele afgesny is nie?”
Hierdie is nie versinde vrae nie; dit is werklikheid. Hoe beantwoord ’n mens hierdie vrae van jou vriende en familie in die buiteland? En dan: Hoe beantwoord jy dit aan jouself? Is daar nog ... ’n toekoms?
Die toekoms is meer as emosie en verwagtings, dit is ook die harde, geprojekteerde werklikheid van nou. Daarom probeer ’n mens ook nie om finale antwoorde te verskaf nie. Dit is van groter belang om die huidige werklikhede te verstaan en te begryp. Eers dán word ’n greep op die toekoms weer moontlik.
Hoe verduidelik ’n mens aan iemand in die buiteland wat die dinamiek van dié samelewing van 2006 is? Daar is drie komponente wat in dié verband aandag verdien.
Die polities-ideologiese komponent. Suid-Afrika het sedert 1994 drie vrye en regverdige, demokratiese veelparty-verkiesings beleef. Die ANC-regering het met elke verkiesing daarin geslaag om sy meerderheid groter te maak. Dit is ’n wettige regering met ’n bykans tweederdemeerderheid in die parlement. Dit is die ANC-regering wat daarin geslaag het om apartheid – wat teen die einde van die NP-bewind bekend gestaan het as ’n misdaad teen die mensdom – van die tafel af te haal.
Die regeer-komponent. Die regeer-komponent moet nie met die polities-ideo-logiese komponent verwar word nie. By die polities-ideologiese komponent gaan dit om legitimiteit, statuur, stemkrag en die betrokke meerderheid in die parlement. By die regeer-komponent gaan dit egter oor die vermoëns om die meerderheid om te sit in beleid en uitvoering – om dinge vir die publiek te doen en dienste te lewer. Dít is waar die aanspraak op goeie regering vandaan kom en dit is wat ’n regering veronderstel is om te doen.
Die konteks van ’n regering se regeer-verantwoordelikheid word gewoonlik in die Grondwet saamgetrek – in die breë omskryf dit onder meer die staat se pligte. Indien ’n regering nie sy regeervermoë kan nakom nie, verloor die Grondwet uiteindelik sy waarde en word dit ’n blote stuk papier wat goeie voornemens weerspieël.
By die regeer-komponent gaan dit dus oor die vraag of ’n staat sy politieke mag (by die stembus verwerf) kan projekteer in die samelewing sodat dit die lewe van die bevolking raak (reg en orde, gesondheidsdienste, onderwys, ens.)
Dit is by die regeer-komponent waar die ANC-regering deur ernstige probleme in die gesig gestaar word. Sy legitimiteit is bo verdenking, maar sy regeervermoë is stelselmatig besig om te verswak. Die president het self by verskeie geleenthede laat blyk dat die land met ’n ernstige probleem ten opsigte van kundigheid te doene het. Nuwe mense is ná 1994 aangestel, nuwe beleid is ontwikkel, maar die implementering en uitvoering daarvan wil nie op dreef kom nie.
Die kundigheidsprobleem wat die land tans ervaar, is selfgemaak: Met die snelle proses van transformasie sedert 1994 – om die erfenis van apartheid uit te wis – is ontslae geraak van mense met ’n hoë vlak van kundigheid in die staatsdiens. Nou word dié rekening betaal en dit word betwyfel of die proses in die volgende dekade omgeswaai gaan word. Die verwagtings is dat dinge nog baie kan versleg.
Met dié beskikbare inligting sou ’n mens tentatief kon sê dat die demokrasie in sy huidige vorm in Suid-Afrika ná 2010 moeilik sal oorleef. Ook die politieke party-stelsel moet hom miskien klaar maak vir verandering. Dit gaan nie hier om verandering van opposisie nie, maar om ’n ingryping in die doeltreffende funksionering van die bestaande stelsel.
Die demografiese vervorming van die samelewing. Vir die afgelope vyf jaar het daar inligting uit die samelewing gekom wat daarop dui dat hier ’n ernstige demografiese vervorming ontwikkel het.
Daar is die reeds bekende feite oor die samelewing, naamlik dat tot bykans 50 % van die bevolking diegene is wat baie arm, ongeletterd en werkloos is. Indien hierdie feite vertolk word as vermoëns, beteken dit ’n samelewing waarvan die helfte van sy bevolking nie ’n mededingende vermoë het nie. Hulle is afhanklik van die staat.
Wat sedert 2000 al hoe meer na vore gekom het, is dat die verkeerde mense in die samelewing weens die impak van MIV/vigs begin sterf het. Suid-Afrika het in 1990 nog ’n gemiddelde lewensverwagting van 61,8 jaar onder sy bevolking gehad. Dit het begin daal en ’n gemiddelde lewensverwagting van 37 jaar word vir 2010 voorsien.
Die mense wat doodgaan, is ouers, onderwysers, soldate, polisiemanne en mediese personeel. MIV/vigs is in wese besig om die regeervermoë van die staat, wat reeds onder druk is weens ’n gebrek aan kundigheid, verder uit te kalwe, met die moontlikheid om dit in bepaalde sektore tot stilstand te bring. In dié verband is daar meer as een staatsdepartement wat reeds op sy knieë is en die meeste van hierdie departemente is regstreeks by die landbou betrokke. MIV/vigs bedreig die landbou se markte en produktiwiteit, maar veral sy mededingende vermoë. Daar is nie werklik begrip vir die feit dat die land deur ’n pandemie in die gesig gestaar word nie.
Suid-Afrika se probleem teen 2006 bestaan uit ’n wettige regering wat ’n ernstige probleem met sy regeervermoë het en wat waarskynlik vorentoe nóg gaan verswak – en dít binne die konteks van ’n samelewing waar die bevolking-samestelling besig is om te verander. Dit is ’n ontstellende kombinasie van faktore wat alleen eie is aan Suid-Afrika. Wat hier skeefgeloop het, kan nie by die stembus reggemaak word nie. Wat hier gebeur, is ’n ineenstorting van menslike kapitaal. Daarom is die kernvraag nie wie die volgende verkiesing gaan wen nie, maar hóé menslike kapitaal (kundigheid) bewaar en geskep kan word teen 2010. Daarby gaan Suid-Afrika as beskaafde land staan of val.
Herposisionering nodig. Die kom-mersiële landbou sal ’n nuwe denkraamwerk moet aanvaar indien die bedryf homself geslaagd wil herposisioneer vir 2010. Die bedryf het te doen met ’n regering met ’n uiters wettige statuur, maar met kommerwekkende, kwynende regeervermoëns.
Die ondersteuning en beskerming wat die kommersiële landbou vra en verwag, gaan dus nie sonder meer na vore kom nie. Dit is ’n bedryf wat toenemend alleen kan staan in die wêreld en wat sal moet leer om vir homself te sorg.
Die kommersiële landbou sal moet aanvaar dat ’n sluimerende MIV/vigs-besmetting in die subkontinent nou besig is om oor te skakel na ’n vernietigende vigs-pandemie. Dit gaan funksionele strukture wat die landbou benodig, soos veiligheid en sekuriteit, vervoer en produksie, regstreeks in die gedrang bring.
Die vigs-probleem raak nie net die trekkerdrywer nie, dit het ook ’n vernietigende impak op die mensekapitaal binne die bedryf. Meer nog, dit benadeel nie net die funksionele vermoë van die bedryf nie, dit raak ook die ondersteuningsvermoë van die Regering aan die landboubedryf. MIV/vigs het ook ’n ongunstige impak op die mensekapitaal binne die staatsdiens.
Hierdie is harde werklikhede wat die kommersiële landbou se omgewing betref.
Daarby kom daar egter nóg ’n faktor by wat óf as verswarend óf as reddend beskou kan word, na gelang van hoe ’n mens die saak wil sien en bestuur.
Binne hierdie ongunstige omgewing van verswakkende regeervermoëns en ’n dreigende pandemie, het die kommersiële landbou te doen met ’n eksterne omgewing waar gehalte en tegnologiese vermoëns ’n al hoe groter rol begin speel. Om met die Europese Unie (EU) sake te doen, vereis ’n bepaalde gehalte van ’n produk, wat deur die unie bepaal word. Dié gehalte kan net bereik word as aan bepaalde tegnologiese vereistes voldoen word. Dit beteken dat die kommersiële landbou sy handel op internasionale vlak slegs gaan handhaaf en uitbrei indien die bedryf se kundigheidsvlakke behou en versterk kan word.
Die kommersiële landbou sal dus aan homself die vraag moet stel of hy die vermoë het – en hóé dit gedoen gaan word – om sy kundigheidsvlakke op wêreld-vlak te bring. Dit moet veral gevra word binne ’n omgewing waarbinne die Regering – anders as ander lande – nie die nodige steun kan bied ten opsigte van navorsing en ontwikkeling nie.
Daar sal ’n aanvaarding moet wees dat die Regering en die kommersiële landbou nie altyd dieselfde pad vorentoe gaan loop nie. Swart bemagtiging is vir die Regering van politieke belang, terwyl die bedryfsbelang vir die kommersiële landbou kundigheid is. Indien die bedryfsbelang misluk, gaan die politieke belang baie moeilik van die grond af kom.
Die bedryfsbelang van die landbou gaan vanuit die EU bepaal word en dít kan die aard van die plaaslike bedryf verander. Toenemend hoër vlakke van tegnologiese aanwending vereis meer gesofistikeerde toerusting – wat deurlopend verander en opgegradeer word. Die bekostigbaarheid van tegnologie uit die buiteland gaan ’n groot rol speel in die oorlewing van landbou-eenhede. Hierdie neiging word ook in ander sektore, soos die mediese bedryf, gesien.
Dit kan lei tot minder kommersiële boere in die bedryf, aangesien ingevoerde tegnologie – wat nou aansluit by produktiwiteit en gehalte – nie meer bekostigbaar gaan wees vir die individuele kleiner boer nie. Dit kan lei tot groter boerdery-eenhede wat tegnologie meer bekostigbaar kan maak.
Die impak en koste van tegnologie op bedrywe in Suid-Afrika is een van die gebiede waaroor daar nuut gedink moet word. Indien die land nie meer toegang tot hoëvlak-tegnologie kan hê nie, gaan dit ’n regstreekse impak hê op die landboubedryf – en die land – se mededingende vermoë. In die praktyk beteken dit ’n verlies van markte.
Het dit nie miskien tyd geword dat die bedryfsbelang van die kommersiële landbou baie duideliker en sterker oorgedra word nie? Die land het steeds die vermoë, maar dit is nie ’n vermoë wat noodwendig oor vyf jaar nog aanwesig gaan wees nie. Tegnologiese ontwikkeling volg sy eie, interne dinamiek en wag vir geen land of bedryf nie. Dit word nou ’n saak van bedryfsprioriteite.
Dr. Jan du Plessis is ’n politieke analis verbonde aan die onderneming Intersearch.