Hoewel die sterk rand produsente se wins vernietig, is die wêreldvraag na ingemaakte vrugte op kort termyn goed weens swak vrugte-oeste in Europa.
Gekontrakteerde pryse wat in die buiteland vir inmaakvrugte betaal word, kan met 5 % tot 18 % styg. Weens die swak oeste in sommige lande in die Noordelike Halfrond is nóg stygings nie uitgesluit nie. Die slegte nuus is egter dat Suid-Afrikaanse boere se wins reeds met tot 35 % gekrimp het weens die versterkende rand en steeds drasties krimp.
Só het mnr. Wiehahn Victor, hoofbestuurder van die Inmaakvrugte-produsentevereniging, op dié vereniging se ledevergadering op Worcester gesê. Op lang termyn bly die wêreldvraag na ingemaakte vrugte egter redelik staties.
Hy sê die wêreldvraag na en aanbod van appelkose is in die (huidige) seisoen 2003/04 redelik in balans en die vraag na Suid-Afrikaanse appelkose is goed. Die vraag na perskes is in die buiteland ook goed, want die markte is redelik leeg. 'n Goeie vraag na pere word ondervind, maar boere moet nie ooroptimisties wees nie.
Verbruikers in die lande van die Noordelike Halfrond is bereid om taamlik duur vir skaars vrugte te betaal. Die uitsondering is Amerika, wat deur sy eie boere voorsien word.
Die Amerikaanse appelkoos- en peer-oes was vanjaar normaal, maar 7 % minder perskes is gepluk as wat verwag is. Spanje, Suid-Afrika se grootste mededinger met appelkose, se oes was ietwat kleiner as dié van die vorige seisoen. Hul perske-oes was 5 % tot 10 % groter as gewoonlik. Die peer-oes was sowat 5 % groter. In die laaste vyf jaar het die Spaanse peer-oes gegroei van sowat 10 000 ton tot 45 000 ton vanjaar.
Italië het min appelkose gelewer en koue het die peer- en perske-opbrengs erg geknou. Die swak peer-oes beïnvloed ook hul vrugtekelk-inmakery nadelig. Victor sê die inmaakvrugtebedryf in Italië is in die algemeen aan die kwyn, en verwerkers in dié land oorweeg dit om Suid-Afrikaanse inmaakvrugte te koop en daar te verwerk.
Griekeland, 'n belangrike produsent in die Europese inmaakvrugtebedryf, het dié seisoen 'n totale misoes van perskes gehad en het maar sowat 20 % van die gewone hoeveelheid geoes. Gevolglik het net ses van 13 inmaakfabrieke in Griekeland vrugte ingemaak, en die Grieke het tot 40 % meer betaal om genoeg perskes aan te koop vir inmaakdoeleindes.
Wat hul appelkose betref, was die oes redelik normaal, en hul peer-oes is normaalweg só klein dat dit net in hul varsmarkbehoeftes voorsien.
China speel 'n ál belangriker rol in Europa en vul nou die leemte wat deur die Griekse misoes gelaat is, sê Victor. Die gehalte van vrugte uit China is ook deesdae baie beter as vantevore en hul volumes op die internasionale markte neem dramaties toe. Daar is egter min syfers oor die produksie beskikbaar.
In die Suidelike Halfrond verwag Argentinië gewone oeste. Chili se appelkoos- en peer-oes is nie beduidend nie, maar heelwat perskes word gelewer.
Victor sê die ekonomiese toestande in die Europese Unie-lande is stram, veral in Duitsland, Frankryk en die Skandinawiese lande, maar in Brittanje gaan dit beter.
Die EU-lande het dié seisoen duur vir hul vrugte betaal. Dit beteken dat plaaslike produsente die hoër pryse kan benut.
China lewer in die gaping wat die Griekse misoes gelaat het en kom in die mark met laer pryse. Hulle kry dit reg deurdat daar geen arbeidswette in China is wat produksiepryse opjaag nie, maar inmakers kla ietwat oor die gehalte van sommige van hul vrugte.
Victor sê die beter pryse wat vir uitvoerprodukte gekry word, word egter feitlik vernietig deur die sterk rand. As die wissel-koers nie vinnig en drasties verander nie, gaan die hoër pryse vir inmaakvrugte uitvoerders nie help nie en kan boere op groot skaal ondergaan, met gepaardgaande werkverliese.
Die oesskattings vir die seisoen van 2003/04 is soos volg (die opbrengs van die vorige seisoen is tussen hakies):
16 Januarie 2004