Die deurlopende lewering van kersies van uitstekende gehalte, kultivars wat vroeër ryp is en waarmee 'n gaping in die wêreldmark gevul kan word, asook die vermoë om die vrugte optimaal te laat ryp word voordat dit gepluk word dít is van die voordele wat kersieverbouing onder haelnette bied.
Die gebruik van haelnette by die verbouing van kersies beperk skade deur voëls, hael, reën in oestyd, windskade en laat koue in blomtyd. Dit verminder ook sonbrand alles faktore waarmee kersieboere tradisioneel te kampe het. Dit is deel van die proses wat die bestuur van risiko's baie vergemaklik.
Só sê mnre. Maasdorp Maree, boordbestuurder, en Hans Meiring, konsultant van Chérie Cherry Estate (CCE), die grootste kommersiële kersie-aanplanting in Suid-Afrika. CCE is tussen Bethlehem en Reitz in die Oos-Vrystaat geleë. Dit is verder noord as die tradisionele kersie-produksiegebied van Ficksburg, Fouriesburg en Clocolan.
CCE het as 'n projek van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) ontstaan. Die NOK het 'n aandeel van 49 %, waarvan 19 % vir bemagtiging geoormerk is wanneer die projek winsgewend is. Die ander 51 % word deur Highland Cherry Investments, 'n maatskappy van twee Suid-Afrikaanse boere en die Helfer-groep, 'n Franse bemarker, besit.
Altesame 28,5 ha kersieboorde is reeds gevestig, waarvan 2 ha 'n kwekery vorm. Die mikpunt is om teen sowat 10 ha per jaar uit te brei, met 'n uiteindelike mikpunt van 40 ha.
Die kultivars wat CCE plant, is Bing (wat die grootste persentasie van die aanplanting vorm), Royal Dawn ('n nuwe Kaliforniese kultivar), Earlisweet, Minnie Royal, Royal Lee en Lapins. Die verskillende kultivars versprei die pluktyd en verseker dat daar deurlopend kersies is om aan die mark te voorsien.
Royal Dawn en Earlisweet is vroeër ryp en word reeds aan die einde van Oktober gepluk, teenoor Bing wat eers in die helfte van November gepluk word. Met dié twee kultivars word die vroeë gaping in die wêreldmark gevul.
Voordat haelnette ingespan is, het hael, reën en koue veroorsaak dat 'n gereelde oes nie verseker kon word nie. Met die nette, gekombineer met besproeiing, proewe met plastiekbedekking en toetse om laat koue te beheer, kan risiko's nou bestuur word. Hoewel die proses duurder is, verseker dit die deurlopende lewering van kersies van hoë gehalte.
Die gehalte van die kersies word behou deur hidro-verkoeling op die plaas so gou moontlik nadat die vrugte gepluk is. Nadat die kersies met water verkoel is, word die vrugte so vinnig moontlik na 'n koelkamer gebring wat spesiaal vir die verpakking van vrugte gebou is waar dit verpak word. Die hoë humiditeit van die koelkamer help om die vrugte ferm en vars te hou en hul raklewe te verleng.
Van die koelkamers af word dit met koeltrokke na die plaaslike mark en die lughawe vervoer. Plaaslik word die kersies deur Woolworths verkoop en die vrugte word ook na Engeland en Frankryk uitgevoer. Binne 48 uur nadat die kersies gepluk is, is hulle in dié lande te koop.
Voëls is gewoonlik een van die grootste probleme vir 'n kersieboer. Om voëlskade te beperk, word kersies wat nie onder net verbou word nie, soms te vroeg gepluk. Dit veroorsaak dat die vrugte nog klein is en nie 'n hoë suikergehalte het nie.
Omdat die nette die voëls weghou van die kersies af, kan die vrugte gepluk word wanneer hulle reg is. Dan is die vrugte se kleur reg, hulle het mooi geswel en die suikerinhoud is hoog.
Die kersiebome onder haelnette het almal dwerg-onderstamme, hoofsaaklik Gisela 5 en Gisela 6. Die bome word teen 'n hoë digtheid van 1 100 bome per hektaar geplant en na 'n sentrale leier opgelei. Die hoë digtheid is om die nette en die besproeiing optimaal te benut.
Die bome word opgelei deur die hoekie van die takke met wasgoedpen-netjies te manipuleer om die takke so plat moontlik te kry. Dit verbeter die boom se vorm, maak dit vrugbaarder en verseker maksimum ligindringing.
Meiring sê hulle pas intensiewe besproeiingsbestuur toe. Besproeiing vind plaas deur mikrosproeiers en skedulering word met behulp van 'n neutronvogmeter gedoen.
Bemesting word ook volgens 'n vasgestelde program gedoen. Voordat hulle die bome plant, word profielgate gegrawe, grondontledings gedoen en dan stel hulle mikro- en makro-elemente daarvolgens reg. Die verdere voedingsprogram word in die vorm van blaarvoeding en kunsmis wat met die hand gestrooi word, gedoen. Die voedingsprogram vind plaas op grond van blaarontledings, die verwagte oes en boomgroei.
Grondbewerking voor die plant van die bome is 'n diep bewerking met 'n skeurploeg en dolploeg in twee rigtings. Daarna word die raamwerk van pale en kabels vir die nette opgerig. Die nette wat gebruik word, is vir Suid-Afrikaanse toestande ontwikkel en verbeter, en sukses daarmee is al jare lank by die verbouing van vrugte in die Noordoos-Vrystaat bewys.
Die grond word dan opgeërd vir 'n groter volume grond en om die water van die stamme weg te kanaliseer na 'n dekgewas tussen die rye.
Die dekgewas word tussen die rye geplant vir die kanalisering van water, sodat voertuie daarop kan ry en vir geïntegreerde plaagbestuur. Natuurlike vyande van sommige van die plae op die kersies oorwinter in die groen dekgewas.
Buiten die natuurlike vyande vir plaagbestryding word die bome voortdurend gemonitor om by die natuurlike bestryding aan te sluit. Bestryding word op die grens van die verlies van die oes toegepas. CCE is betrokke by die registrasie om plae te bekamp. Toetse word met verskillende middels gedoen om registrasie vir gebruik op kersies te kry.
Mnr. Steve Terblanche, tegniese bestuurder van CCE, sê dié intensiewe tegniek stel hulle in staat om reeds van die vierde drag 'n kommersiële oes te kry, teenoor die ses tot agt jaar wat dit kos met bome met normale, sterk onderstamme. "Die ontwikkeling en sprong is net soveel vinniger as met die tradisionele metode en die risiko's is baie minder."
Deur nette van verskillende digtheid en kleur sommige is swart te gebruik, kan die klimaat gemanipuleer en bome met sukses teen verskillende hellings geplant word. Die mikroklimaat onder die nette is ideaal vir 'n goeie opbrengs en gehalte.
CCE het ook 'n eie kwekery om in sy eie groot behoefte aan plantmateriaal te voorsien. Dit het in die grootste kersiekwekery in die land ontwikkel en werk saam met ander kwekerye. Die kwekery doen in sy eie boorde evaluering van nuwe kultivars vir Suid-Afrika. Die kwekery het die eksklusiewe regte bekom om Italiaanse kultivars in Suid-Afrika te bemark wat barsbestand en selfbestuiwend is.
Die kwekery spesialiseer in kersies op dwergonderstamme wat goed onder hael-nette aangepas is. 'n Verskeidenheid virusvrye kersiekultivars en bestuiwers word uit enthout-bome gekweek wat jaarliks vir virusse getoets word. Bome word aan kwekers in die Oos-Vrystaat en Wes-Kaap voorsien.
Terblanche sê CCE is daarop ingestel om die bedryf te bevorder en speel 'n leidende rol in 'n studiegroep, wat uit die ses lede van die pakhuis bestaan, waar produksiepraktyke verfyn word.
Navorsing bly 'n baie belangrike deel van enige bedryf en daarin speel CCE ook 'n groot rol. Op die plaas doen hulle navorsing oor die manipulering en die snoei van bome, dormansie en rusbreking (die "wakker word" van die boom ná die winter). Hulle evalueer ook nuwe kultivars.
Persele word beskikbaar gestel vir proefblokke waar proewe vir die registrasie van spuitmiddels gedoen word. Hulle doen ook proewe ten opsigte van die doeltreffende beheer en bestryding van laat koue, verskillende kalsiummiddels om vruggehalte te verbeter en bars te beperk, en die sinchronisering van bestuiwing tussen verskillende kultivars.
Aangesien dit 'n baie intensiewe boerdery is, is dit arbeidsintensief. Baie moeite word gedoen om mense van die omgewing in die bedryf op te lei en sodoende hul lewenstandaard te verhoog.
Die pionier-kersieboere van CCE pluk ná vier jaar al die vrugte van die projek wat hulle aangepak het. Die kans wat hulle teen groot koste gewaag het, het gunstige resultate opgelewer in die vorm van die gehalte van die vrugte wat hulle aan die uitvoermark kan voorsien.!
4 Februarie 2005