Die vrugbare Aan De Doornsstreek naby Worcester kan reeds spog dat dit die seisoen se eerste waatlemoene en pruime lewer. Dié lysie sal een van die dae langer raak as die Griessel-gesin se uie "ultra-vroeg" markgereed is.
Hoewel mnr. Heinie Griessel en sy seuns,Handré, Driaan en Tertius, reeds hul uie op 'n gunstige tyd kan lewer (vroeg in Desember), kan hulle vanjaar, danksy 'n nuwe kultivar wat spesiaal vir die warmer streke gekweek is, nóg vroeër die mark tref. Dit behoort aan hulle 'n aangename premie te verskaf.
Volgens Heinie het hulle om twee redes besluit om uie as 'n bedryfsvertakking tot hul wyndruifboerdery te voeg.
"Ek het drie seuns en ál drie wou boer. Nege jaar gelede, toe die wynbedryf op 'n laagtepunt was, moes ek dus grond bykoop. Ons het besluit om met 'n kontantgewas te boer omdat dit vinnige kapitaal verseker. Ons het ook oor die skure, die water en 'n spilpunt beskik.
"Toe gebeur daar nog 'n ding met die wynbedryf - die koms van meganisering. Ons het 'n groot arbeidsmag gehad en moes hulle op 'n ander manier gebruik, anders sou hulle honger ly."
Heinie sê die uie word elf keer in die produksieproses gehanteer en is dus ideaal om werk te skep. Die plantjies (650 000 tot 700 000 per hektaar)wordmet die hand geplant, so dit is 'n arbeidsintensiewe gewas wat die nodige werk in stil maande verskaf."
Hier is families wat al jare lank by ons werk en 'n mens raak geheg aan hulle. Ons kan nie hul werk met masjiene afvat nie. Hulle sal ten gronde gaan. Dit is teen ons beginsels," sê Handré.
Die uie skep sowat vier maande van die jaar bykomende werk vir die plaaswerkers. Saam met die wingerd, perskes en appelkose kan die Griessels tien maande van die jaar werk verskaf.
Hul Kaapse bruinuie is reeds elke jaar eerste op die mark. Daarvoor verdien hulle 50c tot R1 meer per sakkie van 10 kg. Dié premie is darem nie net weens die tyd van lewering nie ? die uie se gehalte en netjiese verpakking is ook legendaries.
Verlede seisoen se uie het 'n besonder lang raklewe gehad, sonder verkoeling en chemiese behandeling.
Een van die land se grootste uieboere het reeds by die Griessels kom kers opsteek oor hul netjiese verpakking, wat dadelik die oog vang en op die mark seëvier. Hulle hou egter hul kaarte styf teen die bors.
Die Griessels het hul eie pakmasjiene, kratte en vurkhysers. Al die infrastruktuur is op die plaas en hulle kan die waardeketting self voltooi.
" Die uie word in spesiale, swaargeweefde, donkerrooi sakkies verpak. Dit is sterker en lyk netjieser," sê Handré.
Afgesien van die estetiesewaarde, is die verpakking ook funksioneel. Hulle het "uitstekende uitvoerkontrakte" na Namibië en Angola. 'n Groot deel van die oes moet dus minstens 2 000 km aflê voor dit die afsetpunt bereik. Daarom is dit belangrik dat die verpakking die groente beskerm.
Hulle plant sowat 30 hektaar uie, waarvan 35 ton tot 40 ton uie per hektaar geoes word. Verlede jaar het hulle tot 55 ton per hektaar opgetrek. Dit was op 'n plaas met rooi, kalkryke grond en wat gewoonlik ook vir die vroegste uie in die boerdery sorg.
Handré sê hulle plant twee kultivars. Die vroeë kultivar is Radium, terwyl Caledon Globe later geplant word. Radium is veral geskik vir die Angolese mark.
"Angola wil nie groot uie hê nie. Hulle soek net klein en klein tot mediumgroot uie. Dié uie is kliphard, bruin en sowat 35mm in deursnee."
Planttyd is van Julie tot vroeg Augustus. Hulle bemes met 'n kombinasie van chemiese kunsmis en organiese hoendermis-pilletjies.
In hierdie tradisionele wyngebied,waar hulle omtrent die enigste boere is wat uie produseer, het hulle soms las van blaaspootjie, donsskimmel (as mistige weer en hoë humiditeit ervaar word) en uievlieg. Vroeë roes en laatroes word gemonitor.
"Ons probeer om so organies moontlik te boer. Aangesien ons in 'n droë deel geleë is, is ons spuitkoste baie laag."
'n Nuwe era vir die Griessels se uie het onlangs aangebreek toe Handré deur saadbestellings met mnre. Pierre Maritz en Lourens Ferreira van die maatskappy Klein Karoo Saad in aanraking gekom het.
"Hulle het verskillende daglengte-uie ontwikkel en vir my produkte aanbeveel wat beter as Radium en Caledon Globe gaan vaar," sê Handré.
Hy het die eerste Espresso-saad en nog 'n kultivar, waarvan die naam nog teruggehou word (lees hieronder "Nuwe kultivars laat die oë blink"), in dieWes-Kaap geplant en sake lyk belowend. "Dit is uie wat spesiaal vir die warmer gebiede geteel is. Hul houvermoë sonder verkoeling is vier tot ses maande."
Handré en Ferreira, 'n landboukundige betrokke by uie-ontwikkeling,werk nou saam om die plantjies se vordering te monitor.
"Die wesenlike verskil gaan eers teen oestyd intree. Die uie behoort drie tot vier weke vroeër as gewoonlik markgereed te wees. Aangesien dit vroeër gereed is, het ons nie opbergingskoste nie en kan ons dit plant om 'n spesifieke leemte in die mark te vul."
Hierdie faktore is alles bydraend tot gesonde syfers op die boeke.
Volgens Handré is dit 'n uitdaging om'n kultivar te vind wat die regte produksie en kleur gee. Hy verkies 'n harde ui met 'n bruin skil.
Tans is hul optrektyd die laaste week van November of die eerste week van Desember. Die laat kultivar word ongeveer 'n week voor Kersfees geoes. Hulle hoop die nuwe kultivar kan reeds in die eerste week van November opgetrek word.
"Ons mikpunt is om 'n ultra-vroeë kultivar te ontwikkel," sê Handré.
Nuwe kultivars laat die oë blink
Die twee vroeë kultivars wat geteel is vir die warmer klimaatsgebiede, Espresso en 0006/2,
word albei eksklusief deur Gellman's Seeds gekweek en versprei.
Mnr. Lourens Ferreira van Klein Karoo Saad (moedermaatskappy van Gellman's Seed) is betrokke by produkontwikkeling op Riviera, die plaas van Heinie Griessel en Seuns van Aan De Doorns, Worcester.
Ferreira sê Espresso is 'n vroeë kultivar wat 'n ronde tot bolvormige, mediumgroot uie vir die vars mark lewer. Die skil het 'n diep strooikleur en die vlees is wit, met 'n skerp smaak. Espresso-uie se houvermoë is taamlik goed tot goed.
Om die mediumgroot knolle te verseker, word aanbeveel dat die boer nie meer as 700 000 plantjies per hektaar plant nie. Die kultivar is teen die meeste uiesiektes bestand. Die ander kultivar, nog net bekend as 0006/2 omdat dit nog nie geregistreer nie, is ook geskik vir die vars mark. Dit bereik vroeg (op 190 tot 200 dae) volwassenheid.
Die knol se vorm herinner aan dié van 'n tol. Die skil is bruiner as Espresso s'n, maar die vlees is ook spierwit.
Hierdie kultivar is ook teen die algemene siektes bestand. 'n Plantdigtheid van 700 000 tot 750 000 plantjies per hektaar word aanbeveel.
Landbouweekblad, 11 Januarie 2008