Vrugteboere kan steeds wins maak. Hulle behoort egter in die toekoms hul visier te rig op uitvoer na China en die Ooste eerder as die tradisionele markte van Europa en Brittanje. Groei in dié lande, asook Amerika, is aan die afplat, waarsku dié kenners.
Sagtevrugteboere besef vandag dat hulle deel geword het van 'n "totale vrugtewêreld". Die wêreld-vrugteprentjie én uitvoersituasie van 'n dekade of twee gelede het drasties verander.
Mnr. Chris Ferrandi, landbou-ekonoom by die maatskappy Frudata SA (Edms) Bpk., wat veral op die sagtevrugtebedryf fokus, sê die afgelope 20 jaar het die produksie van feitlik alle soorte vrugte wêreldwyd met gemiddeld 2,2 % per jaar gegroei - sowat 44 % dus in die laaste twee dekades. Dit het glad nie met die groei in die wêreldbevolking tred gehou nie, want die beskikbaarheid van vrugte per mens het met 21 % in dié tyd gestyg.
Hy het op die Suid-Afrikaanse Plantverbeteringsorganisasie se sagtevrugte-kwekersdag op Stellenbosch gesê die verbruik van appels en pere in Brittanje groei nie. In Duitsland is die verbruik van appels en pere selfs aan die daal. Net in China styg die verbruik.
In Suid-Afrika gebeur dieselfde. Feitlik geen groei in die verbruik van appels en pere per mens vind plaas nie. Die wêreldverbruik van appels en pere is feitlik staties - veral in die lande waarheen Suid-Afrika gewoonlik uitvoer, sê Ferrandi.
In 1998 is 59 miljoen metrieke ton appels wêreldwyd geproduseer. Dit gaan teen 2010 tot meer as 70 miljoen metrieke ton styg, volgens projeksies. China alleen s'n gaan van 18 miljoen metrieke ton tot 28 miljoen metrieke ton in dieselfde tyd styg. Dieselfde groeineiging word vir pere voorsien - veral in China. Ook tafeldruifproduksie groei wêreldwyd - ook in Suid-Afrika weens taamlike aanplantings in die druifproduserende gebiede.
Markneigings het in die laaste dekade of twee ook heeltemal verander. Baie meer mag is vandag in die hande van minder kopers - soos die reuse Britse kleinhandelgroepe Tesco en Asda. Daar is groot mededeling en magspel tussen dié groot groepe. Vroeër was daar in Suid-Afrika een groot uitvoerder met 'n groot aantal oorsese kopers. Dié neiging het nou totaal omgedraai - vandag is daar talle uitvoerders in Suid-Afrika, en enkele groot kopers oorsee. Wat verder taamlik verander het in dié tydperk, is dat staatshulp in Suid-Afrika feitlik verdwyn het, terwyl dit steeds aan die orde van die dag in Amerika en Europa is.
Uitvoervereistes, soos Eurepgap, het intussen geweldig uitgebrei. Vrugtepryse het plaaslik en internasionaal feitlik dieselfde gebly of selfs internasionaal gedaal.
Dit alles het daartoe gelei dat Suid-Afrika se mededeling verswak het. Chili is tans eerste op die internasionale lys van algemene mededingendheid. Suid-Afrika beklee die 13 de plek op daardie lys. Sewe jaar gelede het Suid-Afrika die sewende plek beklee. Dit is dus duidelik dat Suid-Afrika se mededingendheid met lande wat as mededingers beskou word, steeds aan die daal is.
Nou ontstaan die vraag: Is wins nog moontlik in sulke omstandighede?
Beslis, sê Ferrandi. Maar dan moet boere meer aandag aan 'n paar aspekte gee. Uit opnames wat in 2004 in die Hexriviervallei gedoen is, blyk dit dat daar 'n verskil van 'n ongelooflike R75 000 per hektaar voorgekom het tussen die mees winsgewende en die mins winsgewende tafeldruifboer.
Ferrandi sê groter wins lê primêr by beter produksie, vruggroote en uitvoerpersentasie.
Dié drie aspekte is selfs belangriker as kultivarkeuse, hoewel dit natuurlik ook belangrik is. Aan ál drie dié faktore kan boere baie doen om te verbeter. As dié drie aspekte goed bestuur word, is 'n boer se kop reeds in 'n groot mate deur, meen hy.
In die 1970's was dit maklik om 'n uitvoerpersentasie van meer as 50 % vir appels te handhaaf. Vandag sukkel die meeste boere om 'n persentasie van 40 % te haal.
Die grootste rede hiervoor is dat markvereistes baie strenger oorsee geword het ten opsigte van vruggrootte, en dat Suid-Afrikaanse boere sukkel om dit te haal.
Ferrandi meen die toekoms vir plaaslike vrugteboere lê in die Verre-Ooste. Net 6 % van Suid-Afrikaanse tafeldruiwe gaan byvoorbeeld na die Ooste, en hoewel markte moeiliker daar is, is dit nietemin 'n uitdaging om dit te verhoog.
Hy sê dat as boere minder na tradisio-nele (en redelik stagnerende markte) in die Brittanje en Europa uitvoer, en meer na die nuwe groeiende markte van die Ooste, hulle hul wins aansienlik sal kan vergroot.
Sy wenke aan boere is:
Marktoegang en die ontwikkeling van nuwe markte is vir die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf van kardinale belang. Mnr. Jac Laubscher, 'n ekonoom by Sanlam, sê sowat 60 % van Suid-Afrika se sagtevrugte word uitgevoer. Die syfer wissel tussen vrugsoorte: Só word byvoorbeeld sowat 85 % van die tafeldruifoes uitgevoer, maar net sowat 2 % van die perske-oes.
Omdat so 'n groot persentasie van die plaaslike vrugte-oes vir die buitelandse markte bestem is, kan verwag word dat internasionale ekonomiese neigings 'n invloed op die bedryf in Suid-Afrika sal hê.
As gekyk word na die ekonomiese neigings in lande waarheen Suid-Afrikaanse vrugte uitgevoer word, blyk die volgende:
Laubscher meen die rand se verstewiging van die laaste jaar of twee nader nou sy einde, en wat met dié geldeenheid in die volgende jaar gaan gebeur, hang nou saam met die vertoning van die Amerikaanse dollar. Die groot laagtepunt wat die rand in 2001 beleef het, was abnormaal en steeds onverklaarbaar.
'n Groot fout wat baie uitvoerondernemings - waaronder vrugte-uitvoerders - egter gemaak het, was om hul sakeplanne op die destydse uiters swak rand te baseer.
Vandaar die probleme waarmee baie van dié instansies te kampe het sedert die rand se versterking. Wat uitvoervrugte betref, het Chili die afgelope 15 maande 'n voordeel bo Suid-Afrika geniet weens sy wisselkoersvoordeel. Dit het van Chili 'n gedugte mededinger gemaak - selfs op markte waar hy tradisioneel nie so sterk was nie.
Die Amerikaanse dollar is al die laaste twee jaar besig om te verswak en staan omtrent waar dit in die middel 1980's was, maar Laubscher meen dié verswakking nader ook nou sy einde.
Die rand se bykans dramatiese verstewiging kan volgens hom toegeskryf word aan internasionale kapitaal wat die land binnevloei omdat die land in die laaste jare as 'n beleggingspunt met 'n lae risiko gesien word.
Dié invloei kan nou ietwat gestuit word deur die verhoging van rentekoerse in Amerika en Europa. Laubscher sê die rand sal waarskynlik oor 'n jaar swakker wees as nou.
"Daar is beslis 'n groter waarskynlikheid dat die rand dan swakker sal wees as nou as wat die waarskynlikheid bestaan dat die rand sterker sal wees as nou," meen hy.
Verbruikersbesteding in Suid-Afrika het sterk gestyg weens die laer rentekoerse, beter salarisverhogings en 'n toename in indiensneming.
Rentekoerse is die laagste in 25 jaar, en die algemene verwagting is dat dit nog 'n redelike tyd só sal bly.
Ekonomiese groei is op 'n hoogtepunt, maar dit sal waarskynlik van nou af begin afplat. Inflasie het reeds begin styg weens veral die kwaai styging van prandstofpryse. Kostedruk is nietemin steeds in bedwang, sê Laubscher.
13 Mei 2005