Maar ook nie te veel nie, want anders besoek hulle nie die bloeisels nie. Navorsing het interessante feite aan die lig gebring.
Swak bestuiwing is 'n belangrike rede vir die swak opbrengs van kersieboorde in Suid-Afrika. Die nuutste navorsing in Suid-Afrika plaas die blaam op lae en hoë temperature toestande wat heuningbye traag maak.
Sodra die kwik laag daal, besoek die bye nie meer die blomme nie. Dieselfde gebeur wanneer dit te warm word.
Dr. Clive Kaiser, senior dosent in tuinbouwetenskap aan die Universiteit van Pretoria, het op 'n kongres van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Tuinbouwetenskappe in Potchefstroom vertel van sy navorsing om vas te stel wat die rede vir swak bestuiwing is. Sy medewerkers was mnr. Anton Schele, dr. Per Kruger en prof. Robin Crewe.
Kersieproduksie in Suid-Afrika is hoofsaaklik in die Oos-Vrystaat, Mpumalanga en die KwaZulu-Natalse Drakensberge gesetel. Die gemiddelde produksie van kersies is net sowat 3,5 ton/ha. In Amerika en Noorweë oes die boere tot 10 ton kersies/ha.
Hy het toe navorsing gedoen om te bepaal hoekom bestuiwing in Suid-Afrika so swak is.
In die Oos-Vrystaat en in Mpumalanga het hy die volgende waargeneem:
Die proewe in die Oos-Vrystaat is in boorde op oopbestuifde kersies in die buitelug gedoen. Daar het Kaiser die eerste waarnemings oor die swak aktiwiteite by 'n lae temperatuur gedoen. Die Malutiberge se kruine was in daardie stadium met sneeu bedek.
Toe hy die proewe op boorde onder haelnette in Mpumalanga opvolg, was die patroon dieselfde en dit het ook aan die lig gekom dat die bye ook by temperature bokant 25 °C lui word. Koel weer het boonop voorgekom net toe die meeste blomme oopgegaan het, wat 'n belangrike rede vir swak bestuiwing was.
Hy het afgelei dat daar ook te min nektar in die blomme kon wees, wat een van die redes kon wees hoekom min bye die blomme besoek het. Die meeste bye het in daardie tyd wilde blomme teen die heuwels verkies. Proewe is toe met byvoeding in die vorm van suiker- en glukose-oplossings gedoen. Dit is daagliks om agtuur en eenuur uitgeplaas.
Die suiker het nie veel aftrek gekry nie, maar baie bye het op die glukose gaan voed. Kaiser het toe opgelet dat, hoewel die bome geblom het, die bestuiwing steeds swak was. Hy het die glukose met die helfte verminder. Daarna het die bestuiwing baie verbeter. Sy gevolgtrekking is dat die bye byvoeding nodig het, maar nie té veel nie, sodat hulle steeds die blomme moet besoek om genoeg voeding te kry.
Die bestuiwing het uiteindelik tot meer as 80 % gestyg. Die feit dat van die bome daarna tot 10 % van die vruggies afgespeen het, word aan ander faktore toegeskryf, soos ongunstige temperature in die stadium toe die vrugte reeds begin groei het.
'n Interessante bevinding was dat korwe nie onder die haelnette geplaas moet word nie. Kaiser sê bye wat uit die korwe onder die nette gekom het, het dadelik na bo gevlieg en deur die gaatjies van die nette gekruip, vermoedelik om in die son te kom. Met hul terugkeer kon hulle nie die korwe vind nie en het gevrek.
In die geval van korwe wat 2 meter tot 5 meter van die kant van die nette (buite die boord) geplaas is, het die bye die blomme onder die haelnette besoek en daarna weer hul pad terug na die korwe gevind.
11 Maart 2005