'n Vrou se plek is in die kelder, of, proeglas in die hand, besig om die vreugde van haar wyn saam met andere te geniet, meen Suid-Afrika se eerste Vrouewynmaker van die Jaar.
"Slanghoek se wingerde en berge laat my asemhaal. Niks klop die opwinding van die eerste vrag druiwe van die seisoen nie. As ek die druiwe sien en hoe mooi groen die wingerde is, weet ek hoekom ek wyn maak en hoekom daar niks anders is wat ek wil doen nie."
Só aansteeklik is me. Ivy du Toit, Vroue-wynmaker van die Jaar vir 2004, se geesdrif dat 'n mens begin planne maak om druiwe êrens te bedel om 'n kan wyn of twee onder die woonstel se trap te maak!
Hoewel sy op 'n wingerdplaas in die Slanghoekvallei, buite Rawsonville, grootgeword het haar oupa was in 1950 die laaste mens wat op Jasonsfontein wyn gemaak het het sy nie langs die gewone Elsenburg- of Stellenbosch-weë in die kelder van Jason's Hill beland nie.
Du Toit het altyd gedroom om 'n wynmaker te word. Toe sy haar skoolopleiding met landbouwetenskap as vak aan die Hoërskool Gimnasium op Worcester voltooi het, wou sy darem eers kyk of dit regtig die beroep vir haar is.
Sy het by die nabygeleë Slanghoek-kelder gaan werk. Ná die Suid-Afrikaanse parstyd het sy in die Franse Champagne-streek en by die Columbia Winery in die Amerikaanse staat Washington gaan werk. Die praktiese ondervinding wat sy daar opgedoen het, was van onskatbare waarde. Die gogga het egter lankal gebyt en met haar tuiskoms was sy net meer vasbeslote om wyn te maak.
In 2001 is die eerste keer in 54 jaar weer op Jasonsfontein wyn gemaak. Met die hulp van almal op Jasonsfontein het Du Toit vier ton druiwe in haar ouers se garage gepars. Die kelder is in Oktober van daardie jaar gebou.
Die volgende jaar het hulle mnr. Sarel Rossouw, legendariese oud-wynmaker by Simonsvlei, genooi om te kom help. "Oom Sarel was 78 en ek was 22. Saam was ons 100, maar ons het 'n hond uit 'n bos gepars. Alles wat hy vertel het, het ek ingeneem. As die mense vra wie die wyn gemaak het, het ek gesê hy't al die kennis, maar ek kon net vinniger stap."
Sedertdien het die Du Toits in 'n poging om waarde tot hul wingerdboerdery toe te voeg elke jaar hul kelder uitgebrei. "In 2002 het ons vyf tenkies gehad en met die verloop van die oestyd darem nog vier bygekry. Verlede jaar, toe ons 600 ton druiwe gepars het, het ons gelukkig 'n nuwe pers gekry. Die oue moes ek skop om aan die gang te kry. Dit het só baie probleme gegee dat ek aan die einde van die dag soos 'n 'mekêniek' gelyk het van die olie en ghries!"
Die eer wat haar verlede Mei te beurt geval het om as Vrouewynmaker van die Jaar gekroon te word, het besonder baie vir haar en Jason's Hill beteken. "Meer mense weet nou van Jason's Hill. Ons het baie publisiteit en gunstige kommentaar gekry. Mense draai sommer af en kom maak kennis."
As deel van haar prys gaan sy in Mei wynkelders in Frankryk se Bordeaux-streek besoek. Sy beoog om "heerlik idees uit te ruil" en alles te vra wat sy nog altyd wou weet van Bordeaux se styl van wyn maak, klimaat en wingerdboupraktyke.
Maar eers moet sy haar wyn vanjaar beoog sy om Sauvignon blanc, Chenin blanc, Chardonnay, Shiraz, Pinotage, Merlot en Cabernet Sauvignon te maak in die tenks kry.
Dit bly egter vir haar 'n groot hartseer dat Slanghoek wat skaars 'n uur se ry uit Kaapstad is so onbekend is. Daarom gryp sy elke geleentheid aan om wynproeë aan te bied om haar wyn aan mense bekend te stel. Dit was juis weens 'n besige wynproe-program dat sy amper die onderhoud van verlede jaar se kompetisie vir die Vroue-wynmaker van die Jaar misgeloop het.
"Ek was die week van die finale onderhoude in Durban om bemarking te doen en het afsprake vir 'n klomp wynproeë gehad." Sy sê sy kon kwalik net vir 'n onderhoud terug Kaap toe vlieg. "Ek het die middag voordat hulle die wenner aangekondig het, vinnig vir die onderhoud gegaan, so my verwagtinge was maar laag."
Sy sê die onderhoud was "aaklig". Die beoordelaars het moeilike vrae gevra, maar gelukkig praat sy mos so graag. Desondanks dink sy die onderhoud en vrae oor die ontwikkeling van kelderwerkers, die wynmaker se toekomsvisie vir die wynbedryf en haar persoonlike agenda as wynmaker is 'n belangrike deel van die beoordeling.
Vir die kompetisie wou sy net die 2001 Shiraz, haar heel eerste wyn, inskryf. "Wat dit so spesiaal maak, is dat alles met die hand gedoen is van die pluk en ontstingel af tot deurdruk en bottel."
Pa Sakkie en me. Lilandi Terblanche, wat die proelokaal beman, het anders gedink en voorgestel sy skryf haar eksperimentele wit versnitwyn ook in.
Dié versnit van gelyke dele Semillon, Chardonnay en Sauvignon blanc het in ongeëtiketteerde bottels by die beoordelaars aangekom. Dít het sy eers ontdek toe sy tydens die onderhoud besef dat dit háár wyn is wat almal sit en drink. Du Toit is baie trots op haar eerste versnit wat sewe maande in nuwe Franse eikehoutvaatjies verouder is. ''nie een van die kultivars oordonder die wyn nie. Dit het iets van alles: Eers die Sauvignon blanc op die neus, dan proe jy die Semillon, en die Chardonnay is in die nasmaak."
Omdat sy haarself nie as filosofies beskou nie, het sy gedink sy sou lekker vasval by die vrae oor hoe sy haar wynmaakstyl beskryf en hoe die wyne wat sy ingeskryf het, haar styl én boonop die mens agter die wyn weerspieël!
"En die beoordelaars sit net daar met vroom gesigte."
Moenie glo nie. Die uitgelese groep beoordelaars was volgens me. Marilyn Cooper van die Cape Wine Academy beïndruk deur Du Toit se "geesdrif, selfvertroue en haar passie vir Suid-Afrika, asook haar begeerte om 'n bydrae tot die land te lewer." Hulle was aangenaam verras met Du Toit se ongewone gehoute versnit van Sauvignon blanc, Semillon en Chardonnay.
Al was sy in 2003 met 'n Sauvignon blanc van daardie jaar Diner's Club se jong wynmaker van die jaar en al was dié Sauvignon blanc 'n klaswenner op die Suid-Afrikaanse Jongwynskou in 2003 en wenner van 'n dubbele goue Veritastoekenning, en al het haar Chenin blanc, Merlot, Shiraz en Cabernet sauvignon verskeie goue en silwermedaljes in die Michelangelo- en Veritaskompetisies ingepalm, het Du Toit nog groot drome. Maar, sê sy, daar is nog "só baie goed" om te leer. Sy wil eendag 'n wyn maak wat uitverkoop is voor dit nog in die bottel is, soos Steenberg se Sauvignon blanc.
En leer, leer sy, van alle wynmakers in die omgewing van Rawsonville en Slanghoek, maar veral van mnr. Hennie du Preez van Du Preez-landgoed, buite Rawsonville, wat 'n goeie voorbeeld stel met sy eersteklas wyne. Sy laat haar inspireer deur die wyn van mnr. Abrie Bruwer van Springfield, buite Robertson, en wens sy kon meer dikwels wyn van Rust en Vrede bekostig.
Du Toit is duidelik lojaal aan haar streek en voel sterk oor die bevordering van die Breedekloofstreek. "Ons streek is pragtig, maar baie onbekend. Vandat Breedekloof gestig is, is ons almal nou betrokke by die bevordering van die streek. Elke kelder doen ietsie ekstra. Oor die feestyd was ons proelokaal elke dag van die week oop en hier is nou meer gastehuise en restaurante as voorheen."
Sy glo in Slanghoek kan baie goeie Shiraz-wyne gemaak word, goeie Sauvignon blancs ook. Sy is veral bereid om haar geld op Chenin blanc te verwed. Sy sê sy is bly oor alles wat gedoen word om mense van Chenin blanc bewus te maak. "Chenin het baie moontlikhede en ons maak die wyn deesdae baie interessant."
Alle druiwe vir Jason's Hill se wyne kom uit hul eie wingerde. Ná parstyd maak Du Toit haar keuse vir die volgende jaar en van die winter af begin hulle om dié blokke voor te berei. Hulle suier redelik straf om die drag laag, en die wingerdstok in balans, te probeer hou. En beter as dit kan Du Toit nie kry nie: Sy is immers verlede jaar met mnr. Alister Oates, die man wat verantwoordelik is vir Jason's Hill se wingerde, getroud.
Tot dusver werk dit baie goed om soggens langs die wingerdboukundige wakker te word. Trouens, só kort ná Valentynsdag koester Du Toit 'n vreeslike romantiese gedagte; naamlik dat haar man dalk besig is om êrens 'n blokkie wingerd te vertroetel sodat sy 'n baie spesiale wyn daarvan kan maak. ''nou nie dat dít sommer enige vrou se idee van 'n romantiese gebaar is nie," merk sy dan op.
2005 se vrouewynmaker gesoek
Vrouewynmakers kan weer 'n reis na Frankryk se Bordeauxstreek wen in die tweede jaarlikse kompetisie om die Vrouewynmaker van die Jaar aan te wys.
Dié kompetisie, met Landbouweekblad as hoofborg, bring hulde aan vroue se sonderlinge bydrae tot die eeu oue wynmaakkuns en poog om innovering aan te moedig en nuwe benaderings tot wynmaak te bevorder deur gesonde mededinging.
Verlede jaar se wenner, me. Ivy du Toit van Jason's Hill in die Slanghoekvallei, buite Rawsonville, sê die wyne wat sy ingeskryf het, was meer as net wyn. "Dit was 'n kombinasie van harde werk, 'n bietjie innovering en 'n liefde vir wynmaak."
Sy glo vrouewynmakers moet hulle deur niks laat onderkry nie. Hulle moenie bang wees om nuwe dinge op die proef te stel nie. "As wynmaak jou passie is, kan niks jou ontmoedig nie." Vanweë die blootstelling wat die toekenning aan haar en haar kelder gebring het, moedig sy haar vroulike kollegas in kelders landwyd aan om vanjaar deel te neem.
Sy hoop haar welslae kan meer vroulike wynmakers na die Breedekloofstreek trek en sy glo die beste wyn word nog op die ou manier gemaak, want as die basiese dinge reg is, is daar nie veel wat verkeerd kan gaan nie.
Vrouewynmakers is meer bedag op detail. Hul deeglikheid in beplanning en uitvoering gaan deur die hele proses tot by bottelering, was die eenstemmige mening van beoordelaars van verlede jaar se kompetisie. "Geen wyn word gebottel tensy die finale ontledings en aanpassings foutloos en die eindresultaat werklik die beste is wat sy as wynmaker kon doen nie. Noukeurige aandag word ook aan die etikette, kurke en verpakking gegee."
Tot dusver bestaan die beoordelaarspaneel uit mee. Marilyn Cooper, hoof van die Kaapse Wyn-akademie, Caroline Rillema, wynkoper en eienaar van Caroline's Fine Wines in Kaapstad, Janna Rijpma-Meppelink, Nederlandse wynskrywer en beoordelaar, en Norma Ratcliffe, eienaar en wynmaker-konsultant by Warwick-landgoed.
Wynmakers wat aan die kompetisie wil deelneem, hoef vanjaar nie benoem te word nie, maar kan self inskryf. Die inskrywingsgeld is R280 en vier bottels van elke wyn wat ingeskryf word, moet die inskrywing vergesel. Inskrywings sluit op 20 Mei en die wenner sal op Vrydag, 27 Mei, op 'n geselligheid in Kaapstad aangekondig word.
Vir meer inligting en om in te skryf, bel tel. 039 314 9915, stuur e-pos aan lorman@yebo.co.za of besoek die webruimte www.sawinewoman.co.za.
25 Februarie 2005