Ses nuwe Fuji-appelklone, vier peerkultivars en 'n onderstok wat spesiaal vir Fuji's geselekteer is, is pas uit China na Suid-Afrika gebring. En dit is nog net die begin, want 'n ooreenkoms - die eerste in sy soort - tussen China en 'n bekende uitvoermaatskappy het waarskynlik die deur geopen vir die verkryging van ander varsproduktekultivars, selfs groente.
Die appelkultivar Fuji is geen onbekende in Suid-Afrika nie. Die eerstes daarvan is reeds in die laat 1980's in Suid-Afrika geplant, naamlik die standaard-Fuji, asook die klone Afiku en Irradiated. Intussen is meer as 15 ander Fujiklone in die land gevestig, waaronder Raku-Raku waaroor volledig in Landbouweekblad van 21 Januarie vanjaar berig is.
Volgens mnr. Buks Nel, wat verantwoordelik is vir nuwe kultivars by die vrugte-uitvoerder Tru-Cape in Somerset-Wes, en mnr. Henk Griessel, dié onderneming se tegniese bestuurder, was die Fujiklone wat oorspronklik plaaslik geplant is se smaak uit die staanspoor uitstekend. Hul swak verkleuring was die probleem. Daarom is daar in die laaste paar jaar gereeld nuwe klone na die land gebring in 'n poging om deur seleksie die kleur te verbeter.
Nel sê die oorspronklike Fujikultivar is in 1939 in Japan geselekteer uit Ralls Jenette en Red Delicious en is vandaar na onder meer China versprei. Vandag is Fuji een van die grootste appelkultivars ter wêreld met waarskynlik meer as 'n honderd verskillende klone. Die wêreld se grootste produsent daarvan is China.
Griessel sê die rooi vrugkleur was maar skraps in die eerste Fuji's wat in Suid-Afrika gevestig is. Selfs met heelwat koue net voor pluktyd het die eerste klone se vrugte taamlik beperk verkleur. In jare wat dit nie baie koud was in die winter nie was die uitpakpersentasies van klas een-vrugte redelik swak. Die latere klone wat ingebring is, was reeds 'n groot verbetering op die eerstes, maar nog nie die ideaal nie.
Nou is nog ses nuwe klone uit China gebring. Nel het hulle self by die Shaanxi-provinsiale vrugte-administrasieburo gaan uitsoek met die samewerking van die Chinese telers. Hierdie klone is uitsluitlik gekies vir hul beter kleur en met Suid-Afrikaanse toestande in gedagte.
Die ses nuwe Fuji's is Hong Qian, Chang Fu 2, Qing Sen Short, Wang Fu, Shou Fu en Huang Fuji. In dié stadium word hulle in kwarantyn gehou, tesame met vier nuwe Chinese peerkultivars en een onderstam wat spesiaal vir Fuji in China ontwikkel is.
Wanneer hulle aanstaande jaar ná 'n tydperk van twee jaar uit kwarantyn kom, sal hulle na die Suid-Afrikaanse Plantverbeteringsorganisasie (Sapo) gaan. Daar sal hulle vermeerder word. Proefbome sal teen 2007 geplant word op plase van boere wat vrugte aan Tru-Cape lewer. Teen 2010 behoort hulle kommersieel beskikbaar te wees. Die maatskappy sal egter alle tan-tièmeregte op die bome behou, sê Nel.
Griessel sê die nuwe klone behoort 'n baie gunstige impak op Fuji se uitpakpersentasie te hê, want hul kleur behoort aansienlik beter te wees. Die gesegde "hoe rooier, hoe mooier" is beslis van toepassing op Fuji. Graderingsklassifikasies vir Fuji word op die persentasie blos gegrond. Waar die ouer Fujiklone op hul beste maar sowat 50 % rooi aan die skil kon kry, sal die nuwe klone na verwagting 'n blos van tussen 70 % en 100 % hê.
Vrugte wat tussen 70 % en 100 % rooi het, behaal tot 20 % hoër pryse op internasionale markte. Dit is dus die moeite werd om daarna te streef, veral as in ag geneem word dat dit met dieselfde insetkoste as swakker vrugte behaal kan word, sê Griessel.
Wat die nuwe Chinese pere betref, is een van die vier kultivars goudkleurig en die ander drie groen van kleur. Golden Li, Chinese Jade Li, Ya Li en Crystal Li se doel is om Chinese tipe peerkultivars in Suid-Afrika te vestig, aangesien feitlik alle peerkultivars in Suid-Afrika hul oorsprong in Europa gehad het. Terloops, Li beteken peer in Chinees.
Griessel sê marknavorsing het getoon dat daar 'n vraag na Chinese tipe pere in Suid-Afrika - met sy redelik groot Chinese bevolking - bestaan. Die Chinese pere is nie koeëlrond nie, maar meer ovaal-rond. Dit is besonder soet en het ferm vleis. In China word dit ook ingemaak en gedroog.
Die peerkultivars is ook in hierdie stadium in kwarantyn en sal daarna dieselfde pad as die Fujiklone volg.
Hy reken ná die onlangse ooreenkoms wat die maatskappy met China gesluit het, is dit waarskynlik dat meer appel- en peerkultivars uit daardie land na Suid-Afrika gebring sal word. Maar dit sal waarskynlik nie daar eindig nie. Daar is heelwat ander vars produkte, insluitend groente, wat mettertyd na Suid-Afrika gebring kan word. Tru-Cape het ook 'n noue verbintenis met die Heibei-akademie vir tuinbouwetenskappe in China.
'n Onderstam wat spesiaal vir Fuji-appels geselekteer is, is ook reeds van China af na Suid-Afrika gebring. Daar is ander soortgelyke onderstamme waarin die maatskappy belang stel. Van dié stamme sal heel waarskynlik in die toekoms na die land gebring word, sê Nel.
Benewens die Chinese vrugte het Tru-Cape ook 'n kontrak gesluit met Infruitec-Nietvoorbij, die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn in Stellenbosch, vir die semi-kommersiële bemarking van die plaaslik geteelde appelkultivars Elegant en Autumn Blush. Die kontrak vir Elegant is ses jaar en vir Autumn Blush agt jaar. 'n Grootskaalse promosieveldtog is onlangs van stapel gestuur in sekere kettingwinkels in Kaapstad, Somerset-Wes en Stellenbosch.
Nog 'n mylpaal waarna uitgesien word, is die vestiging van die eerste toetsblokke van 'n nuwe plaaslik geteelde rooiblos-peerkultivar, in hierdie stadium nog net bekend as DN3D-13-34. Die vrugte van hierdie kultivar is teen ongeveer die derde week van Januarie oesgereed. Dié peer is ook deur Infruitec-Nietvoorbij geteel en lyk in hierdie stadium na 'n wenner, sê Griessel.
16 September 2005