Danksy die kommersiële vervaardiging van puree en olie uit avokado's verdien avokadoprodusente nou goeie geld met uitskotvrugte wat vroeër eintlik 'n probleem was en dikwels weggegooi moes word.
Geen avokadoboer hoef meer sy uitskotvrugte weg te gooi nie, want dit kan deur fabrieke tot goeie uitvoerprodukte verwerk word. Dit beteken meer geld in die boer se sak en 'n gawe valutaverdienste vir Suid-Afrika.
Mnr. Alan Snyman, hoofbestuurder van die afdeling vir waardetoegevoegde produkte by Hans Merensky Holdings op Tzaneen, sê die afsonderlike tegnologie vir die vervaardiging van puree en vir die onttrekking van olie is oor 'n hele paar jaar ontwikkel tot op 'n vlak waar dit nou op kommersiële skaal in Suid-Afrika toegepas word. Dié maatskappy se pureefabriek is tans een van net twee, terwyl die olie-onttrekkingsaanleg een van vier in Suid-Afrika is. In drie van laasgenoemde aanlegte word olie vir die kosmetiese bedryf vervaardig terwyl olie vir die farmaseutiese bedryf in die vierde aanleg onttrek word.
'n Klein loodsprojek vir die maak van puree is in 1990 van stapel gestuur en die eerste beperkte hoeveelhede puree is in 1997 na Duitsland uitgevoer. Net die volgende jaar (1998) is die Amerikaanse mark vir Suid-Afrikaanse avokadopuree getoets.
Hierdie aanvanklik beperkte hoeveelhede puree het stelselmatig toegeneem tot die huidige sowat 1 600 ton wat nou per jaar uit sowat 3 500 ton vrugte vervaardig word. Hiervan word 'n redelike hoeveelheid plaaslik bemark, maar die meeste word uitgevoer na bestemmings in Amerika, Engeland en in Europa.
Mnr. Snyman sê net vrugte van die kultivar Hass word vir puree gebruik, veral omdat die vrugvleis van die groenskil-soort neig om gouer bruin te word. Net vrugte tot nommer 36 word gebruik omdat die vrugvleis van die kleiner vrugte te min is om die verwerking daarvan te regverdig. Die verwerking van die vrugte tot puree geskied in besonder skoon toestande en die fabriek voldoen aan die internasionale vereistes vir voedselveiligheid.
Die eerste Hass-avokado's van die seisoen vir verwerking tot puree kom van pakhuise in Levubu, dán van die Letaba-gebied (albei in Limpopo), daarna van die Hazyview-gebied in Mpumalanga, terwyl die laatseisoenvrugte uit KwaZulu-Natal kom.
Alle vrugte wat by die fabriek aankom, word deur 'n sanitasiebad gestuur. Hierna volg 'n sorteringsproses vir rypheid en om vrugte met merke wat op interne swak plekke dui uit te haal. Die onryp vrugte word vir rypwording opgeberg terwyl die ryp vrugte op die sorteerband wéér deur 'n sanitasieproses tot binne-in die verwerkingsvertrek vervoer word.
Hierdie verwerkingseenheid is 'n hoë-higiënegebied waar die vrugte oopgesny, die pitte verwyder en die vrugvleis of pulp uitgeskep en in emmers gegooi word. Hierdie deel van die pureevervaardigingsproses is arbeidsintensief omdat alles met die hand gedoen word.
Die pulp word in 'n menger gegooi waarin drie verskillende resepte gemeng word na gelang van die middels en speserye wat bygevoeg word. Die finale produk word in houers verpak volgens die klant se behoefte en dit kan wissel in groottes van 227 gram, 454 gram, 1 kg, 2,7 kg en 3 kg. àl die pureeprodukte word biologies getoets, vakuumverpak en teen -18 °C opgeberg.
Mnr. Snyman sê olie kan onttrek word uit alle avokado's, ook dié Hass-vrugte wat te klein is vir verwerking tot puree asook alle ander vrugte wat ongeskik is vir die plaaslike mark. Die vroeë vrugte lewer gewoonlik 'n lae olie-inhoud van 5 % tot 6 %, terwyl die laat vrugte 14 % het. Die gemiddelde verwagte olieherwinning oor die seisoen is sowat 10 %. Slegs ryp vrugte word vir olie-onttrekking gebruik.
Die olie-onttrekkingsproses begin waar die vrugte in 'n hamermeul fyn gekap en verpulp word. Daarna word dit verhit en etlike ure geroer voordat water bygevoeg word. 'n Sentrifugale proses (draai-aksie) skei dan die ru-olie eers van die vaste stowwe en daarna van die vloeibare afvalstowwe.
In die raffinadery is opbergplek vir sowat 500 000 liter avokado-olie. Die ru-olie word in tenks van 10 000 liter opgeberg vir ten minste ses weke sodat die verskillende soorte waks kan afsak namate die ru-olie afkoel. Van hierdie waksafsetsels word in seep vervaardig 'n ander fabriek. Die skoon ru-olie, wat in hierdie stadium donkergroen is, word uit die opbergtenks na die raffinadery gebring.
Die raffineringsproses beteken basies dat die ru-olie geneutraliseer word deur die gomme en die vry vetsure daaruit te verwyder. Wassoda word vir die neutraliseringsproses gebruik. Hierna word die olie gewas en gebleik. Alle kleurstowwe moet verwyder word uit dié olie wat vir die kosmetiese bedryf bestem is.
Hierna word die olie afgekoel en gefiltreer sodat nog van die waks afgeskei en verwyder kan word. Hoe laer die olie se temperatuur daal, hoe makliker is dit om van meer van die ongewenste waks ontslae te raak. Die olie word nou wéér 'n slag gefiltreer voordat die reuk en smaak daaruit verwyder en die peroksiede verminder word.
Hierdie geraffineerde olie word in konkas van 210 liter gegooi en stikstof word as preserveermiddel gebruik. Die olie wat vir die voedselmark bestem is, behou sy natuurlike groen kleur.
Waardetoevoeging deur die vervaardiging van olie en puree uit avokado's moet deur produsente en pakhuise as 'n langtermynprojek beskou word. Daarom moet die oorsese kliënte kan staatmaak op Suid-Afrika se volgehoue lewering ongeag die huidige ongunstige wisselkoers, anders kan hierdie belangrike markte dalk sneuwel.
Avokadoprodusente en pakhuise het deur hierdie vorm van waardetoevoeging die gerusstelling dat daar 'n afset is vir hulle fabrieksgraad-vrugte. Die verwerkingsmaatskappy betaal die vervoerkoste en voorsien die houers waarin die vrugte vervoer word. Dit beteken dat die pakhuise 'n hekprys betaal word vir vrugte wat ongeskik is vir uitvoer en vir lewering aan die plaaslike mark.
Uiteraard beteken dit ook dat hoe meer vrugte verwerk word, hoe minder vrugte word op die plaaslike mark aangebied en teen hoër pryse verhandel, sê mnr. Snyman.
Net drie in die wêreld
Die algemene aanbeveling is dat avokado-olie by temperature hoër as 16 °C gebêre moet word om die vorming van 'n waksafsaksel te voorkom. Die wêreldmark het avokado-olie gesoek wat 0 °C kan weerstaan vir 'n tydperk van 24 uur sonder om weens 'n waksafsaksel melkerig te raak. Die raffinadery by Witrivier was die eerste in die wêreld wat aan dié vereiste kon voldoen.
Die uitvoer van geraffineerde avokado-olie het van 'n beskeie sowat 100 ton in 1994 gegroei tot die 800 ton wat deesdae per jaar uitgevoer word. In sy huidige vorm kan die raffinadery tot 1 100 ton olie per jaar verwerk, sê mnr. Clarence Keefer, produksiebestuurder van die onderneming Burpak Da Gama Avokado-olie naby Witrivier.
Mnre. Keefer en Alan Snyman, hoofbestuurder van die afdeling vir waardetoegevoegde produkte by die onderneming Hans Merensky Holdings op Tzaneen, is dit eens dat die talle goeie eienskappe van avokado-olie geen duit hoef terug te staan vir dié van olyfolie nie. Avokado-olie het geen cholesterol nie, dit is ryk aan vitamien E, dit het 'n meer neutrale reuk en smaak, terwyl die rookpunt van avokado-olie 271 °C is teenoor olyfolie se rookpunt van 160 °C en die 107 °C waarteen sonneblomolie begin rook.
Hierdie aanleg vervaardig slegs ru-olie en verlede jaar is 415 ton ru-olie uit sowat 4 150 ton vrugte onttrek. Vir die eerste keer is onlangs ook ru-olie onttrek uit avokado's wat organies verbou is. Die ru-olie word gelewer aan 'n raffinadery naby Witrivier waar dit verder verwerk en versprei word, sê mnr. Snyman.
Mnr. Keefer sê dié raffinadery is die enigste in sy soort in Suider-Afrika en een van slegs drie ter wêreld. Dit is deur Israeliese kenners ontwerp en opgerig. Die ander twee raffinaderye wat avokado-olie verwerk, is onderskeidelik in Holland en in Mexiko.
Aanvanklik is avokado's uit die Tzaneen-gebied per pad na hierdie raffinadery naby Witrivier vervoer totdat die olie-onttrekkingsaanleg deur Hans Merensky Holdings opgerig is. Ingevolge 'n ooreenkoms tussen die twee partye lewer laasgenoemde nou ru-olie aan die raffinadery naby Witrivier in die plek van die vrugte wat vroeër teen groter koste per pad daarheen vervoer is.
10 Oktober 2003