Landbou
Lae pryse, koste laat inmaakboere spartel
JOHAN COETSEE (jcoetsee@landbou.com)

Kan inmaakvrugte-produsente nog enigsins finansieel oorleef in die huidige situasie? 'n Hoofbestuurder in dié bedryf sê nee.

Inmaakvrugteboere kan nie ekonomies oorleef nie, sê mnr. Wiehahn Victor, hoofbestuurder van die Inmaakvrugte-produsentevereniging (IPV). Vrugtepryse is te laag, produksiekoste is te hoog, en produksie per hektaar is te laag. As iets daaraan gedoen kan word, is daar egter hoop.

Die gemiddelde vrugtepryse wat deur die bedryf aan produsente betaal word, toon sedert 2001 'n aaneenlopende afwaartse neiging. Die meeste boere kan kort dalings ekonomies oorleef, maar 'n konstante daling oor 'n tydperk van bykans ses jaar is besig om baie op hul knieë te dwing.

In die 2001/02-seisoen is onderskeidelik R1 192 per ton vir appelkose betaal, R1 675 vir perskes en R1 335 vir Bon Chretien-pere. Dié bedrae het gedaal tot onderskeidelik R1 055, R1 258 en R979 per ton vir die verskillende vrugsoorte in die 2004/05-seisoen. Vir die huidige seisoen sal pryse volgens aanduidings nóg laer wees, sê hy.

Ook die aantal hektaar onder sagtevrugtebome daal, behalwe in die geval van vroeë Bon Chretien-pere. In 2002 was daar 2 397 ha onder Bulida-appelkose. Vandag is dié syfer na raming 2 158 ha. Die aantal hektaar waarop Bon Chretien-pere verbou word, het drasties gedaal: Van 3 247 ha in 2002 tot 2 195 ha vanjaar. Die aantal hektaar waarop taapitperskes verbou word, het kwaai gedaal - van 8 150 ha in 2002 tot 'n geraamde 6 965 ha vanjaar.

Vroeë Bon Chretien-pere - wat hoofsaaklik vir die varsmark geproduseer word - is egter op meer hektaar geplant, naamlik 'n geraamde 1 000 ha vergeleke met 649 ha in 2002.

Victor het scenario' opgestel om die bruto marges op 'n appelkoos- en 'n perske-aanplanting in die Klein-Karoo uit te wys, asook 'n perske-aaplanting by Ceres, en 'n algemene peer-aanplantingscenario in die Wes-Kaap.

Uit dié scenario' kan duidelik gesien word dat min inmaakvrugteprodusente teen 'n wins kan boer - veral as depresiasie in ag geneem word, sê Victor.

Wat kan gedoen word? Hy meen daar is drie moontlike planne van aksie:

Verbeter vrugteprys
Hieraan kan boere self taamlik min doen. Die wisselkoers het sy fluktuasies. Onderhandelinge oor formele markontwikkeling in Afrika en oorsee (byvoorbeeld China) moet grootliks eers deur die Regering gedoen word. Oorsese subsidies is ook 'n knelpunt waarop die Regering volgehoue druk moet uitoefen. Verder moet aangepas word by 'n ál meer gesondheidsbewuste verbruiker se behoeftes. Daar moet ook na nuwe soorte verpakkings - na gelang van die vraag daarna - gekyk word.

Die boer kan wél iets aan die gehalte van die vrugte doen, maar beter pryse moet vir produkte van gehalte betaal word. "Ons verbou Rolls Royce-modelle, maar kry Volkswagen-pryse daarvoor," meen Victor.

Verder moet deurentyd na kostebesparings gekyk word, en vakunies se samewerking moet hier verkry word. Inmaak-fabrieke behoort weer na hul formules te kyk om regverdige pryse in te stel wat die boere ook 'n beter kans op oorlewing bied.

Verlaag produksiekoste
Vrugteboere moet hul bestuur opknap, want geeneen kan dit vandag bekostig om R5 000/ha te verloor nie - iets wat nog dikwels die geval is, meen hy. Boere moet hul produksiekoste baie akkuraat bepaal en elke produsent sal sy eie somme deeglik moet maak. Besluite sonder goeie inligting is lewensgevaarlik.

Regulasies en wetgewing dwing koste op die plaas hoër, en is iets wat baie deeglik en versigtig bestuur moet word.

Oesskattings - veral ten opsigte van perskes - was in die verlede dikwels baie swak. Dit sal verbeter moet word sodat minder vrugte ingekoop moet word vir verwerking - wat koste opjaag. Boere moet besef dat hulle kontrakte het wat eerbiedig moet word as dit by lewering aan fabrieke kom, sê Victor.

Verhoog produksie per hektaar
Dít is waar produsente wél iets kan doen, sê hy. Dit is nodig dat tegniese bestuur opgeknap word en dat boere ook by mekaar moet leer. Té veel onproduktiewe boorde staan nog op plase. Vervang onproduktiewe boorde, want daar kan nie meer oorleef word op 20 ton/ha nie. Ook kultivars waarvan die tyd verby is, moet vervang word met nuwes waarna die vraag hoog is.

Wat navorsing en ontwikkeling betref, meen Victor dat nuwe, beter aangepaste kultivars voortdurend in die bedryf nodig is, want dit is noodsaaklik om die bedryf te laat tred hou met voorkeure ten opsigte van smaak en voorkoms. Daar word wél nuwe kultivars beplan. Suid-Afrikaanse sagtevrugteprodusente is dikwels nie op die hoogte met die wêreldproduksie van ton per hektaar nie. Dit kan net deur goeie tegniese bestuur, navorsing en ontwikkeling te bowe gekom word. Voorts moet graderingsregulasies aandag kry.

Victor doen 'n beroep op boere om optimisties te wees oor hul bedryf ondanks die probleme. Dit sal help om sukses te behaal, asook om die beeld van die bedryf in die algemeen te verbeter.

25 Augustus 2006